‘N DOODSTEEK TEEN TWYFEL

David Wilkerson

“Maar 'n mens moet gelowig bid en nie twyfel nie, want iemand wat twyfel, is soos 'n brander in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word. So 'n mens wat altyd aan die twyfel is en onbestendig is in al sy doen en late, moet nie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie” (Jakobus 1: 6-7).

Baie mense sit in die huis van God en murmureer en kla asof God hulle nie hoor nie. Maar God hoor wel ons murmureringe – beskuldigings dat Hy nie vir ons omgee nie, insinuasies dat Hy ons teleurgestel het.

God het my gewaarsku om nie stem te gee aan knaende twyfel en vrees nie – nie teenoor my vrou of my vriende of my kollegas nie. Hy het vir my gesê om daardie vertwyfeling na Hom toe te neem en Hom te vra om my ongeloof te genees.

Israel het 40 jaar in onrus deurgebring en daar was ‘n klomp rugstekery, klagtes, jaloesie en bitterheid. Wat ‘n ellendige bestaan het die Israeliete nie gely nie, terwyl hulle steeds daarop aanspraak gemaak het dat hulle kinders van God was.

Jy moet by ‘n plek kom waar jy leer om Hom te vertrou. Wanneer jy dit doen, dan sal jy ‘n doodshou slaan teen alle onsekerheid, vrees en ongeloof.

Waar begin jy? Eerstens, kyk reguit in die spieël van God se Woord! Kyk na jou aksies oor die laaste dertig dae: Het jy gekla? Jy sal dalk antwoord, “Wel, ek het ‘n klein bietjie gekla maar ek het nie teenoor God gekla nie.” O, ja, jy het! Maak nie saak wie jou klagtes gehoor het nie, dit was alles gerig teen God.

Waar ook al ek in die Bybel blaai, lees ek, “Vertrou My en Ek sal jou deurdra! Laat jou weë net aan die Here oor.” Wat verg dit? Eenvoudig, dat jy stil staan en die redding van die Here beleef. Jy mag vra, “Maar wat as niks gebeur nie?” Daardie optrede op sigself toon twyfel en vrees.

Geliefdes, wend jou tot God en vertel vir Hom dat jy kies om Hom te vertrou en te wag vir Sy oorwinning. Laat God jou ‘n getuigskrif  vir die wêreld, ‘n getuie van sy getrouheid maak. Wees nóú lief vir Hom met jou hele hart en gee vir Hom al jou probleme, al jou geloof en al jou vertroue.