Die Wysheid van God Nastreef

David Wilkerson (1931-2011)

“Die koningin van die Suide sal in die oordeel opstaan saam met hierdie geslag en dit veroordeel; want sy het gekom van die eindes van die aarde af om die wysheid van Salomo te hoor, en – meer as Salomo is hier!” (Matthéüs 12:42).

Die koningin van Skeba was in haar siel baie ontsteld oor al die groot vrae van die lewe – oor God, die toekoms, die dood – en sy het gesmag na antwoorde. Tog kon geen hoeveelheid rykdom, roem of raad op haar siel se roepstem antwoord nie. En toe hoor sy van koning Salomo, die wysste man wat ooit geleef het.

“En toe die koningin van Skeba die gerug van Salomo hoor in verband met die Naam van die HERE, het sy gekom om hom met raaisels op die proef te stel ... en toe ... het sy met hom gespreek oor alles wat in haar hart was. En Salomo het haar al haar woorde verklaar; geen woord was vir die koning te diepsinnig om haar dit te verklaar nie” (1 Konings 10:1-3).

Om by Salomo te kom, was nie ‘n maklike taak vir die koningin nie, want sy en haar karavaan het tot vyf-en-sewentig dae deur ‘n warm woestyn gereis om by hom uit te kom – ‘n lang, moeilike reis. Niks kon egter die koningin keer om ‘n ontmoeting met Salomo te kry nie. En sy was nie teleurgesteld nie! Salomo het haar vrae met wonderlike, verligtende waarhede beantwoord.

Hier in Matthéüs sê die Here vir ons: “As jy beweer dat jy ‘n volgeling van My is, soek jy net so hartstogtelik na wysheid as wat die koningin Salomo se wysheid gesoek het? Ek is hier by jou om al jou vrae te beantwoord en al jou verlange te vervul!”

Die koningin sou miskien vir ons sê: “Ek het die wysheid van ‘n man wat in my tyd geleef het, gesien en gehoor, en sy woorde het my lewe verander. Maar die tyd het aangebreek dat ek sy teenwoordigheid moes verlaat. Maar nie vir jou nie! Jy het iemand wat in jou midde woon, wat oneindig groter is as Salomo. Jy het toegang tot al sy wysheid, sy geregtigheid en heiligheid.”

Wanneer laas het jy ‘n ontsagwekkende ervaring met Jesus gehad? Wanneer was jy so bekoor deur sy vredegewende wysheid dat dit jou asem weggeslaan het? Wanneer het jy laas gesê: “Niks wat ek oor Christus geleer is, het my voorberei op hierdie ervaring met Hom nie. Hy het my twyfel weggeneem en my vreugde verskaf”?

Christus wil Homself openbaar aan diegene wat Hom ten alle koste najaag en smag na God se Woord.