​ONS SAL JESUS AANSKOU

David Wilkerson (1931-2011)

Hemel! Die belofte van die hemel is die kern van die evangelie, maar ons hoor deesdae nie veel oor hierdie blye onderwerp nie. Trouens, die Bybel sê nie veel oor hoe die hemel is nie. Jesus het nie by die dissipels gaan sit en die heerlikheid en majesteit van die hemel verduidelik nie. Hy het wel vir die rower aan die kruis gesê, “Vandag sal jy saam met My in die Paradys wees,” maar Hy het dit nie beskryf nie (Lukas 23:43).

In 2 Korinthiërs 12:1-6, verwys die apostel Paulus na die hemel wanneer hy praat van toe hy opgeneem was in die Paradys. Hy sê hy het dinge gesien en gehoor wat sy verstand so verstom het, dat hy nie woorde het om dit te beskryf nie. Hoewel hy dankbaar was vir sy lewe en sy roeping, was sy blywende begeerte dwarsdeur sy jare van bediening, om huistoe te gaan en by die Here te wees. Hy het welsprekend oor sy begeerte vir die hemel gepraat toe hy geskryf het, “Maar ons het goeie moed en verkies om liewer uit die liggaam uit te woon en by die Here in te woon” (2 Korinthiërs 5:8).

Ons weet dat die troon van God in die hemel is en Jesus is daar met die engele in ontelbare menigtes. Paulus sê dat wanneer ons eers daar is, sal ons Jesus “van aangesig tot aangesig” aanskou (1 Korinthiërs 13:12). Ons gaan onmiddellike, persoonlik toegang tot die Here hê dwarsdeur die ewigheid en daardie feit alleen behoort ons harte te laat juig. Jesus het gegaan om ‘n woning vir ons gereed te maak waar ons saam met Hom vir ewig sal lewe (sien Johannes 14:3).

Ons sal nie die hele tyd ontspan en “kerk hê” in die hemel nie. Die Bybel sê ons sal saam met die Here heers as “konings en priesters vir onse God” (Openbaring 5:10). Ook, sal ons opwindende opdragte gegee word in hierdie nuwe wêreld en optree as sy dienaars (sien Openbaring 22:3). Daar sal geen trane in die hemel wees nie: “En God sal al die trane van hulle oë afvee” (21:4). Geen smart, geen pyn, geen dood, geen vrees.

Geliefde, maak die hemel jou ernstige begeerte. Jesus kom diegene haal wie daarna smag om saam met Hom daar te wees!