Wie Het Vir Jou Gesê Dat Jy Onwaardig Is?

David Wilkerson (1931-2011)

Luister na die Kruis in Plaas van die Aanklaer

Wie het vir jou gesê dat jy onwaardig, sleg, nutteloos en van geen waarde vir God is nie? Wie hou aan om jou te herinner dat jy swak, hopeloos en ‘n totale mislukking is? Wie het vir jou gesê dat jy nooit aan God se standaarde sal voldoen nie?

Ons almal weet waar hierdie stem vandaan kom. Dit is die duiwel self. Jy hoor sy leuens die hele dag lank, ‘n stem wat vir jou sê dat God vir jou kwaad is. Daardie stem kom reguit uit die put van die hel.

Talle mense wat hierdie boodskap lees, is deur die duiwel oortuig dat hulle onwaardig is om ooit deur die Here gebruik te word. Miskien voel jy onwaardig om selfs ‘n kind van die Here genoem te word. As jy na jou geestelike lewe kyk, is wisselvalligheid al wat jy sien. Die vyand hou aan om ‘n ononderbroke spervuur van leuens te stuur en jou aan jou mislukkings te herinner terwyl hy jou gees heeltyd teister.

Natuurlik is ons in ons vlees almal onwaardig. Ons kan nooit op ons eie waardig wees nie. Baie gelowiges laat egter toe dat Satan hulle van die kosbare lewe beroof deur die leuens van Satan te glo oor hoe God hulle sien. Hulle glo dat hulle in Sy oë nooit waardig sal kan wees nie.

As alle kinders van God na die aantygings van die duiwel geluister het, sou alle bedienings totaal en al gesluit moes word! Daar sou geen kerk wees nie omdat daar niemand op die preekstoel sou wees nie, niemand wat in die koorbanke sou sit nie, niemand wat die plekke sou aanwys nie, geen Sondagskoolklasse nie en niemand in die kerkbanke nie! Ons sou almal deur leuens die seëninge van God misgeloop het en die Here sou nie die lof van ons ontvang wat Hom toekom nie.

Luister jy na Satan se leuens oor jou wandel met Jesus? Dink jy dat jy onwaardig is, dat jy God nie kan aanbid totdat jy alles perfek gemaak het nie? Ek het goeie nuus vir jou: Jy weet reeds dat Satan ‘n leuenaar is, maar ek kan aan jou bewys dat Jesus jou waardig gemaak het. Hy het jou waardig gemaak om voor Hom te staan en Hom met vrymoedigheid en geregtigheid te dien.

Hoe word jy waardig gemaak?

Jy is waardig gemaak deur Christus se offer aan die kruis. Dit gee jou die volste reg om God te aanbid en Hom te dien.

“Sodat julle waardiglik voor die Here mag wandel om Hom in alles te behaag en julle in elke goeie werk vrug mag dra en in die kennis van God mag groei, en met alle krag bekragtig word volgens die mag van sy heerlikheid tot alle lydsaamheid en lankmoedigheid met blydskap, en die Vader mag dank wat ons bekwaam gemaak het om deel te hê aan die erfdeel van die heiliges in die lig — Hy wat ons verlos het uit die mag van die duisternis en oorgebring het in die koninkryk van die Seun van sy liefde, in wie ons die verlossing het deur sy bloed, naamlik die vergifnis van die sondes” (Kolossense 1:10-14, AFR53, my skuinsdruk).

Die Griekse weergawe van vers 12 is: “Die Vader het ons bekwaam, waardig, geskik in karakter, goed genoeg gemaak om deelgenote te wees van die erfenis van die gelowiges van lig.”

Wat Jesus aan die kruis gedoen het, maak jou geskik vir ‘n ewige erfenis. As God jou dus geskik gemaak het vir die ewige lewe, dan het Hy jou ook waardig in karakter gemaak. Jy kan maar uit jou bediening tree vir ‘n maand, ‘n jaar, ‘n hele leeftyd om aan jou karakter te werk om goed genoeg te word om deur God gebruik te word, maar jy kan jouself nooit bekwaam maak nie!

Selfs al was dit vir jou moontlik om oorwinnings oor elke verkeerde ding wat jy al ooit in jou lewe gedoen het te verkry, elke verkeerde gedagte wat jy gehad het, sal jy nog steeds nie in God se oë geskik wees nie. Dit is onmoontlik. Waarom? God sal niemand se geregtigheid aanvaar nie, behalwe dié van sy eie Seun, Jesus Christus.

Jy kan nie die geregtigheid van Christus ontvang deur daarvoor te werk nie. Die enigste manier om dit te verkry, is deur dit te glo en God daarvoor te vertrou. Jy kry dit deur geloof. Jy sien, jy word nie alleen deur geloof gered nie, maar ook deur geloof geheilig, deur geloof geregverdig (vrygespreek), deur geloof genees, deur geloof bewaar. Dit alles gebeur deur getrou te vertrou op Jesus se werk, nie deur vertroue in jou eie nie.

Ons kan voor die hele hemel en aarde staan met die volle versekering van geloof.

As gevolg van die kruis, kan jy sê, “My vlees weerstaan nog steeds die Gees, maar ek is verlos deur my Verlosser se bloed. Ek gaan tot God sing en Hom loof en prys!"

Wat moet jy dus doen, vra jy? Eerstens, moenie na die duiwel se leuens luister nie. Tweedens, staan op jou geestelike voete en begin om die Here te loof en te prys. Sê: “Deur my geloof in die bloed van Jesus, ontvang ek die geregtigheid van Christus. Hy het my waardig en bekwaam gemaak om my Here te aanbid en te dien!”

“In wie ons die verlossing het deur sy bloed, naamlik die vergifnis van die sondes” (Kolossense 1:14). Die woord vir verlossing beteken vrygemaak. Ons is deur Jesus se kosbare bloed vrygemaak. Daarom het ons die reg om elke beskuldiging teë te staan en te sê: “Ek glo jou nie, duiwel. Jy het my vir die laaste keer beskuldig. My Bybel sê dat ek verlos is omdat ek glo in dit wat Jesus vir my aan die kruis gedoen het. Ek bely my sondes aan Hom en ek is verlos, gekoop en vry.”

Satan sal steeds na jou toe kom en fluister: “Wat van die sonde wat jy net gister gedoen het? Jy is skuldig!”

Jy kan antwoord: “Nee, ek het reeds vergifnis daarvoor gevra. Ek het God gevra om vir my ‘n haat daarvoor te gee om te keer dat ek dit weer doen. Dit is alles onder die bedekking van sy kosbare bloed.”

“Maar jy kom steeds in die versoeking.”

“Dis waar. Maar Jesus het vir my ‘n uitweg gemaak. Sy woord sê dat ek die versoeking sal kan weerstaan. Hy sal my verlos omdat Hy belowe het Hy sal.”

“Nee, God het steeds iets teen jou. Hier is die rede: Daar is steeds onopgeloste sake in jou lewe.”

Wanneer die aanklaer ‘n “onopgeloste saak” ophaal, een of ander stryd wat in jou woed, kan jy hom met hierdie gedeelte antwoord: “Ook julle wat vroeër vervreemd was en vyandig gesind deur die bose werke, het Hy nou versoen in die liggaam van sy vlees deur die dood, om julle heilig en sonder gebrek en onberispelik voor Hom te stel” (Kolossense 1:21-22).

Jy kan sê: “Selfs toe ek vervreemd was in my gedagtes deur verskriklike, goddelose werke, selfs toe ek in die put van begeertes was, selfs toe ek een van God se grootste vyande was, sê die Bybel dat Hy my liefgehad het. Hy het my uitverkies en met Homself versoen. Hy het my uit die koninkryk van duisternis na sy koninkryk van lig oorgebring. Hy het gemaak dat ek vrede met Hom kan hê. Hoeveel te meer het Hy my nou lief, nou dat ek versoen is, selfs al sukkel ek? My Verlosser het my lief.”

Hier is twee van die duiwel se leuens waarteen ons moet waak.

God wil hê dat jy vrygemaak moet wees van elke put waarin Satan jou toegesluit het en om uit te styg bo elke leuen wat Hy teen jou gebruik. Wees dus waaksaam, veral teen die volgende twee leuens.

  1. Satan hou aan om jou sonde ter sprake te bring sodat jy jou oë van jou Verlosser afhaal.

Die duiwel wil hê dat jy só gefokus moet wees op jou siekte dat jy die krag van die goddelike Geneesheer vergeet. Hy wil hê dat jy moet vergeet dat God jou Verlosser is en dat Hy aan jou kant is om jou te red, nie te vernietig nie.

Hier is hoe jy op hierdie leuen moet antwoord: “Nee, duiwel, ek is nie vry van die teenwoordigheid van sonde nie – dit sal altyd in my vlees teenwoordig wees – maar ek is vry van die veroordelende krag van sonde.” Satan kan jou uitkoggel en beskuldig, maar hy kan jou nie veroordeel nie. Hy kan allerhande beskuldigings teen jou maak, maar hy kan jou siel nie aanraak nie.

Die wet kan jou nie veroordeel nie, want Christus vervul die wet. Sonde van die verlede kan jou nie veroordeel nie, want dit is onder sy bloed. Jou gewete kan jou nie veroordeel nie, want Christus is groter as jou gewete. Jy is dus volkome vergewe met niks oor wat jou veroordeel nie.

  1. Ons moet ons skuld bely oor ons mismoedigheid oor ons sonde.

As ons mismoedig word, bewys dit twee dinge: ons onkunde oor die Here se barmhartigheid en genade en ons ongeloof in Sy liefde vir ons. Beide is sondig.

As jy mismoedig word oor jou sonde, vertrou jy waarskynlik nie op God se liefde vir jou tydens jou tye van mislukkings nie. Jy leef in opsetlike onkunde daarvan dat jou Vader jou ten volle aanvaar. Jy moet jou bekeer hiervan en Hom om genade vra.

As jy net kon verstaan hoe groot jou Vader se genade teenoor jou is, sou jy weet dat Hy jou liefhet, selfs al stel jy Hom teleur. Dan kan jy sê: “O, God, vergewe my! Ek was so mismoedig as gevolg van my sonde. Ek het nie in U genade en vergifnis geglo nie. Herstel my geloof!”

Vriend, ek is dit nie waardig om hierdie boodskap te skryf nie. En jy is nie waardig om jou hande met lofprysing na God toe uit te steek nie. Niemand is waardig nie – nie in ons eie menslike krag en mag nie. Maar Jesus sê vir ons, “Ek het jou waardig gemaak.” Nou kan ons sonder enige twyfel in sy glorieryke werk vir ons staan en in Sy Naam sê: “Ek is waardig deur die bloed van die Lam!” Amen.