Die Here Wil Graag in Jou Lewe Werk

David Wilkerson (1931-2011)

Jesus het wonderbaarlike wonderwerke gedoen! Hy het ‘n legioen demone uit ‘n besetene gedryf; ‘n vrou is onmiddellik genees van ‘n bloeding wat haar jare lank gekwel het; ‘n twaalfjarige meisie, die dogter van ‘n Joodse leier, is uit die dood opgewek. Telkens wanneer Jesus sulke kragtige werke gedoen het, het Hy vir diegene wat Hy verlos het, gesê: “Jou geloof het jou gesond gemaak” (Markus 5:34; 10:52; Lukas 7:50; 8:48; 17:19; en 18:42).

Jesus het die eerste dertig jaar van sy lewe in Násaret gewoon, en Hy het teruggegaan om onder sy eie mense te wees. Maar in sy tuisdorp het die ergste ongeloof Hom teëgekom. Hulle almal het van Jesus se groot werke geweet, maar vir hulle het sulke dinge elders gebeur – in ander stede, ander plekke en ander gemeenskappe – nie in Násaret nie.

Elders was mense verheug oor Jesus se wonderwerkende krag en was daar groot opgewondenheid. Maar die mense van Násaret kon dit nie vir hulself ontvang nie. Hoekom nie? Omdat hulle geestelik dood was. Hulle was weliswaar opreg godsdienstig en het Jesus en sy gesin as goeie mense geken. Maar hulle wou Christus nie as God in die vlees erken nie.

Geliefdes, dit is die tragedie van baie hedendaagse Christene, sowel as baie kerke. Hulle hoor van groot bewegings van God elders, met baie kragtige werke wat gedoen word en menigtes wat bevryding ervaar. Maar niemand vra: “Waarom nie hier nie? Hoekom nie nou nie?”

‘n Hele geslag evangeliste het opgegroei om Jesus die Mens te erken, maar hulle erken nie Christus as God hier, God nou in hul eie lewens nie. Die Skrif sê vir ons dat die Here geen aannemer van persoon is nie en dat Hy vir elkeen dieselfde groot werke wil doen as wat Hy “elders” doen. Maar oral waar die geloof wankel, is God se hande vasgebind: “En Hy [Jesus] kon daar geen krag doen nie, behalwe dat Hy ’n paar siekes die hande opgelê en hulle gesond gemaak het” (Markus 6: 5).

Moenie 'n fout maak nie: God se krag was in Násaret maklik beskikbaar. Jesus het in hulle midde gestaan, vol mag en krag, en wou verlos, genees, opwek en magtige werke doen. Maar hy het gesê: “Ek kan nie hier werk nie.” Hoekom nie? As gevolg van hul ongeloof (sien 6: 6). Jesus was geskok oor sy eie mense, maar Hy het verder gegaan.

Die Here kies om nie op ongeloof te reageer nie. Maar die Here is liefdevol, vol barmhartigheid en is gretig om jou in jou tyd van nood te help. Sê dus net vir Hom: “Here, ek sien wat U in ander se lewens gedoen het, so doen dit ook hier, nie net elders nie.”