‘n Komplot van Onderbrekings!

David Wilkerson

Die afgelope paar jaar was daar baie gepraat oor groot komplotte – planne doelbewus daarop gerig om beide die demokrasie in Amerika en Christenskap te vernietig. Hierdie uitgeslape planne sluit in die Trilaterale Kommissie, Kommunisme, die New Age beweging, Sekulêre Humanisme, die Illuminati en kultusse. Ek glo egter nie een van hierdie komplotte het nog ooit die hart van God gekwel nie. Met net een klein blasie van sy goddelik asem, kan Hy hulle almal die vergetelheid inblaas!

Daar is net een komplot wat ons hemelse Vader kwel – ‘n plan direk gemik op Christene wat hulle harte daarop ingestel het om die volheid van Christus te betree. Dit is ‘n sataniese komplot bedoel om God se plan te verydel om ‘n leër van geheiligde mense op te rig – mans en vroue wat heeltemal toegewyd is aan die Heerskappy van Jesus in hulle lewens!

Vandag is daar buite beheer – ‘n komplot van onderbrekings!

Die duiwel is in werklikheid vreesbevange vir Christene wat honger en dors na geregtigheid. Hy vrees biddende heiliges inderdaad meer as wat hy ‘n duisend jaar in boeie vrees!

Die hele hel sidder en bewe oor die vurige gebed van een enkele gelowige. En elke demoniese owerheid wat sit in die hoë plekke sidder wanneer hulle die roepstemme van ‘n wenende, gebroke kind van God hoor. Die kragtige gebed van net een voorbidder klink soos siedende donderweer in die spelonke van die veroordeeldes. En daar is nie een duim spasie in die hel wat nie geaffekteer word deur ‘n gelowige wat homself verloën, sy kruis opneem en Christus met sy hele hart volg nie.

Ons moet egter bewus wees: Die siel wat met pynlike smagtings uitroep na diepte in Christus, sal die sentrale fokus van Satan se komplot van onderbrekings wees!

‘n Pastoor van Arkansas het eenkeer vir my geskryf en gesê, “Ek moet soos baie ander bedienaars wees. My grootste stryd is nie met een of ander boesemsonde van die vlees nie – maar om ‘n konsekwente gebedslewe en die bestudering van God se woord te handhaaf!

“Satan versoek my selde met seksuele sonde. Maar hy het een ding gekry wat keer op keer effektief is teen my. Hy kry my so besig met die alledaagse sake van die lewe dat my gebedstyd en studeertyd uitgedruk word.

“Ek laat dit nie met opset toe nie. Ek hernu in werklikheid telkens my pogings om by my binnekamer uit te kom. Maar gou word ek vasgevang in allerhande soorte projekte en onderbrekings. En hierdie siklus word oor en oor herhaal. Satan beroof my van my tyd met God! Miskien kan jy ‘n boodskap skryf oor hierdie probleem, wat ons almal beleef...”

Soos miljoene ander opregte Christene, is hierdie dierbare herder die slagoffer van ‘n demoniese komplot van onderbrekings. En die duiwel se belangrikste teiken in hierdie aanvalle is die geheime binnekamer van gebed! Hy weet dit is die deur na die allerheiligste – die arsenaal waaruit Christene kom ten volle geklee in oorlogswapenrusting, gereed om al Satan se vurige pyle te weerstaan.

So, hoe hou die duiwel gelowiges uit hierdie skrikaanjaende, geheime binnekamer van gebed? Paradeer hy erotiese beelde deur hulle gedagtes? Versoek hy hulle met vertroostende gedagtes van ontvlugting deur alkohol en dwelms? Lok hy hulle met drome van roem en voorspoed?

Nee, nooit! Die duiwel weet dat die persoon wat een is met Christus, nie versoek sal word deur enige sulke vulgariteit nie. En, in der waarheid is dit nie vir hom nodig om hierdie opsigtelike versoekings te gebruik om sy werk te doen nie. In plaas daarvan, probeer die ou jakkals elke poging van ‘n gelowige om in die teenwoordigheid van God in te kom, te onderbreek. Hy gebruik elke plan in die hel om daardie Christen se pogings om tyd in gebed en in die bestudering van God se woord deur te bring, te onderbreek.

Laat my jou vertel van my ervaring met hierdie komplot!

Ek belowe myself dikwels dat ek die hele dag in gebed en Bybelstudie sal deurbring – maar verniet. Op daardie geleenthede, sal ek my vrou of sekretaresse opdrag gee, “Laat niemand – niks – my steur nie. Hierdie dag behoort aan die Here. Ek gee nie om of dit die President van die Verenigde State is wat bel nie. Ek mag nie gesteur word nie!”

Natuurlik is dit nooit die President wat skakel nie. In plaas daarvan is dit ‘n tiener wat sê sy is op die punt om selfmoord te pleeg. Wanneer dit gebeur, antwoord ek met graagte die foon. Maar binne ‘n paar minute van gesels met die jong meisie, onderskei ek dat sy glad nie wanhopig is nie. Sy wil egter teenoor haar vriende spog dat sy met my gepraat het.

As ek die foon neersit, is daar ‘n klop aan my deur – en daar stap ‘n besoeker van oorsee in wat my vir net tien minute wil spreek. ‘n Uur en ‘n half later, sê my sekretaresse vir my dat ander belangrike oproepe vir my wag. Voor ek my kon kry, het verskeie ure verbygevlieg en dit is nou laat middag. Ek is getref met ‘n plaag van onderbrekings. Ek besef die dag is verby - en my Meester is beroof van my beste tyd!

Moet my asseblief nie verkeerd verstaan nie. Ek wil beskikbaar wees vir mense. Maar ek kan nie die ontsettende trek wat ek voel op my hart deur die Heilige Gees ignoreer nie – iets wat my daarna laat verlang om na my binnekamer te gaan en weg te kruip in Christus se kosbare boesem!

Die duiwel se komplot van onderbrekings in my lewe is die ergste wanneer ek vasbeslote is om alleen met die Here te wees. Onlangs, nadat ek ‘n groot besluit geneem het dat niks my sou keer om ‘n dag van gebed te hê nie, was ek weer skielik oorstroom met onverwagte onderbrekings. Dit was so oorweldigend – en so duidelik – dat ek hardop uitgeroep het, “Dit is bonatuurlike inmenging! Die duiwel self is agter hierdie onderbrekings. Hy sweer saam om my weg te hou van my Geliefde!”

Van daardie dag af, het ek meer bewus geword van Satan se subtiele planne om my te hinder in my gebed en studeertyd. Natuurlik is die onderbrekings opsigself nie intrinsiek boos nie – maar die krag agter hulle tydsberekening is dikwels wel. Dink daaraan: As Satan ‘n aartsengel wat op pad is om sy boodskap aan Daniël te neem, kan vertraag, kan hy ook ons besoekers en foonoproepe vertraag – net lank genoeg om saam te val met ons tyd op pad na ons binnekamer.

Een jong bedienaar het my vertel van sy ervaring met ‘n komplot van onderbrekings. Dit het gelyk of al sy onderbrekings te doen gehad het met menslike behoefte. Daar was altyd iemand wat hulp nodig gehad het – sý hulp – net op die tyd wat hy gevoel het hy moet bid en die Here soek. Na ‘n rukkie, het hy ‘n konflik in sy siel herken: Hy was verskeur tussen sy oproep tot gebed en sy deernis vir lydende mense.

Terwyl hy in gebed was een dag, het die jongman al sy opgeboude verwaring uitgeween. Hy het gebid, “Here, hoe kan ek iemand in nood wegwys? Hoe kan ek diegene wat seer het verwaarloos?”

Die antwoord het duidelik, maar sterk gekom: “Seun, hoe kan jy My verwaarloos?”

Ek vra jou: Is dit nie die kern van die saak nie? Kan enigeen of enigiets ooit vir ons belangriker wees as ons Here? Is daar enige behoefte of lyding wat ooit vir ons meer belangrik is as Christus self? Natuurlik moet ons tyd maak vir familie en ander, soos God se woord beveel. Maar Christus moet altyd eerste kom!

Jesus self het Homself onttrek van die massiewe menslike behoeftes oral rondom Hom, sodat Hy stil met sy hemelse Vader kon kommunikeer. En ‘n tyd moet kom in elke Christen se lewe as hy kyk na al die lydende, gekwelde mense wat eise aan hom stel – insluitend sy familie – en sê, “Jy moet wag! Ek sal terug wees – maar eers moet ek bid. My siel is honger, en ek moet voed op God se woord. Ek het tyd alleen met die Here nodig – of anders het ek niks anders om jou te bied as my feilbare menslike deernis nie!”

Ons vlees is in ‘n bondsgenootskap met Satan!

Ek het nooit geglo dat Satan ooit die geheime binnekamer kan betree nie – ‘n plek geheilig deur die teenwoordigheid van God, waar Hy die uitroepe van elke toegewyde voorbidder tegemoetkom. Maar die duiwel hoef nie die geheime binnekamer te betree om sy doelwitte te bereik nie. En dit is omdat hy reeds ons vlees kop in een mus met hom het!

Jy sien, ons vlees is voortdurend in vyandskap met die Gees van God – en dit sal altyd so wees. Slegs deur op die heerlike krag van die Heilige Gees te vertrou, kan ons teen volle heerskappy neem oor ons vlees.

Al te dikwels, laat ons ons vlees in opstand kom wanneer ons uiteindelik tyd kry om alleen saam met God te wees. En ons is deeglik bewus van wat volg: Voortdurende gegaap. Wilde, fluktuerende gedagtes. Kort aandagspan. Ons gedagtes dwaal ongedissiplineerd weg in ‘n klomp verskillende rigtings. En na ‘n rukkie, word ons te moeg om aan te hou probeer om te bid.

Die vlees het die stryd gewen. Waar die Gees begeer om ons in ‘n baie noodsaaklike plek van oorwinning te bring, het moegheid ons harte weggesteel. Ek wonder: Staan Jesus in tye soos hierdie oor ons, soos Hy gedoen het met die dissiples en vra, “Kon julle nie eers een uur saam met My waak nie?”

Dink vir ‘n oomblik daaraan: Paulus sou ons nie beveel het om elke gedagte gevange te neem om Christus te gehoorsaaam, as dit nie binne ons mag was om dit te doen nie. Ons moet in ons binnekamer van gebed ingaan en vasbeslote wees om ons vlees te reken as heeltemal dood in Christus en dit te ontneem van alle gesag en heerskappy. Ons het die mag om elke gaap, elke dwalende gedagte, elke fisieke en geestelike onderbreking tot gehoorsaamheid aan die Heilige Gees binne in ons te bring.

Natuurlik is fisieke uitputting ‘n ander saak. God verdien ons beste tyd, ons mees produktiewe ure. Maar dit is egter die een ding wat Hy nooit van ons kry nie – kwaliteit tyd!

As ons die dag in energie-tappende aktiwiteite deurbring, sal ons sy teenwoordigheid moeg en gedaan betree. Geliefde, wanneer dit die geval is, is die beste ding om te doen, om eenvoudig bed toe te gaan. God is nie ‘n harde leermeester nie; Hy skenk sy kinders slaap. Gebed was nooit bedoel om ‘n las te wees of jou skuldig te laat voel nie. In teendeel, gebed – die lewe van ons gemeenskap met die Here – moet uitgevoer word wanneer ons geestelik en fisiek wakker is.

Selfs die vroeë kerkvaders het hierdie komplot beleef!

In die eerste eeuse kerk in Jerusalem, was die Griekse weduwees afgeskeep in die daaglikse verspreiding van voedsel. Vanselfsprekend het hulle die hulp ingeroep van die leiers in die kerk.

Maar die apostels het nie gevoel dit is reg om hulle bestudering van God se Woord prys te gee net om oor hierdie administratiewe takie toesig te hou nie. Daarom het hulle die kerkliggaam byeengeroep en gesê, “Dit is nie reg dat ons die woord van God nalaat om tafels te bedien nie” (Handelinge 6:2).

Die gevolg is dat sewe mans van “goeie getuienis” aangestel was om al die besigheidsake van die kerk te hanteer. In die tussentyd, het die apostels beloof, “Maar ons sal volhard in die gebed en in die bediening van die woord” (Handelinge 6:4).

Hierdie reëling het gelei tot die volgende, “...die woord van God het toegeneem, en die getal van die dissipels het in Jerusalem baie vermeerder...” (Handelinge 6:7). Die kerk het gegroei, omdat hierdie mans geweier het om hulle primêre taak te verwaarloos!

Vandag sal baie min bedienaars hierdie soort opoffering maak. Een bedienaar het my in die oë gekyk en reguit vir my gesê, “Ek het eenvoudig nie tyd om te bid nie. Ek is te besig. Daar is te veel eise op my tyd.” ‘n Ander pastoor het teenoor my bely, “Ek het in maande nie gebid nie. Ek mediteer en het vinnige gebede elke nou en dan. Maar ek kan myself nie in die dissipline van gebed inbring nie.”

Ek ontvang dikwels jammerlike briewe van Christene wat kla oor die gebrek aan geestelike lewe en diepte in hulle kerke. Baie skryf, “Ons pastoor is droog. Sy boodskappe is lig en sonder enige soort oortuiging. Die meeste van die tyd lyk hy of hy ingedagte is.”

Ek wil nie enige hardwerkende, toegewyde bedienaar van God veroordeel nie. Sy eie Werkgewer sal oordeel of hy goed doen of nie. En talle predikers van die evangelie is vandag nie daarvan bewus dat hulle slagoffers geword het van ‘n sataniese komplot van onderbrekings is nie.

Hierdie mans is heeltyd besig en gaan gebuk onder ‘n toestroming van pligte en besonderhede. En as hulle kerk gewikkel is in bouprojek, word hulle dilemma net groter. Hulle voel verplig om om die bouterrein rond te fladder en op hoogte van sake te bly.

So ‘n gerondhardloop kan verslawend word vir baie herders. (My oupa het sulke bedienaars, “predikers met sand in hulle skoene”genoem.) En in die proses van rondhardloop en in beheer van sake bly, verwaarloos hulle die Here en kul hulle gemeente.

Ek glo dit is een van die belangrikste redes waarom baie Christene van die geloof afvallig word – veral jongmense. Dooie, droë predikers het so behep geword met besigheidsake, dat hulle geen tyd het om te bid en ‘n vars woord uit die hemel te kry nie. Ek het ineengekrimp toe een herder van Amerika se grootste evangeliese kerke vir my vertel het, “Ek kan net nie wegkom om te bid nie. My gemeente kan nie sonder my voortgaan nie. Ek het te veel dinge aan die gang in die kerk.”

Hierdie man besef nie dat gemeentes in der waarheid verkies dat hulle bedienaars hulle met God afsonder – en die ouderlinge en genote die alledaagse sake te laat hanteer. Geen bedienaar van God is veronderstel om op te tree soos ‘n president van ‘n maatskappy nie. Sy tyd moet toegewy word aan gebed en die bestudering van God se woord!

Ek dank God vir elke bedienaar wat getrou is aan sy familie en aan sy gemeente. Sulke manne is regverdig, pligsgetrou en hulle lewens is ‘n oop boek. Dit is egter moontlik vir enige goddelike bedienaar om onder die heerskappy van Satan se komplot van onderbrekings te kom – en weggehou word van ‘n dieper wandel met die Here!

Enige gemeente wat sy herder liefhet, behoort voortdurend vir hom te bid: “O God – verlos ons herder van ‘n rondlopergees. Bewaar hom van die duiwel se komplot. Laat hom weet hy moet Satan se strik vermy – en vlug soos ‘n ontsnapte voël na u hemelse skuilplek!”

Daar is ook ‘n komplot in die huis!

Satan se komplot van onderbrekings is mees effektief in Christelike huise. Die tallose onderbrekings wat mans en vrouens daarvan weerhou om saam te bid, is nie toevallig nie. En diegene wat uiteindelik by gebed uitkom, ontdek dat die teistering van onderbrekings toeneem!

Die duiwel weet hy hoef nie Christelike huise op te breek om sy hoofdoel te bereik nie. Al wat hy hoef te doen, is om goddelike mense weg te hou van gebed en God se woord. Hy weet as hy hulle Bybelstudie en voorbiddingstyd kan onderbreek, sal hulle wankel in hulle geloof.

Biddelose ouers is immers swak ouers. Hulle het geen geestelike gesag om die gees van die wêreld uit hulle huise uit te hou nie. Hulle is geen bedreiging vir die duiwel se koninkryk of enige van sy vestings nie. En die gevolg is, hulle kinders word die slagoffers van demoniese verleidings.

Die meeste biddelose ouers beland op die ou end voor die TV geparkeer – en mors ure op ‘n keer en word geestelik dof en hard. En dit is die eintlike boosheid van ‘n TV besit: Dit word die grootse onderbreking van tyd wat regmatig aan God behoort!

Beskou hierdie feit: Teen die tyd dat hy agtien is, het die gemiddelde tiener ses jaar se TV gekyk. In dieselfde tydperk, het hy slegs vier maande in die kerk deurgebring. Die tragedie is dat die meeste Christene skaars deur een uur van aanbidding kan sit – tog kan hulle maklik deur ‘n drie-uur lange spesiale TV program sit sonder ‘n sweempie van ongeduld!

Daar was ‘n tyd, nie lank gelede nie, toe uitverkoopte gelowiges sensitief was vir die innerlike stem van die Heilige Gees, wat hulle geroep het na die binnekamer om te bid. Maar nadat hulle weke en maande kosbare tyd voor die TV verspil het, het hulle nie meer die stil, sagte stem van God gehoor nie. Sy stem is verdring deur al die wêreldse stemme wat uit daardie skerm gekom het!

Jy mag sê, “Maar ons het almal ‘n balans nodig. En, elke TV het ‘n ‘Af’ skakelaar, jy weet. Al wat mens ooit hoef te doen, is om dit af te skakel.” Maar hoeveel Christene doen dit werklik? Hoeveel het die selfdissipline om die klinkende stemme van die wêreld stil te maak en in afsondering te gaan om die stem van God te hoor? Waar is Christen ouers wat die moed het om gesag oor die komplot in hulle woonkamer te neem – en die TV vir lank genoeg af te skakel om die Here in gebed te hoor?

Verder as al die naaktheid, onreinheid en goddelike onsedelikheid, is die ware kwessie met die TV dat dit te veel tyd in beslag neem en ons weghou van broodnodige gemeenskap met die Here. Ons moet eenvoudig goddelike gesag oor hierdie misbruik neem. En die tyd wat ons spaar om nie TV te kyk nie, moet vir die Here gegee word in die geheime binnekamer van gebed. Anders sal ons nie gereed wees vir die groot skudding wat op die punt is om oor die ganse mensdom te kom nie – omdat ons huise sonder God se beskermende muur van vuur sal wees!

Wat is die oplossing?

Die Here het my gelei om die volgende stappe te neem om oor my gebedstyd te waak en alle sataniese komplotte te weerstaan. Ek glo hierdie stappe is ook vir jou bedoel:

*1ste Maak gemeenskap met die Here jou hoofdoel in die lewe.

Dit moet ‘n lewe-of-dood besluit vir jou wees. Gemeenskap in gebed en bestudering van God se woord kan nie opsioneel wees nie. Jou gedagte moenie bloot wees dat jy behoort te bid nie – maar dat jy nie sonder gebed kan oorleef nie! Job het verklaar, “...die woorde van sy mond het ek bewaar meer as my eie wet (meer as my noodsaaklike kos)” (Job 23:12).

Slegs wanneer gebed belangrik genoeg word, sal jy tyd maak om te bid. Die meeste Christene – insluitende herders – verwaarloos gebed egter eenvoudig omdat hulle nie die belangrikheid en effektiwiteit daarvan besef nie. Ek weet dat ek, as ‘n herder, nie mag waag om mense te bedien voor ek God bedien het nie; anders sal ek ‘n nuttelose dienaar wees.

Dit is in der waarheid onmoontlik om tyd te mors wanneer jy bid en God soek. En verder buite die binnekamer, bereik die biddende man of vrou meer in minder tyd met minder gejaag en sweet.

Maar die mees effektiewe werk vir God wat ons ooit sal doen, is in elk geval op ons knieë. Terwyl die biddeloses heen en weer hardloop en groot dinge probeer doen, is die biddende Christen hard aan die werk om koninkryke te skuif en vestings te verpletter – en, word in die proses ‘n reus by God!

*2de Jy moet jou afsprake met God meer heilig ag as alle afsprake met mense – maak nie saak wie hulle is nie!

Hoe vernederend moet dit nie vir die hemel wees nie om te sien hoe ons Christene so min waarde heg aan die majesteit van ons God, die Koning van heerlikheid. Ons is dikwels onverskillig op die manier waarop ons Hom laat wag. En vir die geringste dingetjie, sal ons skielik ons planne kanselleer om Hom te ontmoet in sy howe – vir iets onbenulligs!

Kan jy jou voorstel dat iemand die Skepper God van die heelal laat wag, terwyl daardie persoon draal om sy gunsteling TV program te kyk? Dit is egter wat die meeste van ons doen! Erger selfs, is dat ons dikwels nie moeite doen om hoegenaamd in sy teenwoordigheid op te daag nie. Dit is nie dat ons ons afspraak met Hom vergeet nie – maar dat ons moedswillig weier om voor Hom te verskyn!

Jesaja het gekla, “Hy was verag en deur die mense verlaat, ‘n man van smarte en bekend met krankheid; ja, soos een vir wie ‘n mense sy gelaat verberg; Hy was verag en ons het Hom nie geag nie” (Jesaja 53:3). Wanneer ek toelaat dat onderbrekings tussen my en my afsprake met die Here kom, verberg ek my aangesig van Hom – en waardeer Hom nie!

*3de Jy moet elke onderbreking wat binne jou mag is, verwerp – en neem geestelike gesag oor daardie onderbrekings wat jy onderskei om bonatuurlik te wees!

Natuurlik is sommige van my onderbrekings my eie skuld – en hulle is meestal iets onbenulligs. Daar is geen komplot agter baie van die onderbrekings wat ek deur die dag toelaat nie. Maar geliefde, jy moet voortdurend daarvan bewus wees dat Satan kan en teen jou sal saamsweer om jou op bonatuurlike maniere te onderbreek wanneer jy jouself toegewy het aan gebed en om die Here te soek!

Ek dank God egter dat ons nooit oorgelaat word aan die Satan en al sy planne nie. Ons kan sy taktiek blootlê, die woord van geloof spreek, en in Christus se naam elke enkele onderbreking stopsit. En deur die krag van God se Gees binne-in ons, kan ons ons pad na die Here se poorte oopmaak – en met vrymoedigheid na sy troon van genade gaan om hulp te kry in ons tyd van nood. Dit is wat die Here vir ons almal begeer.

Sal jy jou vlees vandag doodmaak en terugkeer na die geheime binnekamer van gemeenskap? Sal jy verkwistende, wêreldse ure voor jou TV prysgee om te verkry wat niks op hierdie aarde vir jou kan gee nie?

Roep uit tot Jesus om jou te verlos deur die krag van sy Gees, vandag. Neem gesag oor Satan se komplot van onderbrekings in jou lewe, wat bedoel is om jou geloof te laat skipbreuk ly. En betree die volheid van jou wandel met Christus soos God vir jou beplan het.

Amen.