‘N BAKEN VAN HOOP

David Wilkerson

Ons geloof in moeilike tye verskaf vir ons ‘n “goeie getuienis.”

“[Deur hulle geloof] het die mense van die ou tyd [goeie] getuienis ontvang” (Hebreërs 11:2). Die Griekse woord hier vir “getuienis ontvang” beteken “om te getuig.” Ons voorouers in die Here het ‘n standvastige, geankerde geloof gehad. En hulle onwrikbare geloof het vir die wêreld ‘n getuienis van God se getrouheid te midde van moeilike tye geword.

Dink aan wat ons voorouers verduur het: vloede, spottery, boeie, gevangenskap, vuur, marteling, oorloë en leeukuile. Deur dit alles heen, het hulle geloof in die Here nooit gewankel nie. Hoekom? Hulle het ‘n innerlike getuienis gehad dat hulle die Here behaag het. Ons voorvaders het geweet dat God oor hulle geglimlag en gesê het, “Mooi so! Jy het in My geglo en vertrou.”

“En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek” (Hebreërs 11:6). Wanneer ons ook al ons geloofsposisie tydens ons moeilike tye behou, dan ontvang ons dieselfde bevestiging van die Heilige Gees: “Mooi so. Jy is God se geliefde getuienis.”

Terwyl jy in Hom rus deur die storms heen en jou geloofsposisie behou, dan verkry jy ‘n “goeie getuienis.” En jy dien as ‘n baken van hoop vir hulle rondom jou. Diegene wat jou lewe dophou – by die huis, by die werk en in jou straatblok – leer dat hoop vir hulle beskikbaar is. Terwyl hulle jou in jou uur van nood dophou, besef hulle, “Daar staan iemand wat nie sy geloof in God verloor het nie. Hy het glad geen vrees nie. Wat stel hom in staat om deur so ‘n onrus te bly vertrou?”

Ons God het alles vir ons voorsien om ons geloof in stand te hou, selfs as teenspoed toeneem. Aan ons is die getuienis van die Heilige Gees, wat in ons bly, gegee, en God het sy Woord ten volle in die Skrif geopenbaar. Hierdie dinge sal ons staande hou en vir ons ‘n goeie getuienis verskaf, selfs as die wêreld bewe.