​GEREED VIR DIE DAE WAT VOORLÊ

David Wilkerson (1931-2011)

“Maar die dag van die Here sal kom soos ‘n dief in die nag” (2 Petrus 3:10). God gebruik getroue dienaars – soms diegene op nasionale kansels en op ander tye nederige, onbekende, verborge wagte – om sy boodskap van waarskuwing te bring. Slegs diegene wat nie verlief is op hierdie wêreld en smag na die koms van die Here, sal in hulle harte met hierdie boodskap saamstem.

God waarsku sy getroues sodat wanneer skielike verwoesting tref, hulle nie meegesleur word deur vrees nie. Wanneer verskriklike gebeure plaasvind, moet God se kinders weet dat wat gebeur, nie ‘n ongeluk of ‘n willekeurige daad is nie. Hulle moet die vrede van Christus in hulle harte hê en weet dat ons God steeds meester van die heelal is. Hulle sal nie paniekerig word wanneer ander mense se harte beswyk van vrees oor al die skrikwekkende dinge wat hulle op die aarde sien gebeur nie.

Petrus gaan verder en sê, “Waarin die hemel met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand” (3:10).

Aan wie rig die apostel Petrus hierdie woorde? Die antwoord word gevind in 2 Petrus 3:1: “Dit is reeds die tweede brief, geliefdes, wat ek aan julle skrywe.” Hy adresseer die getroue oorblyfsel van gelowiges. Wanneer ons woorde hoor soos Petrus s’n, is ons eerste reaksie om terug te deins. “Daar is te veel slegte nuus vandag. Waarom moet ons hierdie boodskap nou hoor? Waarom dit nie net laat gebeur nie?” Maar Petrus het ‘n rede gehad: “Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie” (3:11).

In die lig van die skielike vergaan van alle dinge, behoort God se kinders hulle eie optrede te ondersoek. Diegene wat smag na die vervulling van Bybelprofesie behoort verander te word na die beeld van Christus, in optrede, in spraak en in gedagte. Moenie ‘n fout maak nie, die vuur kom. En om daardie rede, moet ons pligsgetrou wees om ons “te beywer” dat ons “vlekkeloos en onberispelik voor Hom bevind mag word in vrede” (3:14).