Amerika se Goue Kalf Gaan Val!

Vir ‘n geruime tyd profeteer ek dat Amerika op die punt is om getref te word met ‘n ekonomiese slagting. Die afgelope tyd het ek oortuig geword dat een of twee scenario’s kan plaasvind:

  1. Daar kan ‘n skielike “waarskuwende ineenstorting” wees – miskien 1,000 punte of meer wat val in die aandelebeurs. Na ‘n kort tydperk van ontsteltenis, sal die mark moontlik herstel. Wanneer dit gebeur, sal beleggers hulself oortuig dat dit reggekom het. En weereens sal die algemene mening wees, “The sky is the limit!”

Dit is tragies dat hierdie gesindheid sal lei tot ‘n soort euforie wat nog noot tevore in Amerika gesien is nie. Daar kan wilde ekonomiese spekulering wees – en dit kan die mark tot in die stratosfeer laat inskiet.

  1. Aan die ander kant, kan die aandelebeurs of verbandsmarkte oornag duik met geen herstel hoegenaamd nie. As dit gebeur, sal ons ‘n daaglikse terugtrek van beleggers sien – omdat hulle sal besef dat Amerika getref is met ‘n volskaalse ineenstorting van die mark. Op daardie oomblik, sal algehele paniek posvat. En ons sal weet dat ons nasie ‘n periode van goddelike oordeel binnegegaan het – omdat ons ‘n vinnige, skielike insinking na chaos sal beleef.

Wat is die rede vir hierdie oordeel? Dit sal kom as God se toorn oor ‘n nasie wat riviere van onskuldige bloed vergiet het! In die Ou Testament, het die profete die nasie van Juda gewaarsku dat oordeel sou kom weens presies dieselfde soort bloedvergieting.

“Sekerlik het dit volgens die bevel van die HERE oor Juda gekom, om hulle van sy aangesig te verwyder vanweë die sondes van Manasse, volgens alles wat hy gedoen het; en ook oor die onskuldige bloed wat hy vergiet het, sodat hy Jerusalem met onskuldige bloed gevul het; daarom wou die HERE nie vergewe nie” (2 Konings 24:3-4).

Manasse se bloedvergieting was slegs ‘n klein stroompie in vergelyking met die oseaan van bloedvergieting deur aborteurs in Amerika. Voeg daarby die bloed van duisende onskuldige mense wat deur dronkbestuurders, geweervuur en moord vergiet is. Voeg dan daarby die bloed van kinders wat deur ander kinders doodgemaak is – onskuldige lewens wat geneem is deur diegene wat geen sin van reg of verkeerd het nie.

Die Bybel maak dit duidelik: God sal nie die vergieting van onskuldige bloed verskoon nie. Hy sal oordeel stuur!

Die Here skud die wêreld reg rondom ons!

Tans vind daar ‘n goddelike skudding reg rondom die aarde plaas:

  • Indonesië se ekonomie het verkrummel. Toe die land se leier, Suharto, onder druk bedank het, het die roepia ineengestort en die 13,700-eiland koninkryk in depressie laat wegsink. In net ses maande het Indonesië beweeg van ongekende voorspoed na uiterste vernietiging en chaos.
  • Suid-Korea gly selfs dieper in depressie in. En Japan sink verder in ‘n diep finansiële gat in. Die laaste keer toe getel is, het agt van daardie nasie se hooggeplaasde finansiële leiers selfmoord gepleeg. En nou het ‘n skudding in Thailand begin.
  • Rusland is op die punt om nie sy internasionale lenings te kan terugbetaal nie. Menigte werkers is maande lank nie betaal nie. En nou, soos die depressie verder uitbrei, is ‘n rewolusie aan die broei.
  • Argentinië, Brasilië en Mexico is almal in diep finansiële moeilikheid. Mexico beleef ‘n ernstige droogte wat bygedra het tot die verwoede brande in die woude van daardie land. Die rookwolke het die hemel van Texas en ander westelike state bedek.

Luister asseblief na my – dit is nie net oordeelsdagpraatjies van ‘n troostelose prediker nie. Dit is feite. Jy kan daaroor lees in enige koerant van die afgelope maar maande. God skud die wêreld oral rondom ons – en binnekort gaan Hy Amerika nog erger skud was wat Hy die ander nasies geskud het. Waarom? Ons het méér onskuldige bloed vergiet!

Ek het vantevore hierdie scenario genoem, maar dit is belangrik genoeg om hier herhaal te word: Eendag, binnekort, wanneer die ineenstorting skielik plaasvind en vrees oor die nasie sprei, sal die President stil in die Oval Office staan en by die venster uitstaar. Hy sal paniekbevange wees – stomgeslaan – weens die ekonomiese onrus.

Uiteindelik sal hy hom wend na sy groep adviseurs – die leiers van ons nasie, insluitende die voorsitter van die Federale Reserwes – en hy sal vra, “Wat het gebeur? Hoe het dit alles so gou ineengestort? En wat kan ons nou doen?”

Sy vrae sal met doodse stilte begroet word. Niemand sal in staat wees om te verduidelik wat die paniek veroorsaak het nie. In plaas daarvan, sal almal hardop wonder, “Die aanwysers was almal positief. Inflasie was onder beheer. Dit ekonomie was op koers. Dit maak net nie sin nie.”

Geliefde, Amerika beleef God se oordeel – en ons sal nooit weer dieselfde wees nie! In die dae wat kom, sal letterlike honderde duisende Amerikaners hulle huise verloor. Waarom? Hulle het hul aandele lenings aangewend, sodat hulle op die aandelebeurs kon speel en probeer ryk word!

Op hierdie oomblik, het 43 miljoen Amerikaners diep in die beurs belê, met $1 ½ tot 2 triljoen geplaas deur individuele beleggers. Duisende van hierdie beleggers het eintlik uit hulle poste bedank om by die huis te bly en met die aandelebeurs op hulle rekenaars te speel.

Ek sê vir jou, die aandelebeurs het Amerika se goue kalf geword! Mense sien dit as ‘n finansiële redder en hulle aanbid dit daagliks – vertrou daarop, maak daarop staat en wy al hulle energie en aandag daaraan. Maar dit gaan skielik val – en geen van die klein, individuele beleggers sal gespaar word nie. Hulle sal die meeste ly en hulle huise en karre verloor – alles!

In die spoor van die ineenstorting, gaan ons ‘n golf van “geassisteerde selfmoorde” sien. Die massas wat gedryf was deur geld en sukses sal nie in staat wees om die mislukking en armoede wat hulle beleef te verduur nie. Baie sal selfmoord kies – korporatiewe leiers ingesluit.

Die komende oordeel sal egter nie die einde van die Amerikaanse samelewing beteken nie. Dit sal egter beteken dat ons nasie verneder sal word deur ‘n lang, vreesaanjaende tydperk van chaotiese toestande – insluitend opstande, plundery en brande in ons groot stede.

Ek moet jou vra: Is jy gereed vir wat kom? As jy nie is nie, doen jy voorsorg om jou gereed te maak? As ek praat van gereed wees, waarheen neem jou gedagtes jou? Dink jy dadelik aan beleggings, bankrekenings, oorlewingsplanne en veiligheid vir jou familie?

In die afgelope paar maande, is ons bediening se kantore oorstroom met nuusbriewe en profetiese waarskuwings wat voorstel hoe Christene kan voorberei vir donker tye. Die meeste van hierdie boodskappe behels persoonlike veiligheid en oorlewing. Hulle adviseer, “Gaar droë kosse, langlewende kerse, keroseen lanterns, warm klere, komberse, mediese voorrade, ‘n battery-aangedrewe radio...op.”

Ek het nie ‘n probleem met iemand wat kies om hierdie dinge te doen nie. Die Skrif sê immers vir ons dat die verstandige mens voorberei vir ‘n krisistyd. Ek dink aan die patriarg Josef, wat wyslik sewe jaar voorberei het vir ‘n geprofeteerde hongersnood.

Maar daar is ‘n probleem onderliggend aan so ‘n benadering tot die komende chaos. Trouens, as daar een ding is wat God verag, is dit as sy kinders die toekoms met vrees binnegaan. Dit maak Hom kwaad om te sien dat gelowiges paniekerig raak en voorrade bymekaarmaak, opgaar en wegkruip – uit vrees en in wantroue van ons hemelse Vader se sorg.

Natuurlik, steek God dikwels sy kinders weg in tye van chaos. Jesus self het die inwoners van Jerusalem gewaarsku om te vlug wanneer hulle die Chaldeërs sien aankom. En God was getrou om vervolgde Christene dwarsdeur die geskiedenis weg te steek. In hierdie eeu, het Hy baie Jode tydens Hitler se verskriklike suiwering weggesteek en het dikwels Christene gebruik om dit te doen. The Hiding Place is ‘n wonderlike, hedendaagse storie van God se bewarende krag in hierdie verband.

Tog glo ek vandag dit is baie belangriker vir Amerikaanse Christene om te fokus op geestelike voorbereiding – of, geestelike “wegkruip” – voor die naderende storm toeslaan. Laat my jou vertel waarom.

Die naderende chaos gaan die kerk oopmaak vir – bedieningsgeleenthede – wat meer is as wat ons nog ooit gesien het!

As jy die geskiedenis van herlewings in Amerika bestudeer het, mag jy kennis dra van die “laymen’s revival” van die 1850’s. Dit het begin in ‘n kerk in middestad van New York Stad. ‘n Christen gemeentelid het ‘n 12 uur gebedsbyeenkoms by die kerk begin en dadelik was die heiligedom vol. Verder was die byeenkomste gekenmerk deur vurige gebed en geween.

Waarom het hierdie byeenkomste groot skares getrek in so ‘n kort tyd? Dit was omdat die meeste van diegene wat dit bygewoon het, die skielike werkloses, paniekbevange werkers en besigheidsmense was wat hulle werk oornag verloor het weens ‘n aandelebeurs ineenstorting. Op daardie stadium, was daar geen gemeenskapsveiligheidsnet in plek nie – geen bestaansekerheid, geen werkloosheidsversekeringstjeks nie en geen versekering nie. Hierdie werklose mense was bang – daarom het hulle hul na gebed gewend.

Op daardie stadium het die meeste kerke in New York Stad gebedsbyeenkomste laat vaar. Maar gou moes hulle weer hulle deure oopgmaak weens die talle versoeke van geteisterde mense wat niemand gehad het om na te gaan nie. Net so, in die chaotiese dae daarna, sal menigtes van Amerikaners gedryf word na gebed uit volslae desperaatheid. Hier by Times Square Church, maak ons gereed om gebedsbyeenkomste elke dag van die week te hou.

Ek glo dat wanneer die storm toeslaan met volle drif en die nasie met paniek en vrees wankel, sal mense wegvlug van alle valse evangelies en voel-goed-kerke. Christene sal vergeet van Christelike vermaak en Christelike TV en hulle sal begin aandring op die harde waarheid. Hulle sal daarheen stroom om goddelike bedienaars te hoor en aandring op die ware woord van God. Hulle roepstem sal wees, “Wie sal vir ons ‘n profetiese, lewensveranderende woord verkondig?”

Ek is al baie keer gevra, “Glo jy ons sal ‘n groot herlewing sien in hierdie laaste dae – veral tydens die moeilike tye wat jy sien kom?”

Ja, jy kan seker wees dat ‘n groot herlewing kom. Maar dit sal nie ‘n herlewing wees soos ons vandag daaraan dink nie. Niemand sal lag of dieregeluide maak in daardie onstuimige dae van afrekening nie. Nee, die enigste soort herlewing wat die behoeftes sal aanspreek van hierdie samelewing – wat in sy wese geskud is met vrees en skrik – sal ‘n herlewing wees van Heilige Gees gestuurde waarheid!

God se antwoord vir elke afvalligheid, krisis, onrus en chaotiese tyd is altyd as volg: ‘n vars openbaring van die opgestane Christus!

Wanneer die Heilige Gees inbeweeg, wat sal die manifestasies van sy werk wees? Jesus het die bediening van die Heilige Gees as volg geïdentifiseer:

“Maar die Trooster, die Heilige Gees wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het” (Johannes 14:26). “Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei...” (Johannes 16:13).

Jesus sê die Heilige Gees is die Gees van waarheid – en Hy getuig net van die waarheid. Hy sal nie getuig van enige onjuiste evangelie of vleeslike manifestasie nie. Hy is getrou aan die kruis – aan die evangelie van genade wat ons leer om ongeregtigheid te versaak. En Hy sal getuig van die waarheid wat afkomstig is uit Christus se werk aan die kruis.

Dit is jammer dat talle charismatiese Christene vandag baie daarvan praat om Geesvervuld te wees – maar die waarheid ontbreek hulle heeltemal. Hulle is nie intiem met Christus nie – en daarom weet hulle nie hoe om van Hom krag in waarheid te verkry nie. Hulle bewe nie voor die waarheid van sy woord nie. Hulle weet nie hoe om te wandel in sy opstandingskrag of heeltemal afhanklik van Hom te leef nie. In plaas daarvan, verdraai en manipuleer hulle sy woord en lê dit verkeerd uit om hulle vlees te akkommodeer.

Jesus sê ons moenie bewe van vrees oor die verskriklike dinge wat oor ons nasie kom nie. Maar ons moet in heilige eerbied bewe voor God se woord: “...maar op hierdie een sal Ek let: op hom wat arm is en verslae van gees, en wat bewe vir my woord” (Jesaja 66:2).

Simson verteenwoordig bedienings en bedienaars wat feesvier in die Heilige Gees se krag – maar wat die Gees van die waarheid ligtelik opneem!

Simson was ‘n man wat heeltemal onvoorbereid was vir die krisis wat sy geslag gely het. Hy het sy gawes misbruik en die krag wat die Heilige Gees vir hom gegee het verkwis. En ek glo sy mislukking en val was bedoel as ‘n les, veral vir die kerk in hierdie laaste dae.

Toe Simson gebore is, was Israel geteister deur armoede en was hulle in slawerny en diepe verdrukking, omdat “die kinders van Israel het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE..” (Rigters 3:7). Maar God het Simson opgerig om ‘n verlosser van vernietiging en wanhoop te wees in hierdie tyd. Die Skrif sê vir ons, “Die Gees van die HERE het hom begin drywe...” (Rigters 13:25) op ‘n jong ouderdom. Die Hebreeuse woord hier vir “drywe” beteken “’n gewone aanraking.” Met ander woorde, God se Gees het Simson voortdurend gelei.

Simson was inderdaad van geboorte af geroep om ‘n Nasaréner te wees. Die woord “Nasaréner” beteken “om af te sonder, te heilig en te onthou.” Kortliks, Simson was aangestel om ‘n heilige, afgesonderde lewe te lei – nooit sy hare te sny nie, nooit wyn of enige bedwelmende drank te drink nie, nooit naby ‘n dooie liggaam te gaan nie, selfs al was dit ‘n naby familielid. Hy was afgesonder vir die gebruik deur Heilige Gees en daarom moes hy ‘n totaal geheiligde werktuig wees.

Ons weet dat die Heilige Gees Simson aangeraak het lank voor hy sy bediening in Israel begin het. Hoe het die Gees egter Homself gemanifesteer in Simson? Petrus sê vir ons, “...maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek” (2 Petrus 1:21). Alle fisiese manifestasies wat in die Ou Testament plaasgevind het, was altyd vergesel met God se Gees wat in en deur mense gespreek het.

Toe die Heilige Gees Simson aangeraak het, het die Gees sekerlik aan hom die woord, wat hy as kind geleer het, bevestig. En die Gees se roerings het Simson voortdurend daaraan herinner dat die geheim van sy krag gelê het in sy totale afhanklikheid van die Here. Slegs deur die Heilige Gees sou hy in staat wees om afgesonder te bly en blywend sy oë op sy roeping te hou.

Trouens, God sou nooit ‘n man uitstuur om ‘n noodsaaklike werk van krag te doen sonder om eers vir hom die manier te leer waarop die Gees met hom sou werk nie. Daarom het Simson ten volle geweet dat hy onder die beskerming van die Gees van waarheid moes bly – deur heilig te bly en hom van goddeloosheid te onthou – sodat hy die Gees se krag kon bedien.

Ons weet egter uit Simson se lewe dat hy ‘n drywende gebeerte gehad het – ‘n oorweldigende passie vir “vreemde” vroue. Hy het eers ‘n verhouding gehad met ‘n verbode Kanaäniet, toe met ‘n hoer in Gasa en uiteindelik met die prostituut Delila. Om dit eenvoudig te stel, Simson het ‘n verskriklike seksuele verslawing gehad.

Natuurlik was die Heilige Gees ten volle bewus van Simson se geneigdheid tot wellus. En terwyl die Gees Simson aangeraak het, sou Hy vir hom die waarheid wat Paulus in die Nuwe Testament uitgedruk het, bekend gemaak het: “...as julle deur die Gees die werke van die liggaam doodmaak, sal julle lewe” (Romeine 8:13). God se Gees spreek altyd met mense wat deur sonde geteister word en moedig hulle aan, “Vertrou op My! Ek sal jou die weg na seëvierende oorwinning lei.”

Simson het toegang gehad tot al die krag van die Heilige Gees om ‘n heilige lewe te lei. Maar hy het die Gees se stem geïgnoreer. En hy het dit sy eerste sending gemaak: “Simson...sien in Timna ‘n vrou...en [het] dit aan sy vader en sy moeder vertel en gesê...neem haar dan nou as vrou vir my...” (Rigters 14:1-2).

Simson het gewaag om die krag van die Heilige Gees te gebruik sonder onderwerping aan die Gees van die Waarheid – en die resultaat was blote toneelspel!

Net soos Satan, het Simson nie “...[ge]staan...in die waarheid nie...” (Johannes 8:44). En enigeen wat dit waag om die Heilige Gees se krag sonder sy waarheid te gebruik, sal op die ou end net toneelspeel.

Toe Simson die hoer in Gasa besoek het, het die Gasiete hom omsingel en gewag om hom te vang. Toe het iets bonatuurliks gebeur: “En Simson het gelê tot middernag; maar teen middernag het hy opgestaan en die deure van die stadspoort en die twee deurposte gegryp en dié met grendel en al uitgeruk en op sy skouers gesit en dit opgedra na die top van die berg wat teenoor Hebron lê” (Rigters 16:3).

Wat ‘n daad van krag! Simson se optrede was sonder twyfel ‘n demonstrasie van bonatuurlike krag. Tog was dit in der waarheid niks meer as toneelspel nie. Dit het alles afgespeel voor ‘n slapende stad van ongeërgde heidene – met geen oorwinning wat behaal is nie, geen slawerny wat verbreek is nie en geen verlossing wat bewerk is nie. Terwyl ek die gedeelte lees, wonder ek, “Waaroor het dit alles gegaan? Wat was die doel?”

Net so vandag, speel baie sogenaamde herlewings af voor ‘n wêreld wat onaangeraak en ongeaffekteer word deur sulke demonstrasies. Jy sien, wanneer die Gees van waarheid nie voorrang kry nie, is alle vertoon van bonatuurlike krag – tekens, wonders en manifestasies – op die ou end leë toneelspel.

Jy mag vra, “Maar Broer Dave – glo jy nie in manifestasies van die Gees nie?” Ek glo sekerlik. Maar as enige manifestasie nie gegrond is op die Gees van waarheid nie, is sy krag nutteloos. Net die waarheid maak siele vry!

Dink aan hoe min Simson bereik het in sy bediening deur al sy demonstrasies van krag sonder enige ware doel: Hy het ‘n leeu met sy kaal hande doodgemaak. Hy het 300 jakkalse gevang en hulle sterte aanmekaar gebind. Hy het ‘n klompie lande en vrugtebome afgebrand. Niemand was egter verlos deur enige van hierdie dade nie.

Die tragiese werklikheid van Simson se lewe was duidelik: Hy het heeltemal misluk in sy sending. Na twintig jaar van sy bediening, was Israel in net so ’n groot slawerny as toe Simson begin het.

Saul is ‘n ander voorbeeld hiervan. Hy was “neergeslaan deur die Gees” en het uitgestrek voor God gelê en geprofeteer. Maar op die ou end was dit alles toneelspel. Waarom? Saul het geen verandering in sy hart ondergaan nie. Al daardie manifestasies was vermors, omdat Saul homself nie aan die Gees van waaheid onderwerp het nie. Om Paulus se frase te gebruik, Saul was “van die waarheid beroof” (1 Timóthéüs :5).

Geliefde, die krag van die Heilige Gees rus in God se woord – trouens, in sy kruis: “Want die woord van die kruis is wel dwaasheid vir die wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God” (1 Korinthiërs 1:18).

Vandag stel talle herders en evangeliste nie daarin belang om die Gees van waarheid te soek nie. Hulle dink hulle kan te enige tyd die Heilige Gees roep om af te kom en alle mag van die hel weg te vee. Maar hierdie mense sal nie voorbereid wees vir die donker tye wat kom nie!

Die enigste manifestasies wat ons sal sien wanneer die storm toeslaan, sal mans en vroue wees wat op hulle knieë neerval in ontsag en vrees voor God se woord. Hulle sal neergeslaan word deur die deurdringende, oortuigende, sielreinigende prediking wat kom van die Gees van waarheid!

God weet wat aan die kom is – en Hy weet die presiese uur waarop Amerika se tugtiging sal begin!

Die Here weet reeds hoe mense sal reageer op die naderende storm. Hulle sal paniekbevange en vol vrees wees. Jesus waarsku immers dat ‘n tyd sal kom wat so vreesaanjaend sal wees dat mense se harte sal beswyk as gevolg van vrees en spanning.

Selfs in die uitvoering van sy oordeel, reik God altyd uit met tere barmhartigheid. Hy werk reeds ver voor die tyd en maak planne vir sy mense en raak sy ware herders aan. Trouens vandag – terwyl die grootste deel van Amerika fokus op voorspoed – wek God ‘n heilige oorblyfsel op in die kerk. Hierdie heiliges is op hulle aangesigte en soek Hom met al hulle krag en roep uit vir ‘n ware woord van die Gees van waarheid. En ek glo die Gees openbaar Christus aan hulle met ‘n heerlikheid ver bo enige vorige geslag!

In die afgelope maande, het ons bediening honderde briewe ontvang van pastore en gelowiges, wat gewalg is deur baie van wat hulle in die kerk sien: bohaai, dwaasheid, vermaak en oppervlakkige preke. Hulle roep uit, “Genoeg! Ons is moeg om te sien hoe ons herders na konvensies gaan en terugkeer net om een of ander nuwe foefie in te lyf. Ons is siek daarvoor om te sien hoe die vlees geakkommodeer word. Ons is honger vir waarheid! Ons wil prediking hoor wat ons oortuig van sonde en ons uitdaag tot heiligheid en gebed.”

Gelowige, jy kan gerus wees – in die komende dae van rampspoed, sal die ware herlewing nie kom deur vertoon, grootskaalse predikers of TV evangeliste nie.  Dit sal nie kom deur voorspoedsleringe of ander doktrienes of valse sekuriteit nie. Nee – God se herlewing sal kom deur ‘n weggesteekte geselskap van herders en gemeentelede wat in die skool van Christus was, sy weë geleer ken het en op Hom vertrou. Dit sal lei tot ‘n herlewing van waarheid!

Ek glo ons sien reeds tekens van die Gees se werk in Amerika, waar Hy die braaklande omploeg ter voorbereiding vir hierdie herlewing. Die Op-Ed (Opinion and Editorial) bladsy van die New York Times, Mei 24, 1998, het ‘n artikel bevat getiteld “Coming – the Most Religious Century.” Die artikel het die volgende berig:

  • Norman Mailier, die beroemde heidense en liberale skrywer het verklaar, “Godsdiens vir my is nou die laaste grens.”
  • Vaclav Havel, die welbekende Tjeggiese skrywer en leier, noem Amerika “die mees ateïstiese samelewing in die geskiedenis van die wêreld.” Hy en Mailer stem egter saam dat ons nasie op die rand is van die mees godsdienstige tydperk in sy geskiedenis.

Die mees verstommende van alles is, is dat Mailer en Havel nie net ‘n terugkeer voorspel na enige ander godsdiens nie, maar spesifiek na Judaïsme en Christendom. Hulle voorspel dat selfs wetenskaplikes sal smag na geloof.

Natuurlik is hulle reg – die eeu van rede en wetenskap het misluk om die mensdom se behoefte vir vrede te vervul. Sosialisme het misluk...kommunisme het misluk...politiek het misluk...die nuwe eeu het misluk. En nou roep selfs die mees suksesvolle mense in ons samelewing uit, “Daar moet meer wees aan die lewe as dit!”

Niemand sal egter die waarheid wil hê nie. Talle sal hulle wend tot onbeheersde wellus. Ons samelewing sal moontlik Sodom herhaal sien ‘n honderd keer erger. Maar as ons nasie wankel op die rand van chaos, sal talle Amerikaners begin om waarheid, antwoorde en lewe te soek.

Maar ek wil deur die tye wat kom gaan as “...’n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny” (2 Timótheüs 2:15). Ek glo dit is die manier hoe ons vir die dae wat voorlê moet voorberei – deur die lende te omgord met die waarheid (sien Efésiërs 6:14).

Ek moedig jou aan: Vra die Here om jou gereed te maak – op sy manier – vir die dag waarop Amerika se goue kalf gaan val. Soek sy Gees van waarheid in jou geheime binnekamer. Leer om sy stem te herken bo al die wêreldse geraas wat in sy kerk aangaan. Dan sal jy waarlik gereed wees om die komende storm te trotseer!