Om Vrede te Kry Wanneer Wonderwerke Skynbaar Wegbly

David Wilkerson (1931-2011)

Die genesings wat Christus gedoen het, was onmiddellik en sigbaar vir almal teenwoordig. “Toe sê Hy vir die verlamde man: Staan op, neem jou bed op en gaan na jou huis toe. En hy het opgestaan en huis toe gegaan” (Matthéüs 9:6-7). Die verlamde man met die verwronge liggaam wat by die bad van Betesda gelê het, het skielik ‘n uiterlike, fisieke verandering ondergaan sodat hy kon hardloop en spring (sien Johannes 5:5-8). Dit was ‘n wonderwerk wat almal wat dit gesien het, verstom en aangeraak het. Nog ‘n oombliklike wonderwerk!

Die kos wat Jesus vermeerder het, was progressief. Hy het ‘n eenvoudige gebed van seën gebid, toe die brood en die gedroogde vis gebreek, maar nooit ‘n teken gegee of geluid gemaak dat ‘n wonderwerk besig was om te gebeur nie. Om soveel mense kos te gee, moes daar egter duisende brekings van daardie brood en daardie vis gewees het dwarsdeur die hele dag. En elke stukkie brood en vis was ‘n deel van die wonderwerk.

Dit is hoe Jesus baie van sy wonderwerke in mense se lewens doen vandag. Ons bid vir oombliklike, sigbare wonderwerke, maar dikwels is ons Here stil aan die werk en doen ‘n wonderwerk stukkie vir stukkie, deeltjie vir deeltjie. Ons kan dit miskien nie hoor of daaraan raak nie, maar Hy is besig daarmee en gee vorm aan ons verlossing bo dit wat ons kan sien.

Jy is tans moontlik in die middel van ‘n wonderwerk en kan dit eenvoudig nie insien nie. Jy is moedeloos want jy sien geen bewyse van God se bonatuurlike werk om jou onthalwe nie. Dawid het gesê, “Toe ek benoud was, het ek die HERE aangeroep, en ek het tot my God geroep om hulp; Hy het my stem uit sy paleis gehoor, en my hulpgeroep voor sy aangesig het in sy ore geko” (Psalm 18:6).

Dink aan een van die probleme wat jy tans beleef, jou grootste behoefte, die probleem wat jou die meeste pla. Jy het al vir so lank daaroor gebid. Glo jy regtig dat die Here dit vir jou kan laat uitwerk op maniere waaraan jy nie eens kan dink nie? Daardie soort geloof beveel die hart om op te hou bekommerd wees of vrae te vra. Dit beveel jou om te rus in die Vader se sorg en Hom te vertrou om alles op sy manier en op sy tyd te doen.