Verborge Goud op Ons Grond

David Wilkerson (1931-2011)

“Immers, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien, deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur sy heerlikheid en deug” (2 Petrus 1:3, AFR53).

Jarelank het ek daarop aanspraak gemaak om gevul te wees met die Gees. Ek het daarvan getuig dat ek in die Gees gedoop is. Ek het verkondig dat die Heilige Gees my krag gee om te getuig en dat Hy my heilig. Ek bid in die Gees, praat met die Gees, wandel in die Gees en hoor sy stem. Ek glo werklik dat die Heilige Gees die krag van God is.

Ek kan jou na die plek neem waar ek was toe ek gevul was met die Gees op agtjarige ouderdom. Ek het alles, wat die Skrif oor die Heilige Gees sê, gelees. Maar deesdae, bid ek: “Ken ek regtig hierdie fenomenale krag wat in my woon? Of is die Gees vir my net ‘n leerstelling? Ignoreer ek Hom op een of ander manier? Vra ek Hom nie om vir my te doen wat Hy gekom het om te doen nie?”

Trouens, jy kan iets baie waardevol hê en dit nie weet nie. Jy kan nie geniet wat jy het nie omdat jy nie verstaan hoe kosbaar dit is nie.

Daar is ‘n verhaal van ‘n boer wat sy hele lewe lank op sy plasie gewerk het. Vir dekades lank het hy die klipperige grond omgeploeg, arm geleef en uiteindelik ontevrede gesterf. Met sy dood, is die plaas aan sy seun nagelaat, Eendag, terwyl hy geploeg het, het die seun ‘n goud gestreepte klont gekry. Hy het dit laat waardeer en daar was vir hom gesê dat dit suiwer goud was. Die jongman het gou ontdek dat die plaas vol goud was. Skielik het hy ‘n ryk man geword. Daardie rykdom was verlore vir sy vader, selfs al was hy sy hele lewe lank op sy grond.

So is dit met die Heilige Gees. Baie van ons leef in onkunde oor wat ons het, of die krag wat in ons is. Sommige Christene leef hulle hele lewens en dink hulle het alles wat die Heilige Gees bied, maar hulle het Hom nie werklik in sy volheid en krag ontvang nie. Hy bewerkstellig nie in hulle die ewige werk waarvoor Hy gestuur was nie.

Dierbare gelowige, moenie dat dit met jou gebeur nie. Pleit by God om jou bewus te maak van die volle mate van sy Gees.