Kyk, die Seekoei van die Lewe

David Wilkerson (1931-2011)

Nadat die Skrif ons vertel van Job se verskriklike verliese, word ons vertel dat God na hom toe kom en sê: “Kyk, daar is die seekoei wat Ek gemaak het saam met jou” (Job 40:10, AFR53) en 'n bietjie later: “Kan jy die krokodil met 'n hoek uittrek? En met ‘n tou sy tong afdruk” (Job 40:20).

Waarom sou God hierdie twee massiewe monsters in sy openbaring aan Job insluit? Waarom sou God Job in die aangesigte van 'n seekoei en 'n krokodil laat kyk?

Eerstens het die Here hierdie probleem aan sy kneg gestel: “Kyk, Job. Hier kom die seekoei agter jou aan. Wat gaan jy doen? Kan jy hom met jou liggaamlike krag neer stoei? Nie? Miskien kan jy hom probeer paai. Kyk nou na die krokodil wat jou bedreig. Hoe sal jy hom hanteer? Hierdie wese het 'n hart van klip. Hy het geen begrip van genade nie.”

Dit was meer as 'n eenvoudige les oor die diereryk. God het Job iets vertel van die lewe se “monsters.” Hy het sy kneg gewys dat hierdie twee ontsaglike, wreedaardige, oorweldigende wesens die monsteragtige probleme verteenwoordig wat in Job se lewe gewoed het.

“Beskou die seekoei. Hy vertrap alles wat in sig is. Hy is eenvoudig 'n te groot probleem vir jou om te hanteer, Job. Jy weeg glad nie teen hom op nie. Niks wat jy kan doen, sal hom tem nie. Net Ek, die Here, weet hoe om so 'n monsteragtige wese te stop. En wat van die krokodil, Job? Geen mens kan teen so 'n wese baklei nie. Niemand in eie krag kan die krokodil van sy dik wapenrusting stroop nie. Dieselfde geld vir jou geestelike vyand, die duiwel. Net Ek kan die stryd teen hom wen.”

Hoor jy wat God in sy toespraak in Job 40:20-41:2 sê? Hy praat nie net met Job nie, maar ook met alle gelowiges. Hy sê: “Erken die waarheid oor die monsters in jou lewe. Jy kan dit nie hanteer nie. Ek is die enigste een wat kan.”

Tags