‘N DAAGLIKSE TOENAME VAN GOD AF

David Wilkerson (1931-2011)

Die meeste gelowiges beweer dat hulle deur geloof lewe en nie deur gevoelens nie, maar in die alledaagse praktyk, meet baie hulle geestelike lewens aan hoe hulle voel. Jy mag dalk al die regte dinge doen – gereeld Bybel lees, pligsgetrou bid – en steeds voel dit vir jou jy groei nie in die Here nie.

Jy mag heeltemal onbewus wees van die ontsaglike proses van volwassewording wat binne-in jou plaasvind. Paulus vergelyk ons geestelike groei met die groei van ons liggame, met ons siele wat gevoed word op dieselfde manier as ons fisieke gewrigte, spiere en vesels. Hy noem dit “met goddelike groei grootword” (Kolossense 2:19). Sulke groei kom van die Hoof. Eenvoudig gestel, as jy op Christus vertrou en in Hom bly, word ‘n nimmereindigende stroom van sy lewe in jou siel ingepomp.

Jesus is ‘n konstante lewenskrag in jou wese, ‘n lewende stroom wat nooit opdroog nie. Daarom word sy lewe voortdurend in joune ingespuit, selfs wanneer jy slaap. Hy voorsien vir jou ‘n vars voorraad vir elke dag, maak nie saak hoe jy voel nie.

Hoe dink jy het die Israeliete vir veertig jaar lank in die woestyn oorleef? Hulle het gelewe van manna, brood uit die hemel gestuur. Hierdie “brood van die engele” het al die voedingstowwe gehad wat hulle nodig gehad het om hulle immuunstelsels op te bou en dit is waarom God se volk nooit enige van die siektes van Egipte opgedoen het nie.

So is dit met Christus, ons manna vandag. Hy is die brood uit die hemel gestuur en Hy bou ons geestelike immuunstelsel op teen allerhande soorte sondes. Ons mag dalk nie die uiterlike tekens sien dat hierdie manna aan die werk is binne-in ons nie, maar God se Woord belowe dat almal wat Jesus liefhet, sterker sal word in hulle geestelike immuniteit.

Paulus skryf, “Gewortel en opgebou in Hom en bevestig in die geloof ... daarin oorvloedig is met danksegging” (Kolossense 2:7). Die apostel sê vir ons, “As jy in Christus bly, sal jy floreer en blom soos ‘n blom wat uitbot met lewe. Jesus se lewe sal uit jou stroom.”