‘n Teenmiddel teen die Virus van Vrees

Jim Cymbala

Paulus het aan ‘n jong herder genaamd Timótheüs geskryf oor die belofte van ‘n manmoedige, vreeslose Christenskap deur die inwoning van die Heilige Gees. Timótheüs het uit ‘n familie van gelowiges gekom. Beide sy ouma en sy moeder was Christene voor hom: “As ek my herinner die ongeveinsde geloof wat in jou is, wat eers gewoon het in jou grootmoeder Loïs en in jou moeder Eunice” (2 Timótheüs 1:5).

Dus het Timótheüs uit ‘n agtergrond vol geloof gekom. Hy was die geestelike seun van die apostel Paulus en uiteindelik het hy die bediening betree. Dit is duidelik dat Timótheüs van die heel begin van sy bekering af groot geestelike voorregte geniet het. Maar ten spyte van al daardie vroeë voordele en godvresende voorbeelde, het iets in Timótheüs se bediening ontbreek. Gevolglik, het Paulus hom uitgedaag, “Om hierdie rede herinner ek jou daaraan om die genadegawe van God aan te wakker wat in jou is deur die oplegging van my hande. Want God het ons nie ’n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag” (2 Timótheüs 1:6-7).

Paulus herinner Timótheüs en almal van ons dat ons opreg in ons geloof kan wees en tog kan terugkeer na vrees en vreesagtigheid. Selfs Christene wat die Here liefhet en die Bybel bestudeer, kan bang en selfbewus wees wanneer geleenthede voordoen om vir Christus te getuig. Dit is jammer dat ons in sommige situasies oor alles behalwe ons Saligmaker kan praat.

Wat het Paulus dus vir Timótheüs gesê om te doen? Het hy vir hom gesê om harder te probeer, om te delf na iets dieper binne-in homself? Nee, Paulus het vir Timótheüs gesê dat die Heilige Gees die enigste teenmiddel teen die virus van vrees in sy lewe was. Die Gees se vuur moes opgewek word – gekoester en aandag aan gegee word – want wanneer God se Gees aan die brand was, sou daar vrymoedigheid wees om Timótheüs se skynbare natuurlike geneigdheid tot vreesagtigheid te vervang.

Tweeduisend jaar later, het die kerkgeskiedenis duidelik getoon dat wanneer God se Gees werk, wanneer gelowiges en kerke God op ‘n nuwe manier ontmoet, word mense manmoedig en radikaal vir Jesus Christus. Dit is nie iets wat deur ‘n Christelike bedienaar onderrig word nie. Geestelike vrymoedigheid kom slegs van die Heilige Gees af.

Moenie dat ‘n vrees vir mislukking jou keer om te doen wat God op jou hart lê nie. Wees dapper in die Gees en moenie terughou nie.

Jim Cymbala het die Brooklyn Tabernacle begin met minder as twintig lede in ‘n klein bouvallige gebou in ‘n ongure deel van die stad. Hy is oorspronklik van Brooklyn en is ‘n jarelange vriend van beide David en Gary Wilkerson.

Tags