​MAAK REG MET GOD

Carter Conlon

Vandag smeek ek julle — as ‘n pastoor, as ‘n vader, as ‘n broer – om reg te maak met God. Soms voel ek soos Noag, wat buite ‘n plek van algehele veiligheid staan, terwyl mense ongeërg verbyloop. In Noag se tyd, kon baie mense wat hom gehoor het selfs met hom saamgestem het, maar hulle het egter steeds geweier om van hulle goddelose weë te bekeer en God te volg. Jy en ek moet egter besef dat ons nie in staat sal wees om in die komende dae staande te bly as ons nie onsself volkome aan die Here oorgee om Hom te gehoorsaam nie. Soos die Skrif sê:

“God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer” (Handelinge 17:30).

Met ander woorde, die Here beveel ons om ‘n verandering van hart te hê; om met Hom saam te stem en weg te draai van dit wat verkeerd is.

LUISTER NA GOD SE STEM

Die laaste tyd bid ek, “Here Jesus, help my om te sien of daar enigiets in my lewe is wat my kan laat afdwaal en indien wel, skenk my die genade om daarvan ontslae te raak.” In die verloop van my lewe, het God sy vinger gelê op gesindhede, wat ek omhels het en wat ek gedink het aanvaarbaar was, maar in werklikheid het dit nie naby God se standaard gekom nie. Sommige gewoontes was duidelik, ander was nie. Maar ek glo die een ding wat my tot op hierdie punt van my lewe gebring het, is dat my hart oop was vir die Here om te praat en te tugtig waar nodig.

En daarom vra ek weer vir jou; Kan God met jou praat? Kan God daardie een saak van jou hart aanraak; daardie gewoonte in jou lewe; daardie gevoel van eie-geregtigheid? Of sal jy Sy raad verwerp en op die ou end uitgesluit word van Sy krag?

KIES OM JOUSELF TE VERNEDER

As jy voortdurend kies om na Hom te kom met nederigheid van hart en met ‘n gewilligheid om met Sy Wood saam te stem, sal God die berge plat maak en die valleie opvul. Hy sal ‘n duidelik pad tussen jou en Homself skep en jy sal vind dat Hy beloof om jou nie net te bewaar nie, maar om vir jou krag, blydskap en oorwinning  te gee in die dae wat kom!

 

Carter Conlon het aangesluit by die pastorale personeel van Times Square Church in 1994 op uitnodiging van die stigterspastoor, David Wilkerson en was aangestel as Senior Pastoor in 2001.