Hoop in ‘n Tyd van Geestelike Verval

Gary Wilkerson

Leringe oor goddelike gesag – God se mag – is oorvloedig in die kerk vandag. Wanneer ek sulke preke hoor, dink ek dadelik aan Elia. Elia het geleef in ‘n tydperk baie soos ons s’n, gekenmerk deur geestelike verval, toe dit om God te eer op ‘n algehele laagtepunt was.

Elia se lewe illustreer die goddelike gesag waarmee God ons wil toerus, veral in hierdie tye. Daar was onenigheid in Israel in Elia se tyd, met God se volk wat in twee koninkryke verdeel was – Samaria in die noorde en Juda in die suide. Die Samaritane se geloof het besoedel geword, omdat hulle toegelaat het dat ander godsdienste met Judaïsme meng. Agab, die berugte koning agter dit alles, het God se weë ligtelik opgeneem, “En dit was nog die minste dat hy in die sondes van Jeróbeam...gewandel het” (1 Konings 16:31).

Onder Agab se heerskappy, het die mense vrylik gesondig en het geen skuldgevoelens daaroor gehad nie. Die Bybel sê Agab het meer kwaad gedoen as al die konings van Israel tot op daardie tyd: “En Agab...het gedoen wat kwaad is in die oë van die HERE, meer as al sy voorgangers” (1 Konings 16:30).

Ons leef ook in ‘n tyd van geestelike verval. Dit gebeur omdat Satan weet dat sy tyd min is – en hy gebruik elke wapen moontlik om goddelike gesag weg te kalwe, nie net in kulturele uitbeeldings nie, maar in die hart van elke Christen.

In hierdie tyd van groot kompromie in die land en in die kerk, wonder jy miskien hoe jy die wêreld rondom jou kan beïnvloed. Maar moenie vergeet wie jy in Christus is nie. Dit maak nie saak wat jou agtergrond, wie jou ouers of watter grade jy miskien het nie. God het ‘n rol vir almal om te speel in hierdie verduisterende geslag. Jy is geroep om hoop en lewe te bring vir die verlorenes en die wat twyfel, veral in hierdie uur.

Elia was ‘n gewone man wat bonatuurlike dade van God gedoen het (sien Jakobus 5:17-18). Hy was reeds toegerus om te doen wat God van hom gevra het omdat hy ‘n geskiedenis met sy Vader gehad het. Net so, wy jouself toe aan ‘n stil en pligsgetroue strewe na God sodat jy gereed kan wees wanneer Hy jou roep na vore te tree en by sy leër aan te sluit om verandering in hierdie laaste dae te bring.