In Een Uur, Gaan Alles Verander

‘n Klassieke Verkorte Boodskap

Jesaja waarsku dat in die laaste dae, God die aarde onderstebo sal keer. “Kyk, die HERE maak die aarde leeg en verwoes dit” (Isaiah 24:1). Die King James Version vertaal dit as “onderstebo keer.” Volgens Jesaja se profesie, sal alles in een uur verander. In daardie kort tydjie, sal die hele wêreld ‘n vinnige verwoesting beleef en niks sal daarna ooit weer dieselfde wees nie.

Die apostel Johannes gee ‘n soortgelyke waarskuwing in Openbaring. “Daarom sal haar plae op een dag kom: dood en droefheid en honger ... kostelike skatte ... want dit is in een uur verwoes” (Openbaring 18:8,19, my beklemtoning).

Jesaja se profesie beskryf elke huis as toegesluit, met niemand wat inkom of uitgaan nie. “Verbreek is die verlate vesting; al die huise staan toegesluit, sodat niemand daar kan inkom nie” (Jesaja 24:10). Die hele stad word verlate gemaak, met al die ingange en uitgange gesluit. “Wat in die stad oorgebly het, is verwoesting; en die poort is tot ’n puinhoop stukkend geslaan” (24:12).

Dit is nie my bedoeling dat hierdie boodskap enigeen moet bang maak nie. Paulus sê vir ons dat as dissipels van Jesus Christus, moet ons verseker wees dat maak nie saak wat in die wêreld gebeur nie, sy gestorte bloed red en verlos ons. Daarom moet ons geen slegte nuus vrees nie, maar oplet wat Hy in die wêreld doen. Ek weet nie van jou nie, maar wanneer ek negatiewe berigte hoor, maak dit dat ek alles wil afsit. Maar in sulke tye, werk God kragtig.

Die Bybel sê dat skielike verwoesting kom wanneer die beker van geweld oorloop. Oral in die wêreld is daar talle oorloë en bloedige opstande, maar waaraan ek die meeste dink, is al die geweld wat teen kinders gepleeg word.

Verskeie dinge sê vir my dat Jesaja se woorde op ons geslag dui.

Ek dink aan die seksuele geweld van pedofiele. Kinders word misbruik, verkrag, ontvoer en gedwing om slawe te wees in die globale sekshandel. Die wêreld se grootste kerkdenominasie spandeer honderde miljoene om eise te skik van mense wat as kind deur die geestelikes gemolesteer was. Hoe lank sal God die stilgemaakte roepstemme verduur van kinders wat mishandel is deur diegene wat Christus verteenwoordig? Duisende kinders in Afrika word doodgemaak in stamoorloë. Jong seuns word opgeneem in burgermagte en gedwing om mense te vermoor tydens inisiasierituele. Hier in die V.S., skok berigte van skoolmoorde nie meer baie mense nie maar dit hou aan om ons kinders te terroriseer. En die bloed van miljoene geaborteerde babas roep vanuit die grond. Ons mag miskien hard word teenoor soortgelyke berigte, maar God se hart word daardeur bedroef. Daar is geen erger geweld as die brutalisering van kinders nie en die hemele roep uit om oordeel.

God se skudding gaan alles op drie maniere verander.

  1. Binne een uur, sal God die hele wêreld verander. Jy sal onthou dat toe die World Trade Centers verwoes was, het hulp van oral in die wêreld na New York gestroom en mense wou help op watter manier hulle ook al kon. Maar die toneel in Jesaja se profesie is anders: hierdie ramp is duidelik bo die mensdom se vermoë om daarop te kan reageer.

Wanneer hierdie ramp tref, sal dit die ekonomie vernietig. Ryk handelaars sal ween en rou bedryf as hulle bankrotskap in die oë staar. Binne ‘n oomblik, sal al die rykdom wat hulle verkry het, tot niks gereduseer word. Johannes beskryf die toneel: “Die handelaars in hierdie dinge, wat van haar ryk geword het, sal ver weg staan uit vrees vir haar pyniging, terwyl hulle ween en rou bedrywe en sê: Wee, wee die groot stad wat bekleed was met fyn linne en purper en skarlaken en versierd met goud en edelgesteente en pêrels, omdat in een uur soveel rykdom verwoes is!” (Openbaring 18:15-16).

Oornag, sal alle koop en verkoop ophou. Alle restaurante en kroeë sal toegemaak word en alle drinkery en plesier sal vervang word met angs: “...almal wat bly van hart is, sug. Weg is die vreugde van die tamboeryne, die gedruis van die uitgelate mense hou op, weg is die vreugde van die siter...die sterk drank smaak bitter vir die wat dit drink” (Jesaja 24:7-9).

  1. In een uur, sal God die kerk verander. Hierdie uur van verwoesting sal kerke skielik verander, maak nie saak wat hulle geestelike toestand is nie. Jesaja skryf, “Want so sal dit wees op die aarde, onder die volke, soos by die afslaan van die olywe, soos by die na-oes as die druiwe-oes verby is” (Jesaja 24:13). Dit is ‘n beeld van God wat skud alles wat geskud kan word en niks ontsien nie. Dan gee Jesaja vir ons ‘n verstommende boodskap oor wat met gelowiges sal gebeur.

Skielik, te midde van die donker uur, sal ‘n wêreldwye koor van stemme die heerlikheid van God besing: “Hulle daar hef hul stem op, hulle jubel; vanweë die majesteit van die HERE juig hulle van die see af” (24:14). ‘n Heilige oorblyfsel sal ontwaak en ‘n lied sal gebore word terwyl hulle uitroep, “Daarom, eer die HERE in die lande van die son, op die kuslande van die see die Naam van die HERE, die God van Israel! Van die einde van die aarde af hoor ons lofgesange: Glorie aan die regverdige!” (24:15-16). In plaas van paniek, sal God se volk sy asemrowende majesteit besing met een gesamentlike stem van miljoene uit elke nasie.

Hoe sal dit gebeur, vra jy? In een uur, sal God sy kerk regenereer en herstel. Droë bene sal skud en ratel en die regverdiges sal ontwaak wanneer die Heilige Gees menigtes louwarm gelowiges terugroep na hulle eerste liefde. Skielik sal pyne van berou en goddelike droefheid oor hulle siele vloei en baie sal uitroep met bekering. Hulle herlewingslied sal gehoor word vanaf die verste plekke op die aarde – van Arabiese lande tot Sjina, Indonesië, Afrika en alle uithoeke van die aardbol – in een dag se tyd.

Jesaja sê vir ons dat wonderbaarlike wonderwerke sal plaasvind wanneer God alles nuut maak.

Rondom die wêreld, sal die Here se kinders ‘n feesmaal van sy Woord hê! “En die HERE van die leërskare sal op hierdie berg vir al die volke berei ’n maaltyd van vetspyse, ’n maaltyd van ou wyn, van vetspyse vol murg, van gesuiwerde ou wyn” (Jesaja 25:6).

In ‘n tyd van voorspoed, lyk dit of die oë van die wêreld se massas met ‘n sluier bedek is en dat hulle nie die waarheid van Jesus Christus kan sien nie. Maar wanneer God die wêreld met oordeel skud, sal die sluiers wat die verstand van biljoene bedek, weggetrek word. “En Hy sal op hierdie berg vernietig die uitgespreide sluier wat al die volke omsluier, en die omhulsel waarmee al die nasies bedek is” (25:7). Wanneer die sluier van duisternis verwyder word, sal baie mense die Here in sy heerlikheid sien.

Ek glo dat die donkerste sluierbedekkings vandag hang oor die oë en harte van die jeug wêreldwyd. Dit is veral waar van kollege studente wie se geloof vir tot vier jaar lank gebombardeer word. Oor daardie tyd, word hulle verstand geïndoktrineer deur goddelose professors in klaskamers waar geloof aangeval, bespot en geminag word. Hierdie jongmans en jongdames se geloof ly skipbreuk en hulle verlaat kollege daarvan oortuig dat God dood is.

Maar in een uur van globale verwoesting, sal alle soortgelyke skynheilige sluiers wegval. Wanneer die wêreldwye lied gesing word, sal dit gehoor word deur jongmense uit elke stand van die lewe en elke nasie. Baie sal hulle harte verhard en God vloek by die aanhoor van hierdie lied, maar menigtes ander sal saam sy heerlikheid kom besing.

  1. Laastens, in een uur, sal God ons as individue verander. Die fokus van ons lewens sal heeltemal verander word. Ons sal nie langer behep wees met ons eie probleme nie. So baie wêreldse dinge waarvoor ons lief is, sal vir ons geen waarde meer hê nie, want ons sal almal in dieselfde bootjie wees. “Dieselfde lot tref die volk en die priester, die slaaf en sy heer, die slavin en haar meesteres, die koper en die verkoper, die uitlener en die lener, die skuldeiser en die skuldenaar” (24:2).

Presidente, konings, die wêreld se rykste en beroemdste – almal sal bewe net soos die armstes van die aarde. Hierdie rampspoedige gebeurtenis sal alle valse altare omgooi. Die wêreld se prominentse afgod is geld en Amerika staar nou ‘n monsteragtige finansiële ramp in die gesig. Alle afgode sal verpletter word tot stof en die speelveld gelykmaak. Die rykstes en die armstes sal almal dieselfde toestande beleef en dit sal in ‘n dag gebeur.

Kan daar iets goed uit ‘n profetiese boodskap soos hierdie kom?

Ek herinner jou, Jesus het Jerusalem gewaarsku dat ‘n skielike verwoesting oor daardie stad sou kom. Dit sou tot op die grond afgebrand word met meer as ‘n miljoen mense wat sterf. Christus het sy waarskuwing verduidelik: “En nou het Ek dit aan julle gesê voordat dit gebeur, sodat julle kan glo wanneer dit gebeur” (Johannes 14:29). Hy het in wese gesê, “Wanneer dit gebeur, dan sal jy weet dat daar ‘n God is wat jou so liefhet dat jy duidelik vooruit gewaarsku is.”

Paulus noem sulke waarskuwings “lig,” en sê kortliks, “Julle is kinders van die lig, omdat julle weet wat in die toekoms gaan gebeur. So, wanneer verwoesting kom en daar paniek oral is, sal julle die kalmte van die Heilige Gees hê. Iets binne in julle sal opgewek word en julle sal onthou, ‘God het my gewaarsku.’ Hierdie profesie is nie ‘n boodskap van toorn oor God se kinders nie, maar ‘n wekroep om te begin gereed maak.”

In hierdie dag van voorspoed, wil niemand ‘n boodskap soos Jesaja s’n hoor nie. Ek wil sekerlik nie. Maar ons kan dit nie ignoreer nie omdat dit hier voor ons deur is. In sulke tye sê Paulus dat wanneer ons weet dat skielike verwoesting op pad is, moet ons nie bewe of treur soos die wêreld nie. In plaas daarvan, moet ons mekaar troos met geloof en met die wete dat God oor elke aspek van ons lewe heers.

“Maar laat ons wat van die dag is, nugter wees, met die borswapen van geloof en liefde aan, en as helm die hoop op die saligheid” (1 Thessalonicense 5:8). Paulus beveel ons, “Bewapen jou self met geloof. Bou jou geloof nou op, voor die dag aanbreek. Leer jou lied en jy sal dit kan sing tydens jou beproewing.” “Daarom, eer die HERE in die lande van die son, op die kuslande van die see die Naam van die HERE, die God van Israel” (Jesaja 24:15).

Dit is die hoop van ons allerheiligste geloof; ons Here laat ‘n lied uit die donkerste tye kom. Begin nou om jouself op te bou in jou heilige geloof in Hom, en leer om sy majesteit stil te besing in jou hart. Wanneer jy jou lied sing, sal dit jou broers en susters versterk en bemoedig en dit sal teenoor die wêreld getuig, “Ons Here heers oor die Watervloed!”