God se Verbintenis tot Jou Oorwinning

David Wilkerson (1931-2011)

Petrus het ‘n kragtige boodskap aan die mense in Jerusalem verkondig en hulle harte was aangeraak toe hulle God se Woord hoor en hulle sonde besef. Petrus het hulle beveel, “Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang” (Handelinge 2:38).

Wat beteken dit om jou te bekeer? Ware bekering lei tot droefheid, berou en spyt oor sonde. Slegs die offer van Christus se bloed kan vergewe. Maar bekering is die enigste manier om ware genesing en blydskap te ken. Daar is geen ander manier om die vrede en rus van Christus binne te gaan nie. Paulus het aan die Korinthiërs geskryf oor die vrug wat uit bekering kom.

“Want die droefheid volgens die wil van God werk ’n onberoulike bekering tot redding, maar die droefheid van die wêreld werk die dood. Want kyk, juis dit, dat julle bedroef geword het volgens die wil van God — wat ’n groot ywer het dit in julle gewerk, ja, verantwoording, verontwaardiging, vrees, verlange, ywer, bestraffing” (2 Korinthiërs 7:10-11).

Bekering en vertoue in Christus se verlossende bloed lei tot volkome kwytskelding van sonde en dit beteken begenadiging, vergifnis en vryheid van sonde se mag. Menslike deernis alleen kan nie iemand se siel bekeer nie. Dit raak slegs die vlees aan en kan nie die diep plekke van die siel aanraak nie. Hierdie waarheid is die kern van die evangelie. Jy sien, bekering lei tot vergifnis – en vergifnis moet lei tot rus en blydskap.

Die las van sonde – die herinneringe en kwellings van vorige sondes – moenie verder as die kruis gedra word nie. Alle berou oor vorige sondes, alle selfopgelegde vernedering, moet in die reinigende fontein van Christus se bloed gewerp word. Uiteindelik, kom daar ‘n tyd wanneer almal wat Jesus volg, Hom moet hoor sê, “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee” (Matthéüs 11:28).

As jy teen ‘n boesemsonde, ‘n vesting van Satan stry, beskou hierdie vier dinge:

  1. Maak seker jy glo dat die Here jou steeds liefhet. Jy is steeds onder sy genade en barmhartigheid.
  2. Bekeer jou en vra dat die Here goddelike berou in jou skep.
  3. Ontvang God se liefde, en rus dan in sy belofte om jou te vergewe.
  4. Glo in sy Nuwe Testament boodskap aan jou: “Ek sal jou genadig wees en al jou sondes vergewe. En Ek sal in jou werk wat My welbehaaglik is.”

God het die Heilige Gees, wat weet hoe om met die vyand af te reken en jou van alle slawerny te verlos, aan jou gestuur. Hy is die sagte, kalm stem wat jou sal lei en krag gee in elke stryd.