​HET JY KRAG NODIG?

Gary Wilkerson

“Is dít nie die vas wat Ek verkies nie: dat julle losmaak die bande van goddeloosheid, dat julle afhaal die stroppe van die juk en vry laat weggaan die verdruktes en elke juk stukkend breek?” (Jesaja 58:6). God sê dat die vas wat Hy verkies, in ons eie harte begin. Ons moet onsself posisioneer om iets bonatuurliks van God te ontvang – vryheid van onderdrukking en slawerny van allerhande dinge.

Wanneer gelowiges ‘n tyd van vas binnegaan, behoort hulle hul harte behoorlik voor te berei om God se bonatuurlike ingryping te ontvang. Een van die belangrikste geestelike eienskappe is nederigheid: “Want so sê die Hoë en Verhewene wat in die ewigheid woon, Heilig is sy Naam: Ek woon in die hoogte en in die heilige plek en by die verbryselde en nederige van gees, om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes” (Jesaja 57:15).

“’n Verbryselde en nederige gees” – dit is die hart van een wat God soek, wat ligweg aan die dinge van die wêreld vashou en indring om die hemelse Vader op ‘n diep manier te ken. Ons harte word opgewek wanneer ons nederig voor die Here bly. Hy blaas krag en lewe, geestelike lewensvatbaarheid, verkwikking, vernuwing en krag in ons gees in. “Die wat op die HERE wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie” (Jesaja 40:31).

Het jy krag nodig? Het jy nodig dat God met krag in jou lewe werk soos nog nooit tevore nie? As jy na God kom met ‘n toornige gees en dinge van Hom eis, hoor Hy nie jou stem nie. “Waarom vas ons, en U sien dit nie? Waarom kwel ons ons siel, en U weet dit nie? (Jesaja 58:3). Maar as jy na Hom kom met ‘n gebroke hart en ‘n gees van ware nederigheid, sê Hy vir jou, “Ek sien jy het ‘n verbryselde gees en Ek is hier om jou hart te verkwik.”