Afgesonder Vir God se Doel

Gary Wilkerson

Terwyl die verlore siele van hierdie wêreld ernstige lewenskrisisse beleef en geen bron van hoop het nie, is Christus se kerk bedoel om die verskil waarna hulle soek te vergestalt. Ons lewens moet onderskei word deur hoop, blydskap, vrede, liefde en vrygewigheid. Maar baie volgelinge vandag het daardie onderskeidings uitgewis deur nader aan ‘n grenslyn van kompromie te beweeg en dit selfs oor te steek. As gevolg daarvan, sien die verlorenes en lydendes Christene se lewens as dieselfde as hulle eie.

Jesus het dit aangespreek toe Hy vir sy dissipels gesê het, “As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak...Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle” (Johannes 14:23,27). Jesus het in wese gesê, “Julle het gesien dat die vrede wat Ek bied, nie deur die wêreld aanvaar word nie. Ek het vir julle die waardes van my koninkryk gedemonstreer – hoe om te lewe, te glo, te wandel en die Vader te dien. Daardie waardes is in skrille kontras met die wêreld s’n en julle moet my koninkrykswaardes uitleef.”

As God van afsondering van die wêreld praat, bedoel Hy nie om onsself daaruit te verwyder nie. Die afsondering wat Hy verlang, vind in die hart plaas. Dit gebeur deur openbaring van God – en sy heerlikheid bly met ons selfs in ons moeilikste tye.

Toe die profeet Jesaja die tempel binnegegaan het, het hy die heerlikheid van God gesien: Toe “het ek die Here sien sit op ‘n hoë en verhewe troon, terwyl sy some die tempel gevul het” (Jesaja 6:1). Daardie heilige toneel het Jesaja op sy aangesig op die vloer laat neerval in nederige ontsag en hy het gesê, “Wee my, ek is verlore! Want ek is ‘n man onrein van lippe en woon onder ‘n volk wat onrein van lippe is; want my oë het die Koning, die HERE van die leërskare, gesien!” (6:5).

Op daardie oomblik, het Jesaja God se afgesonderdheid besef en die Here het vir hom gesê, “Ek het jou afgesonder vir my heilige doeleindes. Ek stuur jou om my woord te verkondig aan ‘n verdorwe volk, wat jou sal weerstaan, maar jy sal dit kan verdra omdat jy my heerlikheid gesien het. Jy het die natuur van God, wat jou geroep het, gesien.

Die heerlikheid van ons God is paradoksaal: heilig en rein maar intiem en sorgsaam. Hy is bo ons en met ons – en Hy gee ons vrede wat ons nooit op ons eie sou kon vind nie. Hy is ‘n God wat ons vertroue waardig is in en deur alle dinge!