MAAR AAN ELKEEN

Jim Cymbala

Aan die Korinthiërs, het Paulus gesê: “Maar aan elkeen word die openbaring van die Gees gegee met die oog op wat nuttig is” (1 Korinthiërs 12:7, beklemtoning bygevoeg). Daar staan dit voor ons. Maar wat gaan ons omtrent hierdie vers doen? Die onfeilbare Woord van God sê die openbaring van die Heilige Gees was aan elkeen gegee tot voordeel van almal. Vir elkeen, nie net die apostels nie. Dink aan die impak van daardie vers. Is dit iets wat ons verkondig? Glo ons dit? Verwag ons dit? God het vir elkeen van ons ‘n openbaring belowe — bonatuurlik per definisie — van die Heilige Gees. Dit is deel daarvan om ‘n Christen te wees.

Een van die maniere waarop die Gees Christus verheerlik, is om Sy Liggaam op te bou, wat tot voordeel van almal is. Omdat die kerk ‘n geestelike organisme is, het dit geestelike bediening nodig om dit op te bou. En geestelike bediening kan slegs kom deur die Heilige Gees wat Homself deur menslike werktuie vertoon.

Diegene wat betrokke is by vals vertonings en leerstellings van die Gees het talle opregte mense wat hulle Bybels liefhet, afgeskrik. Sommige wat die Woord waarlik liefhet, sien daardie vertonings en sê, “Nee, dankie. Laat ons net ‘n paar veilige lofsange sing, ‘n goeie Bybelstudie hê en dan huistoe gaan.” Maar ons Here Jesus Christus het nooit bedoel dat Sy kerk sonder besoekinge en seëninge van die lewende Gees van God sal wees nie. Waarom sou Hy nog ‘n Helper stuur as dit nie nodig was om ons te help nie? Kyk rondom jou na die wêreld. Sien ons nie die voor die handliggende behoefte vir iets nuuts van God af om die kragtige invloed van goddeloosheid te oorwin nie?

Die vroeë kerk was lewend en aktief as gevolg van die Heilige Gees. Daar is selfs nie een vers wat die belangrikheid en lewensvatbaarheid van die Gees relegeer tot net die Nuwe Testament kerk nie. Ons moet glo dat die Heilige Gees teenwoordig is vir ons vandag. 

Jim Cymbala het die Brooklyn Tabernacle begin met minder as twintig lede in ‘n klein bouvallige gebou in ‘n ongure deel van die stad. Hy is oorspronklik van Brooklyn en is ‘n jarelange vriend van beide David en Gary Wilkerson.