​JULLE BEHOORT LERAARS TE WEES

David Wilkerson

Die skrywer van Hebreërs sê vir sy lesers, “Want hoewel julle vanweë die tyd leraars behoort te wees” (Hebreërs 5:12, my parafrase). Dit is sterk, uitdagende woorde. Met wie presies praat hy hier? Die boek Hebreërs wys vir ons hy praat met gelowiges wat goed geskool was in Bybelse waarheid. Met ander woorde, diegene wat sy brief gelees het, het gesit onder kragtige prediking van talle gesalfde bedienaars.

In hoofstuk 5, sê die skrywer vir sy lesers:

“Waaroor ons veel te sê het wat swaar is om te verklaar, omdat hulle traag geword het om te hoor. Want hoewel julle vanweë die tyd leraars behoort te wees, het julle weer nodig dat ‘n mens julle die eerste beginsels van die woorde van God moet leer, en julle het weer ‘n behoefte aan melk en nie aan vaste spys nie” (sien 5:11–12).

Dink aan wat die skrywer hier sê. Hy sê kortliks vir sy lesers, “Teen hierdie tyd behoort julle standvastige voorbeelde vir julle kinders te wees. Julle geloof moet onwrikbaar wees. Julle behoort nie langer te murmureer en te kla tydens julle verdrukking nie, maar in plaas daarvan, gewillige deelnemers wees van Christus se lyding. Julle behoort nie een oomblik warm en dan skielik koud te wees wanneer die vyand inkom soos ‘n saamgesperste stroom nie.”

SLEGS PREEKPROEWERS

Is dit op jou van toepassing? Hoeveel preke het ons gehoor wat ons uitgedaag het om die Here te vertrou in alle dinge? Hoeveel keer het ons preke gehoor van God se ontsaglike beloftes aan ons? Hoeveel geloof-wekkende preke het ons ingeneem? Hoe dikwels was ons geseën deur ‘n boodskap oor God se getrouheid? En hoe dikwels word ons egter so vinnig platgeslaan wanneer ‘n beproewing kom?

Vandag is menigtes in die kerk goed opgelei, vol Bybelse waarheid en ervare preekproewers. Ons is inderdaad diegene wat die skrywer van Hebreërs in hierdie brief aanspreek. En hy sê vir ons, “Teen hierdie tyd behoort julle leraars te wees deur julle voorbeeld. Maar, in plaas daarvan, wankel julle geloof in tye van stryd.”