Sopie-Gelowiges

David Wilkerson

“Die wyn is ’n spotter, en sterk drank ’n lawaaimaker; en elkeen wat daardeur bedwelmd raak, is nie wys nie” (Spreuke 20:1).

Hierdie land word vinnig ‘n samelewing wat deurdrenk is met te veel dronk burgers. Alkohol is nou die moderne goue kalf, en miljoene mense, jonk en oud, man en vrou, word daardeur verlei.

Die geheelonthouers, die voorstanders van die drankverbod en al die ander wat jarelank geveg het teen hierdie stroom van drank, word afgelag. Ons lag en spot met daardie oytydse vroutjies wat rondgegaan, vate whiskey stukkend geslaan, kroeë kantiene toegemaak en die eed van onthouding afgelê het.

Ons bevryde hedendaagse mense het dit mode gemaak om te drink. Dit word nou gesofistikeerd, fyn beskaafd en “cool” beskou om sosiaal te drink. Probeer om “Nee” te sê vir die lugwaardinne wat aanhou om drankies na jou toe te bring van die tyd af wat jy op die vliegtuig geklim het tot jy afklim. “Wat bedoel jy, geen drankies?” Sy kyk na jou asof jy een of ander waansinnige is omdat jy gratis drankies weier.

Mense neem aanstoot wanneer jy hulle aanbod weier om ‘n komplimentêre drankie te aanvaar. Hulle probeer om jou te laat voel asof jy onvriendelik is omdat jy nie by hulle aansluit nie, of dat jy ‘n skynheilige gesindheid het. Selfs President Carter kon nie drankies uit die Withuis hou nie.

“Wees nie onder die wynsuipers nie...” (Spreuke 23:20).

Vir my, is die ware tragedie dat so baie mense wat hulleself “Christene” noem, nou drink. Ek noem hulle “sopie-gelowiges,” omdat dit is hoe dit begin – een sopie op ‘n keer. ‘n Onlangse peiling het bevind dat 81% van alle Katolieke nou drink en 64% van alle Protestante. Hierdie skokkende getalle hou aan klim elke maand. Die permissiewe gesindheid teenoor sosiale drinkery sluip nou selfs in by die mees konserwatiewe evangelistiese kerkkringe. Ek het by Charismatiese konferensies gepraat waar duisende “Geesvervulde” heiliges van God hande ophef tydens lofprysing en aanbidding tot God – en nadat hulle verdaag het, loop duisende uit na die parkeerterrein, maak hulle kattebakke oop en haal ‘n paar sespakke uit en deel dit uit aan mede aanbidders. Ander bestel gemengde drankies saam met etes by die restaurant, tussen hulle lofprysingsessies. Hulle keer terug met sleeptonge.

“En daar is siter en harp, tamboeryn en fluit en wyn by hulle maaltyd; maar op die dade van die HERE gee hulle geen ag nie, en die werk van sy hande sien hulle nie” (Jesaja 5:12).

Die profeet Jesaja het ‘n boodskap vir die hele Charismatiese beweging – in beide Katolieke en Protestant kringe.

“Daarom gaan my volk in ballingskap weens gebrek aan kennis... Maar hoog sal die HERE van die leërskare wees deur die strafgerig, en die heilige God sal Hom as die Heilige laat ken deur geregtigheid” (Jesaja 5:13-16).

Die profeet Hoséa het gesê, “Hoerery en wyn en mos neem die hart weg” (Hoséa 4:11).

Dit sê dat Sopie-gelowiges verdeelde harte het.

Geesvervulde mense sê hulle is “konings en priesters” van die Here. Die Bybel stel dit onomwonde,

“Konings moet nie wyn drink nie, en die vorste moet nie sterk drank begeer nie; anders drink hy en vergeet die insettinge en verdraai die reg...” (Spreuke 31:4,5)

Die skrywer van Spreuke sê dat gelukkige, oorwinnende Christene wyn nie nodig het nie en dat dit net vir die neerslagtiges en sterwendes is.

“Gee sterk drank aan hom wat wil ondergaan, en wyn aan die wat bitter bedroef is” (Spreuke 31:6).

‘n Goeie Christelike dame het vir my geskryf en gesê:

“Ons is goeie kerkbywonende Christene. Ons het die Here lief, en ons sien glad niks verkeerd daarmee om wyn in ons huis te bedien nie. Ons drink matig en ons kinders leer om onder ons toesig te drink. Hulle gaan hulleself nie te buite nie. Ons het nog nooit iemand dronk in ons huis gesien nie. “U probeer slegs om ons skuldig te laat voel en dwing u fundamentalistiese sedes op ons af. Ons is nie grootgemaak onder die wettiese taboes soos u duidelik was nie. Om die waarheid te sê, meneer, ons drankgewoontes het niks met u te doen nie.”

Mag God daardie vrou seën – maar een van die dae sal dit my besigheid wees. Dit word my besigheid wanneer daardie tieners saam met hulle vriende uitgaan en dronk word. Net vandag, het een van my studente, ‘n bekeerde alkoholis, vir my vertel hoe sy ‘n dronkaard geword het. Haar ouers het haar geleer om matig te drink. By partytjies, by verjaarsdae en wanneer mense kom kuier het, het almal ‘n sosiale drankie gedrink. Dit was by etes bedien. Sy het haar ouers bewonder en liefgehad. Hulle het dronkenskap verafsku, maar hulle het ‘n kroeg in die huis gehad. Hierdie jong dame het begin om na tienerpartytjies te gaan en om sosiaal saam met haar vriende te drink. Dit het gelei tot ‘n drinkery in klubs. Gou was sy dronk in geparkeerde bakkies. Uiteindelik, toe probleme begin kom het, het sy begin om erstig op wyn staat te maak. Sy het in ‘n geestesinrigting beland as ‘n geharde alkoholis. Dieselfde storie word herhaaldelik vir my vertel van kus tot kus. Hoeveel keer het ek dit al gehoor, “My ouers was beskou as goeie Christene. Hulle het kerktoe gegaan. Maar ons het altyd wyn of bier by ons huis bedien. My ouboet het matig gedrink en hy was my held. Ek het gedrink om soos my ouers en ouboet te wees, maar kon dit nie hanteer nie. Maar hulle het my laat dink dat drink die ding was wat alle goeie mense doen.”

Is ek bevooroordeeld? Eng in my denke oor die onderwerp? Verseker is ek! En ek het rede om te wees. My eie broer, ‘n bedienaar se seun, het begin om bier matig te drink – net om met vriende te sosialiseer. Hy het op die ou end ‘n swaar drinker geword, het sy vrou en pragtige kinders verlaat om sy gewoonte na te jaag. Dank God hy is vandag gered en terug by sy gesin. Ek het egter my broer, Jerry, saam met ‘n span bekeerlinge na Europa gestuur om daar te gaan getuig oor wat Christus gedoen het om hom van die mag van alkohol te verlos. Die Christene in Europa het met blydskap die getuienisse van verlossing van dwelms en prostitusie ontvang – maar hulle wou nie ‘n woord hoor oor Jerry se verlossing van alkohol nie. Waarom nie? Omdat Europese Christene wyn en bier soos water afsluk. Dit het sy hart gebreek. Ek het al die verskonings vir die drinkery onder Christene in Europa gehoor – en ek kan nie één daarvan aanvaar nie. Hulle blameer dit op onsuiwer water. Hulle sê dat dit in hulle kultuur en gewoontes ingewortel is. Hulle drink “omdat hulle dit nog altyd gedoen het.” O, hoe ernstig het die herders in Parys, Frankryk, aanstoot geneem toe ek geweier het om hulle wyn te drink. Amerikaanse sendelinge, wat self maklik die Europese gewoontes aanvaar het, het vir my gesê ek “moet doen soos die Parysers doen as ek in Parys is!” Hoe ernstig het ek egter aanstoot geneem toe dieselfde bedienaars so dronk was dat hulle nie kon wakker bly tydens my veldtogte nie. Daar is ontstellende syfers van alkoholisme en van hewige drinkery in Christelike kringe in Europa. Hulle word dronk! Hulle doen dit nie matig nie! Nie een van hulle verskonings maak dit reg nie. En watter skynheiligheid van Amerikaanse Christene om “net in Europa” te drink. Hulle sal nie ‘n druppel aanraak hier in Amerika nie, maar hulle dink dit is “oulik” om by die broeders oorsee aan te sluit en ‘n bietjie te drink.

Ek neem ernstig aanstoot teen drinkende Christene weens die verskriklike voorbeeld wat dit vir jongmense stel! Hierdie nasie beleef nou ‘n plaag van drankmisbruik onder tieners. Die twee gewildste woorde in skool vandag is “cruising and boozing.” Dronkenskap versprei in ons skole soos ‘n veldbrand wat buite beheer is. Kinders vertel vir my dat soveel as 80% van hulle klasmaats drink nie net nie, maar word smoordronk.

Dit is baie moontlik dat ons volgende jaar meer as een miljoen jong alkoholiste sal hê. Ek help dwelmverslaafdes nou al vir 20 jaar. Maar hierdie drankmanie wat nou oor ons land versprei, maak my bang. Hulle drink nou omdat hulle dink alkohol sal hulle nie laat wegteer soos dwelms nie! Drank is nou die verkose “vloeibare dagga.” Oral sien jy tieners wat smoordronk word. Hulle sê vir jou – “Geen polisie, geen ouers, geen politici kan ons nou pla nie – omdat hulle dit almal self ook doen. Ons het uiteindelik iets opwindends gekry wat ons nie agter tralies sal laat beland nie!”

Ek wil nie betrokke raak in daardie eeu-oue argument oor die Bybel en gefermenteerde wyn in teenstelling met druiwesap nie. Maar hoe meer ek hierdie uitgebomde, gebroke, hopelose, dronk jongmense sien – hoe meer is ek oortuig dat Jesus nie daardie skare by Kana se bruilof versoek het met dieselfde ding wat ons jeug vandag vernietig nie. Christus het gekom om die wet te vervul! Die wet sê, “Die wyn is ’n spotter, en sterk drank ’n lawaaimaker; en elkeen wat daardeur bedwelmd raak, is nie wys nie.” Was Christus mislei? Sou Hy ‘n drankie bedien wat daartoe sou lei dat ‘n mens ‘n fees dronk verlaat om sy vrou te slaan? En in die hof word daardie man gevra, “Hoe het jy so dronk geword?” En die veroordeelde man antwoord, “Ek het na ‘n bruilofsfees gegaan. Jesus van Násaret het ‘n regtig sterk drankie bedien. Hy het my dronk gemaak.”

Ek kan nie dink dat Jesus daardie skare sou verlei en ‘n drankie bedien wat misbruik kon word as dit oormatig gebruik was nie. Ek glo die drankie wat Jesus bedien het, was die suiwer sap van die wynstok – ‘n bonatuurlike pons so vol van die natuur se ware nektar, dat dit ‘n unieke en welkome verandering was! Sou Jesus alkoholiese inhoud by Sy bonatuurlike drankie voeg en dit laat “byt” as die wet sê, “Kyk nie na die wyn as dit rooiagtig lyk, as dit sy glans gee in die beker...nie” (Spreuke 23:31)?

Dit was geskryf deur ‘n koning wat “homself oorgegee het aan wyn” (Prediker 2:3). En Christus sou nooit ooit sy gaste oorgee het aan wyn wat dronk maak nie.

Paulus het ook die wet geken. Hy het die wysheid van Salomo gerespekteer. Suiwer sap van die druif is goed vir die gesondheid! Dit is voedsaam. Maar gefermenteerde wyn is nie méér voedsaam nie, volgens ‘n doktersvriend van my wat goed belese is oor die onderwerp. Hoe kon Paulus die drink van alkohol aanbeveel as die wet wat hy so eerbiedig het, gewaarsku het, “...wees nie onder die wynsuipers nie...”?

Maar die eintlike saak is nie of die Nuwe Testament verwys na gefermenteerde wyn of druiwesap nie. Die eintlike saak is die misbruik daarvan wat so algemeen is vandag. Salomo het ‘n duisend vroue gehad. Eens het Moses egskeiding toegelaat. God het dit oorgesien! Maar God sien dit nie oor wanneer Sy wette so verdraai en misbruik word nie. Kyk na waarheen ons permissiwiteit ons gelei het. Sogenaamde Christelike disko’s, waar daar bier gedrink en gedans word op Christelike musiek. Ruk, rol, drinkende “Christene.” “...Anders drink hy en vergeet die insettinge en verdraai die reg...”

Ons vergeet die wette van God, die wette wat Jesus gesê Hy gekom het om te vervul. Ons laat nou ‘n lesbiese priester toe om aangestel te word in die Episkopale kerk. Homoseksuele spog nie net met hulle sonde nie, hulle soek met vrymoedigheid erkenning en gesag binne die kerk. Eenmiljoen nuwe egskeidings hierdie jaar. Tienmiljoen kinders is slagoffers van gebroke huise. Naakte dansery in die kerkheiligdom. Liberale bedienaars spot met outydse Bybelse seksstandaarde. Hulle sê nou vir ons kinders, “Masturbasie is ‘na gawe van God om jou spanning te verlig.” Die ergste wetteloosheid denkbaar, wat skreeu om alle wetteloosheid te beëindig, is dat sommige van ons kerke as ‘n front dien vir anti-God, Kommunistiese anargiste wat demokrasie wil vernietig – en hulle gebruik die kerk se sendinggeld om geheime dade van geweld van stapel te stuur.

Drink Christene as gevolg van onkunde? Het niemand hulle met die Woord van God gekonfronteer nie? Drink hierdie nuwe bekeerlinge van die Jesus-beweging om te bewys hulle is vrygemaak en nie onder die wet nie?

‘n Jong dame, ‘n lid van ‘n Christelike liefdesgemeente, het onlangs vir my geskryf en gesê, “Ons almal drink sekerlik. Jesus het; Paulus het! Die Bybel is nie daarteen nie. Ons leiers drink matig. Hulle is goeie Bybelleraars en hulle reis en praat by jeugsaamtrekke.” Ja – en ek weet sommige van hulle rook ook. Hulle meng Jesus het hulle heavy rock musiek, en net God weet waar hulle kompromie sal eindig.

Dit lyk of hulle dink dat om die woord “Jesus” by enigiets te voeg, dit heilig en reg sal maak.

Jy sê – “Moenie oordeel nie, Dawid! Wat van die balk in jou eie oog?” Ek is niemand se regter nie. Ek het nie myself aangestel as een of ander segsman vir enige groep nie. Maar Paulus het gesê, “Ons oordeel diegene hier binne – God oordeel diegene daar buite.”

Dit is tyd dat daar vir oordeel gevra word! Dit is tyd vir alle drinkende Christene om gekonfronteer te word! Dit is tyd vir die Heilige Gees om die losbandigheid, die slap “alles is aanvaarbaar” gesindheid openbaar te maak. As dit verkeerd is om te drink, selfs matig, vir my dierbare bekeerde alkohiliste, verslaafdes en prostitute, dan is dit dodelik verkeerd vir volwasse Christene om te drink en ‘n slegte voorbeeld te stel vir hulle.

En ek raak geestelik baie verontwaardig wanneer drinkende Christene my antwoord met – “Ag, jy is net ‘n fundamentalistiese, wetsgebonde, sedes weldoener. Ons hedendaagse vrygemaakte Christene is vry in Christus. Ons is nie onder die wet nie. Ons sal nie gebind word deur aanvalle op ons vryheid nie.” Dit gee aanstoot binne-in my teen alles wat smag na goddelikheid en heiligheid. Dit gee aanstoot teen elke jong bekeerling wat God veroordeel het vir vorige drankgewoontes. En die Bybel sê, “maar elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, laat struikel, dit is vir hom beter dat ’n meulsteen aan sy nek gehang word en hy wegsink in die diepte van die see. Wee die wêreld weens die struikelblokke! Want dit is noodsaaklik dat daar struikelblokke kom, maar wee die mens deur wie die struikelblok kom” (Matthéüs 18:6-7).

Ek weier om toe te gee aan toenemende druk van wêreldsheid – verbloem deur geestelike vryheid! Wat het met ons gebeur, heiliges van god – wanneer ons, sonder om iets te doen, kan staan en kyk en nie die vinnig agteruitgaande sedes in die huis van God bestraf nie? Ek glo in vrye genade, maar nie wetteloosheid nie. Ek glo in die toegerekende geregtigheid van Christus deur geloof. Maar ek glo ook in die heiligheid van God wat vereis dat ons “nie aanraak wat onrein is nie.” Ek glo ook dat bedienaars wat rook, nie eerlik met God is nie. Hierdie profete wat rook weier om te doen wat hulle verkondig. En bedienaars wat drink is ‘n skande vir die Naam en gesag van God. Dit is nie ‘n poging om ware bedienaars van die evangelie te veroordeel nie. Maar hoe kan ons as bedienaars en ouers ons kinders vra om op te hou om dwelms en alkohol te gebruik, as ons nie ons eie lewens sal regruk en ‘n Christus-tipe voorbeeld stel nie?

Soms, net vir ‘n vlugtige oomblik, dink ek heimlik, “Miskien is ek die een wat verkeerd is. Miskien sien hierdie nuwe Christene wat ruk en rol, rook, drink, en wat teruggaan na hulle ou lêplekke om te sing, te vermaak en te speel – miskien het hulle iets in God gesien wat ek nog nie gesien het nie. Miskien is al hierdie vinnige veranderinge nie kompromie nie, maar ‘n teken van volwassenheid en groei. Miskien is ek te outyds – te veel die kluts kwyt om een of ander nuwe ding wat God doen raak te sien.” Maar dan begin ek die prettige, luidrugtige klanke van hulle musiek vergelyk met die ou liedere soos “The Old Rugged Cross,” en “Heilig, Heilig, Heilig.” Dan wil ek huil! Ek kyk hoe hulle teruggaan na daardie rookgevulde klubs om die drinkende skare te vermaak onder voorwendsel om Jesus na hulle te neem, en dan vergelyk ek hulle met al die miljoene van God se kinders oor die eeue heen, van die martelare af tot by die bekeerde verslaafdes en bendes van vandag, wat die wêreld en al sy assosiasies laat staan het om die skande van Christus op te neem. Ek begin huil vir daardie gekompromitteerde Christene. Ek weet ek is nie verkeerd nie.

Moet asseblief nie vir my kwaad word nie! As jy een van die sopie-gelowiges is – moenie toelaat dat jou seerkry of woede jou beroof van die waarheid nie. As jy agterkom jy verag hierdie boodskap van afsondering – is dit waarskynlik omdat God jou reeds oortuig het van sonde – en Hy wil hê jy moet volkome vryheid geniet.

Bid ook dat God dit op die harte van bedienaars dwarsdeur die land sal lê – om ‘n vrymoedige stand in te neem op hulle kansels teen hierdie verraderlike neigings.

Bid vir ons tieners! Die druk op hulle om saam met die skare te drink word erger by die dag. Hulle moet aangemoedig word om op te staan en dit te weerstaan, of hulle sal in hierdie draaikolk van dronkenskap ingetrek word.

Selfs as jy nie “veroordeel” voel nie – onthou jou vir die eenvoudige maar kragtige rede van ‘n voorbeeld stel vir die jeug!

“By wie is „Ag!”; by wie is „Wee my!”; by wie is getwis; by wie is geklaag; by wie is wonde sonder oorsaak; by wie is dofheid van oë? By die wat láát opbly by die wyn, by die wat ingaan om gemengde drank te proe. Kyk nie na die wyn as dit rooiagtig lyk, as dit sy glans gee in die beker, glad na binne gly nie: op die end byt dit soos ’n slang en spuug gif uit soos ’n basilisk. Jou oë sal vreemde dinge sien en jou hart verkeerde dinge spreek” (Spreuke 23:29-33).