‘N ANDER “JESUS”

David Wilkerson

Die Skrif praat keer op keer oor die vrees van God: “Vrees die HERE, en wyk af van die kwaad” (Spreuke 3:7). “Die vrees van die HERE is om te haat wat sleg is” (Spreuke 8:13). “Deur liefde en trou word die skuld versoen, en deur die vrees van die HERE wyk ‘n mens af van die kwaad” (Spreuke 16:6).

As daar geen vrees vir God is nie, moet  mense ‘n evangelie van gerief skep.

Die wêreld het ’n evangelie saamgeflans waarin daar geen God is nie en daarom geen hemel of hel nie. Daar is geen hiernamaals, met niks en niemand om verantwoording aan te doen nie.

Waar pas Jesus in hierdie evangelie van gemak in? Hy is deel daarvan – maar dit is heeltemal ‘n ander Jesus! Hierdie “ander Jesus” word voorgestel as die essensie van menslike liefde, ‘n baie verdraagsame persoon inderdaad. Hy omhels alle gelowe, is tegemoetkomend teenoor eenslagtige huwelike en verklaar dat daar nie so ‘n ding soos goed en sleg is nie. Daar is geen sondaars vir hierdie Jesus nie – en daarom word sonde ook nie genoem nie, selfs nie eens afwykende gedrag nie. Sy boodskap is dat jy nie eers hoef te verander nie, want daar is niks verkeerd met jou nie. Daar is eenvoudig geen oordeel of toorn in Hom nie.

Paulus noem dit ‘n “ander evangelie” (Galasiërs 1:6). En hy waarsku dat diegene wat dit verkondig, “die evangelie van Christus wil verdraai” (Galasiërs 1:7). Soos jy jou kan indink, is dit ‘n aanloklike evangelie, wat by baie mense inslag vind. Menigtes, veral jongmense word hierin vasgevang. Dit verklaar waarom toenemende getalle Christelike jeug onsedelike gedrag en eenslagtige huwelike aanvaar. Baie evangeliese kerke neem selfs hierdie verleidelike evangelie aan. Dit gebeur net soos Paulus gewaarsku het: “En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo” (2 Thessalonicense 2:11).