‘N ANKER VIR JOU SIEL

David Wilkerson (1931-2011)

Terwyl Dawid met geloof gebid het, het hy hierdie waarheid in besit geneem: “Laat die waterstroom nie oor my loop en die diepte my nie verslind nie, en laat die put sy mond bo my nie toesluit nie” (Psalm 69:16). Dit is nie ongewoon vir selfs die goddelikste persoon om probleme soos stygende vloedstrome te beleef nie. Soos Dawid, kan ons verdiep wees in God se woord, getrou bid en toegewy wees aan die Here, maar steeds oorweldig voel deur die dreunende golwe van vrees.

Deur na die grootheid van God te kyk, is ‘n anker vir ons siel. Dit is bedoel om ons geloof op te bou in hierdie uur wanneer talle oorweldig voel deur vrees. Ek is oortuig dat die kerk op hierdie oomblik een ding nodig het: ‘n toenemende openbaring van God se grootheid. So baie angstige mense regoor die wêreld wend hulle na valse gode te midde van oorweldigende vrese. Maar volgelinge van Jesus moet herinner word aan die krag en grootheid van die een ware God.

In ‘n boek wat ons gepubliseer het genaamd, Triumph Through Tragedy, getuig Christene van God se hulp tydens hulle moeilikste tye. In elke geval het hulle hoop gekry deur die openbaring van God se grootheid.

Hierdie getuienisse het dit baie duidelik gemaak dat God se kinders keuses het tydens elke vloedstroom van verdrukking. Ons eerste keuse tydens groot beproewings, is om ons met geloof te omgord – om ons liefdevolle Vader te vertrou maak nie saak wat kom nie.

Elkeen wat bygedra het tot Triumph Through Tragedy het getuig dat hulle ‘n keuse gehad het om te maak. En toe hulle geloof gekies het, het God hulle ‘n hernude intimiteit met Jesus gegee. Dit het egter gebeur wanneer hulle pynlike beproewing op sy ergste was. Dawid het getuig van sy ergste uur, “Hierdie ellendige het geroep, en die Here het gehoor, en Hy het hom uit al sy benoudhede verlos” (Psalm 34:7). Ons moet ten volle oortuig wees van sy krag, mag en grootheid om ons ontwil.