Volkome Vertroue in God

David Wilkerson (1931-2011)

In die evangelies het Jesus vir sy dissipels gesê: “...en op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid...en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom. Want die kragte van die hemel sal geskud word” (Lukas 21:25-26, AFR53). Christus se waarskuwing aan hulle en ons is: “Sonder hoop in My, sal menigtes mense letterlik sterf van skrik!”

Vir diegene wat op God se beloftes vertrou om sy kinders te bewaar, is daar egter glorieryke vryheid van alle vrees. Om die waarheid te sê, almal wat onder die heerskappy van Christus kom, hoef nooit weer te vrees nie as hulle net die volgende geheim sal begryp: Ware vryheid van vrees bestaan ​​daarin om ‘n mens se lewe totaal in die hande van die Here oor te gee.

Om onsself aan God se sorg toe te vertrou, is ‘n daad van geloof. Dit beteken om onsself heeltemal onder sy mag, wysheid en genade te plaas. Dit beteken om gelei en bewaar te word volgens sy wil alleen. As ons dit doen, belowe die God van die heelal om verantwoordelik te wees vir ons, om ons te voed, te klee en te beskerm en om ons harte teen alle kwaad te bewaar.

Jesus het die beste voorbeeld gegee van hierdie soort heilige berusting toe Hy na die kruis gegaan het. Net voordat Hy sy gees oorgegee het, het Hy hardop uitgeroep: “... Vader, in u hande gee Ek my gees oor...” (Lukas 23:46).

Christus het letterlik die bewaring van sy lewe en sy ewige toekoms onder die toesig van die Vader geplaas. Sodoende het Hy die siel van al sy skape ook in die Vader se hande geplaas.

Jy wonder miskien: “Maar het Jesus nie gesê dat Hy die mag het om sy lewe af te lê en dit weer op te neem nie?” (Sien Johannes 10:18.) Waarom het Hy dit in God se hande oorgegee om bewaar te word, aangesien Hy die mag gehad het om “weer sy lewe op te neem”? Die antwoord is voor die hand liggend. Jesus het dit gedoen om ‘n voorbeeld te stel vir al sy skape om te volg!

As ons gevra word om ons lewens aan iemand toe te vertrou, moet ons weet dat hierdie persoon die mag het om ons teen alle gevaar, bedreigings en geweld te beskerm. Ons moet die vertroue van die apostel Paulus hê as hy skryf: “...Ek weet in wie ek geglo het, en ek is oortuig dat Hy mag het om my pand te bewaar tot dié dag toe” (2 Timótheüs 1:12).