‘N LIED VAN OORWINNING

David Wilkerson

Geliefde, ons het ‘n teer, liefdevolle Vader wat medelye het met ons swakhede. Selfs Jesus het in sy lydensuur geween; Hy ken jou pyn eerstehands en Hy het sy Heilige Gees gestuur om ons te vertroos met hoop en vrede wat tot ons siele spreek.

Dit is interessant dat die wêreld na ons kyk wanneer ons uitdagings beleef, en van ons verwag om ‘n lied te midde van ons moeilikste tye te sing. Ons sien ‘n voorbeeld hiervan in die Woord.

“By die riviere van Babel, daar het ons gesit, ook geween as ons aan Sion dink. Aan die wilgerbome wat daarin is, het ons ons siters opgehang. Want daar het hulle wat ons as gevangenes weggevoer het, van ons die woorde van ‘n lied gevra en hulle wat ons verdruk het, vreugde, deur te sê: Sing vir ons ‘n Sionslied. Hoe sou ons die lied van die HERE kan sing in ‘n vreemde land? (Psalm 137:1-4).

Hierdie Psalm beskryf Israel se gevangenskap deur die Babiloniërs toe God se volk alles verloor het, insluitende hulle tuisland. Nogtans wou hulle ontvoerders die liedere van oorwinning hoor waarvoor die Israeliete bekend was. “Sing vir ons! Ons het gehoor van die groot oorwinningsliedere wat julle vir God sing, so sing dit vir ons!” Ek glo nie hierdie vereiste was slegs spottenderwys gemaak nie; die Babiloniërs het opreg gesmag daarna om ‘n getuienis te hoor. Hulle eie geloof het hulle leeg, droog en hopeloos gelaat.

Net so smag die wêreld vandag na ‘n oorwinningslied van God se kinders. Wat hulle regtig wil weet is die volgende, “Hoe gaan jy in hierdie huidige krisis reageer? Ons het gehoor dat jou God getrou en almagtig is. So, gaan jy jou God vertrou in tye soos hierdie? Was jou liedere van verlossing bloot ‘n kinderfantasie? Of bly jou geloof staande wanneer daar moeilike tye kom?”

Ons samelewing is desperaat om hoop en vrede te vind in hierdie moeilike dae. Hulle smag daarna om die waarheid van Jesaja 26:3 te ken: “U sal ‘n standvastige gesindheid in volle vrede bewaar, want hulle vertrou op U.” En hulle kyk na God se kinders vir ‘n getuienis.