‘N HART OOP VIR GOD SE SOEKLIG

David Wilkerson (1931-2011)

Ek glo berou is net soveel vir gelowiges bedoel as vir sondaars; Christene wat ‘n berouvolle gesindheid oor sonde handhaaf, trek God se spesiale aandag. As ons voor die Here wandel met ‘n berouvolle hart, sal ons oorval word met ontsaglike seëninge.

‘n Opmerkingswaardige eienskap van ‘n berouvolle hart, is ‘n gewilligheid om blaam te aanvaar vir oortredings, om te sê, “Here, ék is die een wat gesondig het.”

“Want die droefheid volgens die wil van God werk ‘n onberoulike bekering tot redding, maar die droefheid van die wêreld werk die dood” (2 Korinthiërs 7:10). En Johannes skryf, “As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie” (1 Johannes 1:8).

Dit kan baie pynlik wees om te erken dat ons verkeerd is. Ons regverdig ons dade en maak allerhande planne om blaam te ontsnap in ‘n poging om die aandag van onsself af te trek. En dit behaag God glad nie.

Om berouvol te wees, beteken meer as net om verskoning aan te teken of om dinge reg te maak met die persoon wat ons skade aangedoen het. Dit gaan ook daaroor om dinge met God reg te maak. Dawid is vir ons ‘n perfekte voorbeeld – hy het daarin geglo om hartsondersoeke te doen. Tydens die moeilike oefening om sy sonde uit sy hart uit te grawe, het Dawid uitgeroep, “Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my ‘n weg is van smart, en lei my op die ewige weg” (Psalm 139:23-24).

Dawid het heeltyd sy hart oopgemaak vir God se soeklig. Hy het die Here se ondersoek verwelkom en het so ver gegaan as om te roep, “As ek teen U gesondig het op enige manier en dit nie weet nie, openbaar dit aan my. Ek het berou.” “Want ék ken my oortredinge, en my sonde is altyddeur voor my. Teen U alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë” (Psalm 51:5-6).

Het jy ‘n behoefte om God toe te laat om jou hart te ondersoek vandag? Berou oor enige verborge boesemsonde sal jou hart sag en buigbaar, teer en maklik gevorm deur die Heilige Gees voor Hom hou.