‘N BELOFTE VIR ALMAL WAT GEROEP IS

David Wilkerson (1931-2011)

God het die profeet Jeremia ‘n woord gegee om vir Israel te gee: “So spreek die HERE van die leërskare, die God van Israel: Kyk, Ek bring oor hierdie stad en al sy stede al die onheil wat Ek daarvoor gespreek het, omdat hulle hul nek verhard het om na my woorde nie te luister nie” (Jeremia 19:15). Jeremia se woorde het die hoofopsigter van die tempel so omgekrap dat hy geboei en gemartel is. Ten spyte van sy lyding, het Jeremia egter nooit sy roeping in twyfel getrek nie. Hy het geweet ‘n woord van God was aan hom gegee.

God het verder vir Jeremia gesê, “Ek het ‘n bediening vir jou beplan en jy moet my kerk opbou. Ek wil hê jy moet saad van my goeie nuus plant, so moenie bekommerd wees nie; Ek sal vir jou elke woord gee om te spreek wanneer jy dit nodig het. En moet nooit bang wees vir mense of vrees vir mislukking nie. Onthou, so lank as jy lewe, is Ek met jou. Moenie moedeloos wees nie, maar staan op in geloof en doen wat Ek jou beveel. Jy het een goddelike doel en dit is om my gedagtes te spreek.”

Jeremia het vir ons gesê, “Toe het die HERE sy hand uitgestrek en my mond aangeroer; en die HERE het vir my gesê: Hiermee lê Ek my woorde in jou mond” (Jeremia 1:9). Wat ‘n ontsaglike oomblik in hierdie man se lewe. Hoe wonderlik om te weet dat God sy hand op jou geplaas het, sy gedagtes aan jou geopenbaar het en jou gesalf het om names Hom te praat. Toe het God hierdie woorde bygevoeg: “Wees nie vir hulle verskrik nie, dat Ek jou nie vir hulle laat skrik nie” (1:17).

Geliefde, dit is God se boodskap aan elke Christen wat al ooit deur Hom geroep is. Hy sê in wese vir ons, “Moenie dat iemand jou afbreek nie! Jy het geen rede om deurmekaar of wanhopig te wees nie. Ek het vir jou gesê Ek is met jou en daar is geen rede vir uitbrand of vir opgee nie. Maak nie saak watter swaarkry jy beleef of hoe sleg mense jou behandel nie, Ek het magtige pilare rondom jou geplaas en Ek is met jou om jou te verlos!”