Dis Tyd om te Glo

‘n Gasteboodskap vir ‘n Tyd van Nood

Iets ontbreek in ons midde. Dit is weg en ons moet dit terugbring. Een kerk kan dit nie maak gebeur nie; die hele liggaam van Christus moet verenig met een gees en God soek om dit te bewerkstellig. Ek praat van die krag van Christus om mense wat in ongelooflike nood verkeer te verander en te transformeer. Ons het almal vriende, bure en mense wat ons nie nog nie ken nie wat ly. God het die mag om wonderwerke in hulle lewens te verrig en ek en jy is betrokke. Nou is die tyd om te glo sodat dit kan gebeur.

Tweeduisend jaar gelede, toe mense op hulle laagste punt was, het God ‘n plan in werking gestel om ons te red. Jesus, wat aan die regterhand van God gesit het, het al sy krag in die hemel prysgegee en in die menslike geskiedenis ingebars. Hy “wat self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra het, sodat ons die sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid lewe; deur wie se wonde julle genees is” (1 Petrus 2:24).

Die Here het nie sy Seun gestuur om net in ons plek te sterf nie, Hy het ons die Heilige Gees en ‘n plan om dissipels te maak deur sy kerk te bou, gegee. Die vroeë Christene wat Hy opgewek het, was ‘n dinamiese liggaam aktiewe, biddende gelowiges.

Ten spyte van verskriklike vervolging en teenstand, het die eerste Christene in die krag van die Heilige Gees gelewe.

“Want ons evangelie het tot julle nie gekom in woord alleen nie, maar ook in krag en in die Heilige Gees en in volle versekerdheid” (1 Thessalonicense 1:5). Die vroeë Christene het van die mees verstommende dade van God in die geskiedenis beleef. Die Here het wonderbaarlike dinge deur hulle gedoen en hulle was daarin verenig om hierdie goeie nuus na die wêreld te bring. “En die menigte van die wat gelowig geword het, was een van hart en siel ... En met groot krag het die apostels getuienis gegee van die opstanding van die Here Jesus, en groot genade was oor hulle almal” (Handelinge 4:32-33).

Die vroeë kerk het geweet dat dit hulle doel was om die goeie nuus van God se krag en liefde te versprei, en hulle het groot sukses gehad toe hulle die evangelie in Jesus se Naam na die wêreld geneem het. In die eerste 25 jaar van die kerk, het dit van 120 mense na meer as 100,000 gegroei. God het onder hulle beweeg en daagliks by hulle getalle gevoeg.

Dit alles het gebeur ten spyte van teenstand van magtige vyande. In Handelinge 12, sê die Bybel dat die grootste bedreiging vir die kerk Koning Herodus was. Herodus het dit sy sending gemaak om Christene uit te wis en sy eerste aanvalsplan was om van hulle leiers ontslae te raak.

Herodus het Jakobus laat arresteer en uiteindelik laat doodmaak. Volgende het hy Petrus laat arresteer met die plan om hom ook dood te maak. Dit was ernstige bedreigings vir God se volk; hulle het geweet dat hulle in ‘n stryd vir hulle oorlewing was. As Petrus doodgemaak sou word, sou elke Christene waarskynlik geteiken wees.

Uit moedeloosheid, het die vroeë Christene die enigste ding gedoen wat hulle kon doen: Hulle het gebid. Gebed is die krag van die kragtelose. God sal vir ons optree, maar ons moet geduldig wees. “Want die gesig sal nog duur tot op die vasgestelde tyd; maar dit spoed na die einde en sal nie teleurstel nie. As dit mag vertoef, wag daarop; want alte seker sal dit kom en nie versuim nie” (Habbakuk 2:3).

Soos die Boek Handelinge wys, het die kerk van Jesus Christus nie net oorleef nie, maar gefloreer. Hy het bonatuurlik tronkdeure oopgemaak, nie net om Petrus nie, maar Johannes te bevry. Hy het Paulus se lewe uit baie gevare gered. Al hierdie dinge bou die nuwe Christen se geloof op, en dit gaan verder om elke struikelblok van die evangelie te konfronteer.

Tydens die kerk se mees deurslaggewende oomblikke, het God wonderwerke vir sy volk gedoen.

Hy het wonders gedoen deur Moses, Elia en ander tot by die vroeë kerk. Hy het ook hierdie verstommende krag in ons hande geplaas om dieselfde werke te doen.

“En in die laaste dae, spreek God, sal Ek van my Gees uitstort op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, en julle jongelinge sal gesigte sien, en julle ou mense sal drome droom. En ook op my diensknegte en diensmaagde sal Ek in dié dae van my Gees uitstort, en hulle sal profeteer. En Ek sal wonders gee bo in die hemel en tekens onder op die aarde, bloed en vuur en rookdamp” (Handelinge 2:17-19).

Wat is ons geslag besig om te doen met daardie krag? Deel van die herlewing van die 60’s en 70’s het begin toe David Wilkerson na New York Stad gekom het. Ek was in ‘n bende en letterlik wild, toe die Here David Wilkerson geroep het om te kom en ons te bereik. Heroïenverslaafdes was ‘n groot probleem en daarom het hy Teen Challenge begin en mense was verlos deur die krag van die Heilige Gees.

Die dwelmprobleem was nie net in die ghetto nie, hoewel dit daar begin het. Dit het na die middel en hoër klasse verskuif. Jong wit mense het geld vir dwelms gehad; hulle was die kinders van die leiers van alle vlakke van die samelewing. Ek het gesien hoe daardie wit kinders hulle huise verlaat het om in die ghetto te gaan lewe waar hulle hul liggame vir dwelms verkoop het.

God het in die ghetto’s van New York Stad en in die woonbuurtes en in die klein dorpies ingegryp.

Nie baie van die groot kerkdenominasies het op daardie stadium gehoor van die doping van die Heilige Gees nie. Die Katolieke, Presbiteriane, Lutherane en die Metodiste het begin om die krag van die Heilige Gees te ontvang en wonderwerke het begin gebeur. God het ‘n herlewing na hierdie land gestuur en mense het hulle bekeer en hulle harte vir Jesus Christus gegee.

Dit het nie deur gesaghebbende mense gebeur nie. Dit het deur gewone mense wat geglo het dat God dit kon doen gebeur, mense wat gebid het en met geloof opgetree het. Daardie herlewing het dwarsoor die Verenigde State en Europa versprei. Mense van oral het na Jesus uitgeroep om hulle te red.

As ons daaraan dink dat God ons vir herlewing gebruik, raak baie van ons moedeloos as gevolg van ons persoonlike stryd.

Soms beleef ons almal groot probleme in ons huwelik, ons familie, ons werk en ons verhoudings. Terwyl ons probeer om daardie probleme op te los, veroordeel die duiwel ons oor ons emosionele probleme. Dit is wanneer ons moedeloos word. Ons ondermyn of onderskat onsself en God se vermoë om ons te gebruik. Ons veroordeel onsself oor die prestasies wat ons nie bereik het nie. Dit alles vernietig ons selfbeeld

Daar is ‘n groot geheim om daardie stryd te wen. Paulus sê vir ons, “Want ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is ’n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek” (Romeine 1:16).

Paulus is vir ons een van God se grootste voorbeelde. Hy het emosionele probleme gehad waarvan niemand geweet het nie. Hy het daarvan geskryf in Korinthiërs, maar hy het ons nooit vertel wat dit was nie. Ten spyte van daardie emosionele probleme, was Paulus die een wat openbarings van verlossing, transformasie en verandering ontvang het. Hy was die een wat voor godsdienstige leiers, konings, mense met die mag om sy lewe te neem gestaan het, maar Paulus was vir niks bang nie. Hy het die waarheid gepraat en die Here het kragdadige wonderwerke deur Paulus se lewe gedoen.

Paulus self het ‘n wonderbaarlike verandering ondergaan. Hy was ‘n vervolger, ‘n moordenaar van Christene en hy het in daardie sending geglo. God moes hom stop met ‘n bonatuurlike ingryping. Hy het Paulus verneder deur hom tydelik te verblind en toe het Hy uit die hemel met Paulus gepraat en vir Hom gesê dat Jesus Christus alle mag het en dat Jesus die antwoord is.

Dus, het een van die belangrikste sendelinge en leraars in die geskiedenis, as gevolg van ‘n wonderwerk, die Apostel Paulus geword. Vir dit om in ons eie lewens te gebeur, moet ons glo dat ons ook die heerlikheid van God in aksie sal sien. Ons moet glo in die Boek Handelinge; ons moet deur sy bladsye gaan en die wonderwerke wat God gedoen het beleef. Sy boodskap is vir almal in alle geslagte!

God se krag word geopenbaar wanneer ons met geloof bid. Glo ons dat God kan doen wat ons vra? Hebreërs 11:1 sê, “Die geloof dan is ’n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ’n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.” Geloof eis dat ons, soos Paulus, die gewig van my trots, twyfel en vrees afgooi en gebroke en leeg, met niks anders as passievolle vertroue voor God staan. Ek moet my ore sluit vir die stemme wat vir my sê wat God kan en nie kan doen nie of hoe God werk of nie werk nie. Ek moet God toelaat om self vir my te wys. God wil hê ek moet my twyfel agterlaat, my vrese verwerp, my natuurlike beperkinge vergeet en in die wêreld van bonatuurlike krag inbeweeg.

Dit maak nie saak hoe donker dinge mag lyk nie, God is groter as jou twyfel.

God sal jou passievolle geloof neem, maak nie saak hoe klein nie, en ‘n wonderwerk skep wat groter is as waarvan jy al ooit gedroom het. Hy het ‘n geskiedenis om die nietiges te gebruik om die onmoontlike te verrig. “Maar Jesus het hulle aangekyk en geantwoord: By mense is dit onmoontlik, maar nie by God nie; want by God is alle dinge moontlik” (Markus 10:27).

Die Christelike lewe word gebou op geloof. Jou geloof kan God se hand beweeg. Jou geloof kan die hemele laat bewe om iemand anders se onthalwe. Jou geloof kan die duiwel laat vlug. Ons leef deur geloof, nie deur aanskouing nie.

Laat die Heilige Gees jou met sy geweldige salwing vul. Wees geduldig in geloof terwyl Hy jou probleme oplos; daardie dinge kan nie sy werk van herlewing stop nie. Hy sal jou woorde gee om te spreek; Hy sal jou moed gee en Hy sal jou vrymoedigheid gee. Mag die Here elkeen van ons met sy deernis en barmhartigheid vul vir die werk waarvoor die Heilige Gees ons roep om te doen. Mag die kerk weereens ‘n gesonde liggaam wees om die goeie nuus te bring na ‘n wêreld wat dit nodiger het as ooit.

Staan op die waarheid van God se Woord. Glo sy woord aan jou. Gryp sy leiding met ope arms aan en jy sal wonderwerke beleef.