Gebed in Verontrustende Tye

David Wilkerson (1931-2011)

Is die kerk magteloos om iets te doen in gevaarlike tye? Moet ons sit en wag totdat Christus terugkom? Of, is ons geroep om drastiese stappe van die een of ander aard te neem? As alles om ons wankel en mense se harte beswyk van vrees, word ons geroep om geestelike wapens op te neem en teen die teëstander te stry?

Die profeet Joël sien ‘n soortgelyke dag in Israel naderkom, een van “donker duisternis en somberheid.” Volgens Joël sou die dag van duisternis wat Israel genader het, een wees soos nog nooit in hul geskiedenis gesien nie. Die profeet het uitgeroep: “Ag, die dag! Want naby is die dag van die HERE, en Hy kom soos ‘n verwoesting van die Almagtige” (Joël 1:15).

Wat was Joël se raad aan Israel in daardie donker uur? Hy het hierdie boodskap gebring: “Maar selfs nou nog, spreek die HERE, bekeer julle tot My met julle hele hart, en met vas en geween en rouklag. En skeur julle hart en nie julle klere nie en bekeer julle tot die HERE julle God; want Hy is genadig en barmhartig, lankmoedig en groot van goedertierenheid, en Een wat berou het oor die onheil; wie weet of dit Hom nie weer sal berou nie” (Joël 2:12-14).

Terwyl ek hierdie gedeelte gelees het, was ek die meeste getref deur drie woorde: “Selfs nou nog.” Toe groot duisternis Israel oorval het, het God ‘n beroep op sy volk gedoen: “Selfs nou nog, op die oomblik van my wraak – terwyl julle My uit julle samelewing verstoot, terwyl barmhartigheid onmoontlik lyk, terwyl die mensdom my waarskuwings bespot, terwyl vrees en somberheid die land vul — selfs nou nog dring Ek by julle aan om terug te keer na My toe. Ek is stadig om te kwaad te word, en Ek is bekend dat Ek my oordele ‘n seisoen lank weerhou, net soos Ek vir Josia gedoen het. My volk kan bid en om genade smeek. Maar die wêreld sal hulle nie bekeer as julle sê dat daar geen genade is nie.”

Sien jy God se boodskap hierin aan ons? As sy kinders, kan ons in gebed pleit en Hy sal ons hoor. Ons kan versoeke aan Hom rig en weet dat Hy die opregte, effektiewe en vurige gebede van sy heiliges sal verhoor.