‘N ANDER LEERMEESTER

Jim Cymbala

Tweeduisend jaar gelede het die dissipels Jesus as hulle Leermeester gehad, maar toe het hulle gesukkel om te verstaan wat Hy vir hulle geleer het. Daar was tallose voorbeelde van Jesus wat iets sê en die dissipels wat die punt heeltemal gemis het. Hulle het dit net nie verstaan nie. Trouens, een van hulle het selfs met Hom geargumenteer en gesê, “Nee, U sal nie na die kruis gaan nie. Ek sal nie toelaat dat dit gebeur nie.”

Jesus sou hulle leer oor hoe om God te vertrou en dan net in die volgende hoofstuk, sien ons dat hulle God nie vertrou nie. Jesus het selfs Homself gebruik as ‘n voorbeeld tydens ‘n les oor nederigheid. Tydens die Nagmaal, het Jesus Homself vertoon as ‘n dienaar van die Here en het die dissipels se voete gewas. Gedurende dieselfde ete, het die dissipels egter geargumenteer oor wie van hulle die grootste was (Lukas 22:24-27).

Maar Jesus het beloof dat wanneer Hy gesterf het, ‘n ander Leermeester sou kom en hulle help om geestelike waarheid behoorlik te verstaan.

“Nog baie dinge het Ek om aan julle te sê, maar julle kan dit nou nie dra nie. Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig. Hy sal My verheerlik, omdat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig” (Johannes 16:12-14, klem myne).

Jesus het nie net vir hulle gesê ‘n beter Leermeester was op pad nie, maar dat die nuwe Leermeester waarheid aan hulle sou oordra, wat Hy nie op daardie stadium aan hulle kon meedeel nie.  Met ander woorde, Jesus het gesê, “Ek het meer om te sê en die nuwe Leermeester sal die een wees om julle daarvan te leer.” Die Gees “sal julle in al die waarheid lei,” wat insluit om die boodskap van toepassing te maak op die dissipels se harte. Dan sou die betekenis van Jesus se lewe en dood, geloof, hoop, liefde, die krag van gebed en baie meer, alles kristalhelder vir hulle gemaak word.

Jim Cymbala het die Brooklyn Tabernacle begin met minder as twintig lede in 'n klein bouvallige gebou in 'n ongemaklike deel van die stad. Hy is oorspronklik van Brooklyn en is 'n jarelange vriend van beide David en Gary Wilkerson.