​HOU VAS

David Wilkerson

“Luister daarom na wat die Heilige Gees sê: ‘Vandag as julle sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie, soos julle voorvaders toe hulle in opstand gekom het en My in die woestyn op die proef gestel het”  (Hebreers 3:7-8).

“Laat ons vashou aan die geloof wat ons bely” (Hebreërs 4:14).

Dat ons aan die geloof moet vashou is deurslaggewend, want die sonde wat die ergste verharding bring, is ongeloof. Israel het hulle harte verhard “in die dag van verbittering… in die woestyn”(Hebreërs 3:8). Dit het gebeur gedurende die tyd van hulle toetsing, toe vurige beproewings oor hulle gekom het. Gedurende daardie moeilike tyd, het dit gelyk asof God se beloftes hulle gefaal het. En toe dit lyk asof die Here nie langer hulle geroep verhoor het nie, het hulle kwaad geword vir Hom.

Iets dergeliks gebeur met baie Christene in hierdie geslag. Ek praat met gelowiges wat eens vurig was, maar nou verharde harte het. Dit is mense wat eenmaal getrou met die Here gewandel het. Hulle het Sy Woord geglo, hulle lewe gelei volgens Bybelse waarhede en hulle was aan die brand vir Jesus. Toe het ‘n krisis opgeduik. Hulle het tot God uitgeroep in hulle tyd van desperate nood, maar hulle gebede is nie verhoor op húlle tydskedule nie. In hulle woede, het hulle God beskuldig, “U het my gefaal!” Vandag wil hierdie mense nie ‘n woord hoor van wat ek sê nie.

Ander dwaal af deur verbintenisse met goddelose vriende. God se genade is steeds vir hulle beskikbaar, Sy barmhartigheid is nog daar, maar na ‘n tyd verhard die plesier van die sonde hulle harte.

Mag God ons help in hierdie onseker dae om “waaksaam” te wees, sodat niemand in sy hart verhard sal raak in die dag van ons beproewing nie! Jy mag dink dat jy nooit jou hart sal verhard nie. Maar moeilike tye kom oor almal wat Jesus volg; niemand is vrygestel nie. Daarom, “Vandag, as julle sy Stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie” (Hebreers 4:7).

Nou is die tyd om met God reg te maak, want die huidige geslag verloor hulle vrees vir Hom.