GOD HET JOU NIE AFGESKRYF NIE

Carter Conlon

“En Petrus het buitentoe gegaan en bitterlik geween” (Lukas 22:62). In hierdie toneel net voor Jesus se kruisiging, sien ons Petrus ontroosbaar ween, verstom oor sy eie gevoel van mislukking. Hy was immers die volgeling van Christus wat gesê het, “Ek is gewillig om nie net vir U te leef nie maar om vir U en saam met U te sterf in Jerusalem!” (sien Matthéüs 26:35). Slegs ‘n kort rukkie later, het Petrus selfs ontken dat hy Christus ken en het met ‘n eed gesweer daartoe!

Baie teleurgestelde, ontnugterde mense in die Liggaam van Christus voel hulle het God op een of ander manier teleurgestel. Hulle onthou die dae toe hulle lief was om te bid – toe hulle nie kon wag om ander van Jesus te vertel nie. Maar iets het langs die pad gebeur. Hulle voel asof hulle een of ander fout gemaak het, en nou weet hulle nie of hulle verhouding met die Here ooit weer kan wees wat dit was nie.

Onthou, Christene maak foute. Een so ‘n fout is om menslike redenering as goddelike raad te ag. Wanneer jy ek ek bid, sal idee’s jou hart binnekom. Ons moet egter onthou dat dit nie altyd van God af is nie al bid ons.

Ons neem dikwels aan dat ons presies weet wat Hy bedoel wanneer Hy ons uitstuur om iets te doen. Dan wanneer dit nie uitwerk soos ons gedink het nie, word ons moedeloos of selfs bitter. Om toe te laat dat bitterheid teenoor God die hart binnekom wanneer ‘n plan nie vorder soos verwag nie, is ‘n tweede algemene fout van Christene.

Jy mag dalk foute gemaak het, maar die Here se plan vir jou lewe is nie ontspoor nie! So as jy ontnugter is, wees verseker dat God jou nie vergeet het nie. Hy het jou nie afgeskryf nie. Jy is net so kosbaar vir Hom, so waardevol vir Hom vandag as wat jy was voor jy ooit verstaan het wie Hy was.

Laat die Here toe om jou te vertroos en jou lewe aan te raak met sy barmhartigheid. Kies om te glo dat Hy jou nie verlaat het nie – dat sy plan vir jou lewe vervul sal word. Trouens, die beste lê nog voor!

Carter Conlon het aangesluit by die pastorale personeel van Times Square Church in 1994 op uitnodiging van die stigterspastoor, David Wilkerson en was aangestel as Senior Pastoor in 2001.