‘N LES VAN DIE VYEBOOM

David Wilkerson (1931-2011)

In die laaste dae van sy bediening, het Jesus tyd saam met sy dissipels deurgebring en hulle voorberei om die pilare van sy toekomstige kerk te word. Hulle was steeds “stadig om te glo,” manne met min geloof, en Jesus het hulle soms bestraf vir ongeloof. Hy het gesien daar was ‘n struikelblok in hulle harte wat verwyder moes word of hulle sou nooit kom in die openbaring wat nodig was om die kerk te lei nie.

Terwyl hulle verby ‘n vyeboom sonder vrugte geloop het, het Jesus dit vervloek: “Laat niemand ooit in der ewigheid van jou ’n vrug eet nie! En sy dissipels het dit gehoor” (Markus 11:14). Later, toe die groep ‘n tweede keer by die vyeboom verbygeloop het, het Petrus uitgewys, “Rabbi, kyk, die vyeboom wat U vervloek het, is verdroog” (11:21). Jesus het Petrus ‘n verstommende antwoord gegee. Eintlik, sonder om ‘n werklike antwoord te gee, het Hy bloot gesê, “Julle moet geloof in God hê” (11:22).

Hierdie uitgedroogte boom was ‘n geïllustreerde preek deur Christus. Wat het dit beteken? Dit het gedui op God se verwerping van die ou godsdienstige stelsel van werke in Israel wat alles daaroor gehandel het om saligheid en God se guns met menslike poging en eiewil te verdien.

Iets nuuts was op die punt om gebore te word in Israel: ‘n kerk waarin saligheid en die ewige lewe sou kom deur geloof alleen; trouens, om daagliks met die Here te wandel, sou ‘n saak van geloof wees. Tot op hierdie punt, het God se kinders niks van lewe deur geloof geweet nie. Hulle godsdiens het alles gegaan oor werke en die onderhou van ‘n uitgebreide stel reëls. Nou het Jesus gesê, “Daardie ou stelsel is verby en ‘n nuwe dag breek aan.” Die kerk van geloof was gebore en Christus se dissipels was besig om opgelei te word vir leierskap.

In die gedeelte oor die vyeboom, het Jesus verwys na ‘n berg sonder naam: “Want, voorwaar Ek sê vir julle dat elkeen wat vir hierdie berg sê: Hef jou op en werp jou in die see — en nie in sy hart twyfel nie, maar glo dat wat hy sê, sal gebeur — hy sal verkry net wat hy sê” (11:23).

Jou berg mag dalk ‘n boesemsonde, siekte, vrees, moedeloosheid wees. Jesus sê vir jou, “Ongeloof is soos ‘n belemmerende berg in jou hart, maar Ek wil die ontmoontlike in jou lewe doen. Vertrou my net.”