Moenie Jou Beproewings Verkwis Nie!

David Wilkerson (1931-2011)

Weet dat Hy Besig is om ‘n Goeie Werk in Jou te Doen

"En ek wil hê dat julle moet weet, broerders, dat wat my wedervaar het, eerder op bevordering van die evangelie uitgeloop het” (Filippense 1:12. AFR53). In hierdie vers, sê Paulus aan die Christene in Filippi om nie bekommerd te wees oor al die dinge waarvan hulle gehoor wat met hom gebeur het nie. Alles waarna hy verwys, sluit groot verdrukking en swakhede in.

Paulus het die brief geskryf terwyl hy geboei in ‘n Romeinse tronk was. Teen daardie tyd, was hy ‘n geoefende krygsman van die evangelie, wat elke denkbare ontbering en menslike verdrukking moes deurmaak. As jy Paulus se lewe bestudeer, sal jy weet wat hy alles moes deurmaak: skipbreuk, mishandeling, houe en slae, skeltaal, bespotting, vervolging, honger, dors, naaktheid en skending van sy karakter.

Ons dink selde daaraan dat van Paulus se grootste hartseer gekom het van diegene wat hulleself weergebore gelowiges genoem het. Sommige van sy teenstanders was jaloerse kerkleiers wat hele gemeentes teen hom laat draai het. Hulle het sy leefstyl bespot, sy preke gekritiseer, sy gesag bevraagteken en sy boodskap verdraai. Dit het gelyk asof oral waarheen Paulus gegaan het, hy verdrukking, swaarkry en hartseer teëgekom het. Die Heilige Gees het dikwels vir hom gesê dat “boeie en verdrukkinge” op hom wag tydens sy reise (Handelinge 20:23).

Nogtans het Paulus gesê, “Maar ek bekommer my glad nie” (20:24). Verder het hy gesê: “Sodat niemand verontrus mag word onder hierdie verdrukking nie; want julle weet self dat ons hiervoor bestemd is. Want ook toe ons by julle was, het ons julle vooruit gesê dat ons vedruk sou word, soos dit ook gebeur het en soos julle weet” (1 Thessalonicense 3:3-4).

‘n Sekere Teologie in die Amerikaanse Kerk sê dat as jy jou geloof reg uitwerk, sal jy nie ly nie.

Daar staan nie so iets in die Bybel nie. In teendeel, Paulus sê dat dit aan ons “gegee is” om ook vir Hom te ly. Verder sê Paulus hy het elke oggend wakker geword “en watter dinge my daar sal oorkom, weet ek nie, behalwe dat die Heilige Gees  in elke stad kragtig getuig en sê dat boeie en verdrukkinge op my wag” (Handelinge 20:22-23).

Probeer jou hierdie prentjie voorstel: Hier was ‘n heilige man, deur God geroep om die Evangelie na die nasies te bring en tydens elke opdrag het die Heilige Gees aan hom gefluister, “Paulus, die volgende stop gaan nie maklik wees nie. Jy gaan weer teenstand kry. Jy gaan meer verdrukking, beproewing en lyding kry.”

Jy maak dalk beswaar, “Wag so ‘n bietjie, jy praat van Paulus se lewe, nie myne nie. Hy was deur God aangestel om vervolging te ly. Ek is nie geroep vir so ‘n lewe nie.” Die Bybel sê eenvoudig: “Menigvuldig is die teëspoede van die regverdige, maar uit dié almal red die Here hom” (Psalm 34:20).

As God nie probleme in ons lewe toelaat nie, sou dit die ergste vorm van verwerping verteenwoordig. Dit sou beteken dat God sê, “Ek het geen spesiale werk vir hierdie gelowige nie, geen planne vir sy lewe afgesonder as ‘n getuie nie. Daarom hoef Ek hom nie produktief te maak nie. Laat hom maar so ‘n onopgeleide, ongeleerde man met die verstand van ‘n kind bly. Laat hy nie oorvloedig in genade wees nie. Laat hy nie leer deur vervolging, sodat hy ander kan leer nie. Laat hy net bestaan en sterf in sy kinderlikheid.”

Ek het ‘n vraag vir jou. Dit maak nie saak hoe lank jy al saam met Christus wandel nie, jy het sekerlik ook al pyn, swaarkry en beproewings beleef. Hoe het jy daartydens opgetree? Wat was die uiteinde, die eindresultaat van jou ondervindings? Was jou beproewings alles tevergeefs? Of het jy geleer van God se liefde en getrouheid deur dit alles heen?

Hoe ons reageer in ons tye van beproewing het alles te doen met die resultate wat ons sien.

Jy is miskien ‘n toegewyde Christen wat jou lewe vir Christus afgelê het. Hoe sou jy reageer as al wat jy gehad het om te wys vir jou toewyding, arbeid en opofferinge  mislukking was? Hoe sou jy reageer as God jou stop, jou hande afkap en jou hulpeloos laat?

Sommige Christene sou God se woord aan hulle in twyfel trek. Hulle sou Gees se leiding in hulle lewens bevraagteken. Die hele beproewing van hul geloof, die verdrukking wat veronderstel was om hulle in Jesus se arms te werp, sou tevergeefs wees.

Ander Christene sou egter soos Paulus reageer en juig omdat hulle waardig geag was om vir Christus te ly. Paulus het nie probeer om sy beproewings te ontleed nie. Hy het met geloof, hoop en blydskap daarop gereageer omdat hy geweet het dat hy in ‘n leerskool was om een van Jesus se getuies te wees. Hy het vanuit die tronk aan sy vriende geskryf, “Ek is in die tronk vir Jesus! Ek kon teenoor soveel mense in Rome getuig. Ek het selfs ‘n paar van die mense in Caesar se huishouding sien tot bekering kom” (Sien Filippense 4:22). Hy moes ‘n rare verskynsel in die tronksel gewees het, ‘n rietskraal Jood wat almal rondom hom aangemoedig het, “Verbly jou in jou beproewings. God is getrou!”

Paulus het nie een van sy beproewings verkwis nie. Hy het geweet dat elkeen ‘n heilige doel gehad het. Net so, hou die Here ons dop hoe ons onsself gedra gedurende ons beproewings vandag. Ek wil met jou praat oor drie maniere hoe ons beproewings kan verkwis word.

1. Ons verkwis ons beproewings met murmurerende, klaende gedrag. Hierdie soort gedrag ontstel Jesus. Dit was die rede waarom elke toets en beproewing wat die Israeliete in die wildernis beleef het, niks vir hulle beteken het nie.

Ek ken baie Christene, wat met elke nuwe beproewing bitterder word en meer kla. ‘n Mens sou dink dat hulle God dood is. Hulle lyk selfs nors. Die verdrukking wat bedoel was om hulle te leer en beter te maak, beproewings wat deur God ontwerp is om Sy getrouheid te openbaar, het hulle egter verander in gewoonte klaers. Ek wonder as ek hulle sien, “Waar is hulle geloof, hulle vertroue in God? Wat moet hulle kinders dink?"

Moenie jou verdrukkinge verkwis nie. Laat dit ‘n lieflike geur van vertroue en geloof in Christus in jou vorm. Al jou beproewinge is bedoel om jou in Jesus se arms te werp en om jou te laat getuig, “Ek is syne en Hy is myne. Hy sal my deur hierdie beproewing help.”

2. Ons verkwis beproewings as ons nuwes beleef sonder om te onthou van ons verlossing van die oues. Ons is geneig om al die goeie dinge wat God vir ons gedoen het te vergeet. Moses het Israel herinner aan al hul vorige verlossings. Toe het hy hulle gewaarsku: “Neem jou net in ag en wees terdeë op jou hoede, dat jy die dinge nie vergeet wat jou oë gesien het nie, en dat hulle uit jou hart nie wyk al die dae van jou lewe nie; en jy moet dit aan jou kinders en jou kindskinders bekend maak” (Deuteronómiun 4:9).

Ongelukkig sê die Bybel van daardie geslag: “Hulle het die verbond van God nie gehou nie en geweier om te wandel in sy wet. En hulle het sy dade vergeet en sy wonders wat Hy hulle laat sien het” (Psalm 78:10-11). Net soos die Israeliete, is ons geneig om dieselfde te doen wanneer ons ‘n nuwe beproewing of verdrukking beleef. Ons sê, “O, God, hierdie beproewing is te veel vir my om deur te gaan.” God antwoord, “Kyk eenvoudig terug en onthou my getrouheid aan jou.”

Indien nodig, hou ‘n dagboek om jouself te herinner aan al God se verlossings in jou lewe. Skryf ‘n paar notas voordat jy saans bed toe gaan. Doen enigiets, net om jouself te herinner aan alles wat God al vir jou gedoen het, al die hartseer wat jy beleef het en waaruit God jou verlos het. Dan, wanneer jou volgende beproewing opduik, maak jou notaboekie oop en sê vir die duiwel, “Jy gaan my nie hierdie keer verlei nie. My God het my vroeër hieruit gehelp, en Hy sal dit weer doen!"

3. Ons verkwis ons beproewings wanneer ons weier om te sien dat God ons hierdeur gelei het juis om ander te leer en te bemoedig. Ons moet ons ervarings en ondervindings met ons broers en susters deel om God se getrouheid aan hulle te bewys. Ons moet opstaan en sê, “Dank God, ek is ‘n veteraan. Ek kan vir jou uit ondervinding sê dat Hy getrou is.”

Paulus het in sy beproewings geroem: “Verder moet niemand my moeite aandoen nie, want ek dra die littekens van die Here Jesus in my liggaam” (Galásiërs 6:17). Hy het geweet dat elke litteken ‘n ewige doel gehad het.

Waarom dink jy het God jou verlos uit al jou vorige beproewings?

Dawid het van sy verdrukkings getuig: “Toe ek benoud was, het ek die HERE aangeroep, en ek het tot my God geroep om hulp; Hy het my stem uit sy paleis gehoor, en my hulpgeroep voor sy aangesig het in sy ore gekom .... Hy het uit die hoogte sy hand uitgestrek, Hy het my gegryp, Hy het my uit groot waters getrek. Hy het my verlos van my magtige vyand en van my haters, omdat hulle te sterk was vir my. Hulle het my oorval  op die dag van my nood; maar die HERE was my steun. En Hy het my uitgelei in die ruimte; Hy het my gered, omdat Hy behae in my gehad het” (Psalm 18:7,17-20).

Jy moet altyd onthou dat alles wat jy deurmaak sal verbygaan. Onlangs het ek ‘n frase gelees uit een van my joernale wat ek geskryf het terwyl ek deur ‘n groot beproewing gegaan het. Vir drie maande het die frase elke keer geeïndig met dieselfde woorde: “O God, wanneer gaan hierdie nagmerrie dan eindig?” Dan uiteindelik verskyn die volgende woorde in groot letters dwarsoor ‘n  hele bladsy: "DIT IS ALLES VERBY. HY HET VERLOS!"

Ek kan eerlik sê dat ek meer geleer het uit al my beproewings as wat ek ooit in goeie dae geleer het. Voorspoed leer ons niks; beproewings wel! Ek vra jou weer, hoe reageer jy op jou beproewings? Verkwis jy dit en word jy ‘n twyfelaar en klakous? Of bou jy jou geloof nog hoër op, wetend dat jou God verlos?

Daar is net een manier om jou huidige probleme te verdra, deur te onthou dat jou hemelse Vader ‘n welbehae in jou het! Hy is besig met ‘n plan, ‘n groot belegging in jou, vir sy ewige doel. “Dat Hy wat ‘n goeie werk in julle begin het, dit sal voleindig tot op die dag van Jesus Christus” (Filippense 1:6). Jou Vader is besig om jou voor te berei om ‘n veteraan in geestelike oorlogvoering te wees, ‘n voorbeeld van geloof en vertroue vir hierdie geslag. Amen!

HEARING THE VOICE OF THE LORD

One believer received the strangest urge from the Spirit and witnessed a little miracle when he obeyed this mysterious call.

READ NOW

DAILY ENCOURAGEMENT IN YOUR INBOX

Sign up now to receive our Daily Devotional or E-newsletter.

SUBSCRIBE