​DIE BRANDENDE BOS

David Wilkerson (1931-2011)

Moses was alleen op die berg Horeb waar hy sy skoonpa se skape opgepas het, toe hierdie vreemde verskynsel sy aandag getrek het – ‘n bos was aan die brand. Terwyl hy nader gestap het om beter te kan sien, het God hom vanuit die bos geroep.

“En Moses sê: Laat ek tog nader gaan en hierdie groot verskynsel bekyk, waarom die doringbos nie verbrand nie. Toe die Here sien dat hy nuuskierig nader kom, roep God na hom uit die doringbos” (Exodus 3:3-4).

God was in die bos teenwoordig. Dit is waarom dit gebrand het, maar nie verteer was nie. Dit was ‘n visuele voorstelling van God se heiligheid.

Toe het die Here vir Moses gesê, “Moenie nader kom nie. Trek jou skoene van jou voete af, want die plek waar jy op staan, is heilig” (Exodus 3:5). Die meeste van ons lees oor hierdie vers sonder om die geweldige diepte van die betekenis te verstaan. En dit het alles te doen met hoe om heilig te wees.

Jy sien, Moses was op die punt om opgeroep te word tot God se ewige doel vir sy lewe – om Israel uit slawerny te verlos. Maar eerstens moes God vir Moses die grond wys waarop Hy, die Here, genader moet word. Dit moet heilige grond wees. Kortliks, Moses was geroep tot ‘n aangesig-tot-aangesig kommunikasie met ‘n heilige God, en hy moes behoorlik daarvoor voorberei word.

Moses het gevrees terwyl God met hom gespreek het: “Toe het Moses sy aangesig verberg, want hy was bevrees om God aan te sien” (Exodus 3:6). Waarom het hy gevrees? Dit was omdat hy ‘n openbaring gekry het van die ontsagwekkende heilige grond waarop God genader moet word!

Die Nuwe Testament bevat ‘n ooreenstemmende vers: “Sodat geen vlees voor Hom sou roem nie” (1 Korinthiërs 1:29).

Hierdie vers van Paulus is nie net ‘n Nuwe Testament waarheid nie. Dit was ook in Moses se tyd waar. Moses moes self eens en vir altyd weet dat God se werk nie deur menslike vermoë bereik kan word nie, maar deur totale vertroue in en afhanklikheid van die Here. Heiligheid is nie iets wat ons kan bereik of kan werk voor nie. Liewer, dit is iets wat ons glo deur geloof en vertroue in Jesus se werk.