‘N LEWE WAT SATAN NIE KAN VERNIETIG NIE!

David Wilkerson (1931-2011)

Terwyl Jesus stil in die graf gelê het ná sy kruisiging, het Satan en sy hordes gespog. Hulle het gedink hulle het ‘n onomkeerbare oorwinning behaal, maar in die tussentyd was God besig om sy voorafbepaalde plan in werking te stel – ‘n plan vir die opstandingslewe!

Die Here het sy Heilige Gees afgestuur tot in die buik van die hel en daar het die Gees Jesus se liggaam verkwik en Hom uit die dood opgewek. Toe het ons geseënde Verlosser uit die graf opgestaan, dwarsdeur die dik klip. En Hy het daar uitgekom met hierdie getuienis:

“Ek is...die lewende; en Ek was dood en kyk, Ek leef tot in alle ewigheid. Amen. En Ek het die sleutels van die doderyk en die dood” (Openbaring 1:17,18). Christus sê hier in wese, “Ek is die Een wat die ewige lewe het! Ek was dood, maar kyk, Ek lewe, nou en vir ewig. Ek hou die sleutels van lewe en dood in my hande!”

Die oomblik toe Jesus uit die dood se gevangenis uitgestap het, het Hy die opstanding en die lewe geword, nie net vir Homself nie, maar vir almal wat in Hom sou glo van daardie dag af en verder aan. Hy het vir ons ‘n opstandingslewe, wat buite bereik van die mag van die dood was, voortgebring!

As gevolg hiervan, was daar nie meer enige rede vir ‘n Christen om die dood te vrees of om dit as ‘n vyand te sien nie. Ons Here het dit heeltemal oorwin: “Hom het God opgewek, nadat Hy die smarte van die dood ontbind het” (Handelinge 2:24).

As jy Jesus as jou Verlosser en Here ontvang het, dan woon Hy in jou as ‘n magtige krag van die opstandingslewe. En dieselfde opstandingskrag wat Hom uit die graf laat opstaan het, sal jou ook onderhou. “Of is julle nie seker van julself dat Jesus Christus in julle is nie” (2 Korinthiërs 13:5). Jy het binne-in jou wese alles wat in Christus is, ‘n magtige lewenskrag wat Satan nie kan vernietig nie!