‘n Oorwinnende Lewe

David Wilkerson (1931-2011)

Volgens Paulus, is ons wat glo in Jesus opgewek uit ‘n geestelike dood en saam met Hom in die hemele laat sit. “Ook toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus...en saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus” (Efésiërs 2:5-6, AFR53).

Waar is die hemele waar ons saam laat sit is met Jesus? Dit is niks anders as God se eie troonkamer nie, die troon van genade, die woonplek van die Almagtige. Twee verse later lees ons hoe ons na hierdie wonderlike plek geneem is: “Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God” (2:8).

Hierdie troonkamer is die setel van alle mag en heerskappy. Dit is die plek waar God heers oor alle owerhede en magte en waar Hy heers oor al die sake van die mense. Hier, in die troonkamer, monitor Hy elke beweging van Satan en ondersoek elke gedagte van die mens.

Christus sit aan die Vader se regterhand. Die Skrif sê vir ons, “Alle dinge het deur Hom ontstaan” (Johannes 1:3) en “In Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik” (Kolossense 2:9). In Jesus woon alle wysheid en vrede, alle mag en sterkte, alles wat nodig is om ‘n oorwinnende, vrugbare lewe te leef; en aan ons is al daardie rykdom, wat in Christus is, gegee.

Paulus sê in wese vir ons, “So seker as wat Christus uit die dood opgewek is, is ons saam met Hom opgewek deur die Vader. So seker as wat Jesus na die troonkamer van die hemel geneem is, is ons saam met Hom na dieselfde glorieryke plek geneem. Omdat ons in Hom is, is ons ook waar Hy is. Dit is die voorreg van alle gelowiges. Dit beteken ons sit saam met Hom in dieselfde hemelse plek waar Hy woon.”

Paulus sê dat alle geestelike seëninge in die troonkamer aan ons geskenk word. Al die rykdom van Christus is vir ons beskikbaar: volharding, krag, rus en toenemende vrede. “Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus” (Efésiërs 1:3).