Oorwinning Voor die Slagveld

David Wilkerson (1931-2011)

“Want U kom hom tegemoet met seëninge van die goeie; op sy hoof sit U ‘n kroon van fyn goud” (Psalm 21:4, AFR53). Die Nuwe Vertaling praat van “U skenk hom voorspoed en geluk” (AFR83).

Die Bybelse woord vir “tegemoet kom” beteken “om te verwag, vooraf te gaan, vooruit te sien en voor die tyd te vervul, om 'n skuld te betaal voordat dit verskuldig is.” Verder, in amper elke geval, impliseer dit iets van plesier.

Jesaja gee ons 'n blik op hierdie soort plesier. Dit kom van God wat 'n behoefte antisipeer en dit voor die tyd vervul. “En voordat hulle roep, sal Ek antwoord; terwyl hulle nog spreek, verhoor Ek” (Jesaja 65:24, NV).

Hierdie vers gee ons 'n fenomenale beeld van Ons Here se liefde vir ons. Klaarblyklik is Hy so gretig om ons te seën, so gereed om sy goedhartigheid in ons lewens te vervul, dat Hy nie eers kan wag dat ons Hom van ons behoeftes vertel nie. Hy spring in en doen dade van genade, barmhartigheid en liefde teenoor ons; en dit is vir Hom 'n uiterste plesier.

Dit is presies wat Dawid in Psalm 21 gesê het. “Here, U stort seëninge en goedertierenheid oor my uit voordat ek nog daaraan dink om te vra. U bied meer as wat ek selfs kon dink.”

Dawid het verwys na 'n wonderlike werk wat God vir hom gedoen het, sowel in die natuurlike wêreld as op geestelike gebied. God het Dawid die oorwinning oor sy vyande gegee, verhoring op gebed, die oorwinnende krag en onuitspreeklike vreugde; en Hy het baie daarvan gedoen voordat Dawid selfs kon gaan bid, dit van sy hart kon afkry of sy versoek kon voorlê. Nadat Dawid uiteindelik sy hart uitgestort het, het hy ontdek dat God reeds voorsiening gemaak het om sy vyande te verslaan. David se oorwinning was seker nog voor hy naby die slagveld kon kom.