‘n Lewe Wat die Here Behaag

David Wilkerson (1931-2011)

“En ek weet as ek na julle kom, ek met die volle seën van die evangelie van Christus sal kom” (Romeine 15:29). Toe hy hierdie woorde aan die Christene in Rome geskryf het, het Paulus in wese vir hulle gesê, “Ek twyfel nie daaraan nie, dat wanneer ek julle ontmoet, dit in die volste maat van Christus se seën sal wees.”

Die apostel se woorde impliseer hier iets wat elke gelowige moet weet; dit is dat daar verskeie grade of mate van Christus se seën is. Sommige gelowiges verkry ‘n volle maat van hierdie seën, wat natuurlik die einddoel is. Ander Christene verkry egter net ‘n klein maat van Christus se seën, maar ons kan almal die volheid nastreef.

Paulus maak dit duidelik dat ons almal dieselfde toegang tot die Here het: “Dit is een liggaam en een Gees ... een Here, een geloof, een doop, een God en Vader van almal, wat oor almal en deur almal en in julle almal is” (Efésiërs 4:4-6). Ons het almal ‘n gelyke geleentheid om sy toenemende seën te verkry. Trouens, ons lewens moet voortdurend toeneem in wat Paulus noem die “seën van Christus.”

Die seën van Christus beteken om ‘n lewe te hê wat die Here behaag. Dit is ‘n innerlike wete van die Heilige Gees dat as God na jou lewe kyk, Hy sal sê, “Ek is tevrede met jou, my kind. Daar is niks tussen ons wat ons gemeenskap en verhouding belemmer nie.”

Die skrywer van Hebreërs som die volheid van Christus se seën as volg op: “Mag die God van die vrede, wat die groot Herder van die skape, naamlik onse Here Jesus Christus, deur die bloed van die ewige testament uit die dode teruggebring het, julle volmaak in elke goeie werk, om sy wil te doen, deur in julle te werk wat welbehaaglik is voor Hom deur Jesus Christus aan wie die heerlikheid toekom tot in alle ewigheid!” (Hebreërs 13:20-21).

Mense wat in hierdie volheid van seën lewe, het die aroma rondom hulle dat hulle by Christus was. Soos Paulus, het hulle ‘n goddelike ontevredenheid met hierdie lewe, ‘n verlange daarna om in die teenwoordigheid van Christus te wees, ‘n honger om meer intimiteit met Hom te verkry.

Laat ons strewe om soos hierdie gelowiges te wees – vasbeslote om ons wandel van geloof en bediening op so ‘n manier af te sluit dat dit God behaag.