Die Krag van die Here se Teenwoordigheid n Boodskap van Hoop in Hierdie Onseker Tye

Hierdie boodskap gaan oor die almagtige krag van God se teenwoordigheid en hoe sy kinders daardie krag in besit kan neem. Die Skrif voorsien eindelose voorbeelde van hoe die teenwoordigheid van die Here sy mense bemagtig het om vir Hom te lewe. Een van die kragtigste voorbeelde is die lewe van Moses.

Moses was oortuig dat sonder God se teenwoordigheid in sy lewe, dit vir hom nutteloos was om enigiets aan te pak. Toe hy van aangesig tot aangesig met die Here gepraat het, het hy met vrymoedigheid gesê, “As U nie self meegaan nie, laat ons dan nie hiervandaan optrek nie” (Exodus 33:15). Hy het bedoel, “Here, as U nie met ons is nie, gaan ons dit nie maak nie. Ons sal nie ‘n enkele tree gee, tensy ons verseker is van u teenwoordigheid nie.”

Moses het geweet dat dit God se teenwoordigheid onder hulle was wat hulle onderskei het van alle ander nasies. Dieselfde is waar vir God se mense vandag. Die enigste ding wat ons onderskei van ongelowiges, is God se teenwoordigheid “met ons,” wat ons lei, rigting gee en sy wil in en deur ons werk. Sy teenwoordigheid dryf alle vrees en verwarring uit.

Moses se gesindheid was, “Ons werk net op een beginsel. Die enigste manier vir ons om gelei en regeer te word, om oorlog te voer en te oorleef in hierdie tye, is om God se teenwoordigheid met ons te hê. Wanneer sy teenwoordigheid in ons midde is, kan niemand ons vernietig nie. Maar sonder Hom is ons hulpeloos en gereduseer tot niks. Laat al die nasies van die wêreld op hulle magtige leërs vertrou, op hulle ysterwaens en opgeleide soldate. Ons sal op die geopenbaarde teenwoordigheid van die Here vertrou.”

God het Moses se onverskrokke stelling beantwoord: “Moet Ek self meegaan om jou die rusplek te verskaf” (Exodus 33:14). Die Hebreeuse woord vir “rusplek” beteken hier “’n vertroostende, vredevolle vertroue.” God het bedoel, “Dit maak nie saak watter stryd of beproewings jy sal teëkom nie, jy sal altyd in staat wees om ‘n kalm rustigheid en vertroue in My te vind.”

Die Ou Testament is vol verhale van die wonderlike seëninge, wat kom na diegene, wat God se teenwoordigheid met hulle gehad het.

Beskou die volgende voorbeelde:

  • God se teenwoordigheid was so duidelik in Abraham se lewe, dat selfs die heidene rondom hom die verskil tussen sy en hulle lewens gesien het: “In dié tyd het Abiméleg...met Abraham gespreek en gesê: God is met jou in alles wat jy doen” (Génesis 21:22). Die heidense koning het gesê, “Daar is iets anders aan jou, Abraham, God is met jou oral waar jy gaan.”
  • God het aan Josua belowe dat as sy teenwoordigheid met hom was, geen vyand teen hom sou kon staande bly nie: “Niemand sal teen jou standhou al die dae van jou lewe nie; soos Ek met Moses gewees het, sal Ek met jou wees; Ek sal jou nie begewe en jou nie verlaat nie. Wees sterk en vol moed!” (Josua 1:5–6). Wanneer God se Gees in ons teenwoordig is, kan ons sterk en vol moed wees, omdat ons vertrou op sy belofte dat Hy in al ons weë met ons sal wees.
  • God het aan Gideon vertel, “En die Engel van die HERE het aan hom verskyn en vir hom gesê: Die HERE is met jou, dapper held...Gaan in hierdie krag van jou en verlos Israel” (Rigters 6:12, 14). God het met ander woorde gesê, “Gideon, daar is ‘n mag in jou so kragtig dat dit Israel kan verlos. Daardie mag is my teenwoordigheid.” Hoewel Gideon homself as ‘n lafaard beskou het, het God hom ‘n “dapper held” genoem. Waarom? Die Here wou bewys hoeveel enige mens kan doen wanneer sy teenwoordigheid met hom is.
  • God het Jesaja vertel van ‘n spesiale belofte wat Hy gemaak het aan diegene wat Hy liefhet: “Wees nie bevrees nie, want Ek het jou verlos: Ek het jou by die naam geroep: jy is myne! As jy deur die water gaan, is Ek by jou; en deur die riviere — hulle sal jou nie oorstroom nie; as jy deur vuur gaan, sal jy jou nie skroei nie, en die vlam sal jou nie brand nie...Want Ek is die HERE, jou God...en Ek jou liefhet… Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou” (Jesaja 43:1–5, kursief myne). Met God se teenwoordigheid in jou, kan jy deur enige vuur gaan en jy sal nie net oorleef nie, maar sal deur dit alles heen bewaar en beskerm word.

Hierdie Ou Tesamentiese verhale is nie net dooie-letter stories nie. Hulle is bedoel om ons te bemoedig om God vir sy teenwoordigheid in ons eie lewens te vertrou. Soos Abraham, Josua en die ander, het ons ook ‘n kragtige getuienis van wat God se teenwoordigheid vir ons gedoen het: dit het ons gelei, deure oopgemaak, struikelblokke verwyder en sorge en vrese verlig.

God het ‘n voorwaarde vir sy teenwoordigheid in ons lewens.

Dink aan Koning Asa. Hierdie man het God se mense na ‘n wonderbaarlike oorwinning oor die Kusiete (Etiopië) se miljoen man leër gelei. Daarna het hy getuig dat dit God se teenwoordigheid was wat die vyand laat spaander het: “Asa het die HERE sy God aangeroep...HERE, niemand kan help soos U tussen die magtige en die kragtelose nie; help ons...want op U steun ons, en in u Naam het ons teen hierdie menigte gekom...En die HERE het die Kusiete voor Asa en Juda verslaan” (2 Kronieke 14:11–12).

Toe Asa sy triomfantlike leër terug na Jerusalem gelei het, het die profeet Asárja hom by die stad se hek ontmoet en vir hom hierdie boodskap gegee: “Luister na my, Asa...Die HERE is met julle as julle met Hom is, en as julle Hom soek, sal Hy Hom deur julle laat vind; maar as julle Hom verlaat, sal Hy julle verlaat. En daar was baie dae dat Israel sonder die ware God was...Maar as hulle in die nood hul tot die HERE, die God van Israel, bekeer het en Hom gesoek het, het Hy Hom deur hulle laat vind” (2 Kronieke 15:2–4).

Dit is die geheim daarvan om die teenwoordigheid van God in jou lewe te vind en te behou. Die Here het Asa baie duidelik herinner: “Asa, moenie vergeet hoe jy hierdie oorwinning behaal het nie. Toe jy in die moeilikheid was, het jy My met jou hele hart gesoek en Ek het my teenwoordigheid na jou gestuur. Onthou, dit was my teenwoordigheid wat vir jou die oorwinning behaal het.”

Wanneer God se teenwoordigheid nie daar is nie, is alles buite orde, met geen wet, leiding of regverdige onderwysing nie. Elkeen maak sy eie wette en doen sy eie ding. Dit is ‘n toonbeeld van hoe baie Christen huise vandag lyk: alles buite beheer, met geen vrede of rus nie en almal doen wat hulle ookal wil. In sy genade, is die Here bedroef oor sulke wanorde.

Dit hoef egter nie so te wees nie. God se beloftes is onveranderlik en sy Woord belowe, “As jy sal aanhou om My te soek vir die res van jou lewe, sal Ek met jou wees. Wanneer jy om hulp roep, sal Ek My deur jou laat vind.”

Dit is nie een of ander ingewikkelde teologie nie. Enigiemand kan die blywende teenwoordigheid van God hê as hy of sy gewillig is om in geloof uit te roep. Ons word belowe, “Hy sal Hom deur julle laat vind” (2 Kronieke 15:2). Die Hebreeuse woord vir “vind” beteken hier, “sy teenwoordigheid kom voort om te bemagtig en te seën.” Met ander woorde: “Reik uit na die Here met jou hele hart en Hy sal sy teenwoordigheid openbaar. Dit sal ‘n almagtige krag wees wat jou sal bemagtig om standvastig en vreesloos te wees.”

Slegs wanneer God se teenwoordigheid met ons is, kan ons sy heerlikheid sien en verstaan.

Toe die Israeliete in die woestyn was, het God sy teenwoordigheid aan hulle geopenbaar deur ‘n wolk. Hierdie wolk was ‘n fisiese openbaring van God se belofte om met sy volk te wees. Dit het die tabernakel in die nag en dag bedek en dit het opgetree as hulle leidsman in elke onderneming. Wanneer die wolk beweeg het, het hulle beweeg en wanneer dit gebly het, het hulle gebly. Die mense het nooit nodig gehad om te probeer uitvind waarna hulle moet gaan of wat hulle toekoms was nie. Hulle het al hulle vertroue op daardie sigbare wolk van die Here se teenwoordigheid geplaas.

Vandag hang die wolk van God se teenwoordigheid oor jou binnekamer van gebed. Dit wag elke dag om jou met sy vrede te omring. Dit sal jou lei, jou bemagtig en jou in God se rus bewaar, jou leiding gee vir jou huis, werk en verhoudings. En jy kan te enige tyd met die Here kommunikeer, of jy nou met die bus oppad is, of pendel na jou werk toe. Jy kan alle ander dinge uitsluit en sê, “Here, ek het nou ‘n halfuur, en ek wil met U praat.” Dit is jou “binnekamertyd” met Hom.

Dit is ‘n wonderlike ding om kwaliteit tyd saam met die Here te spandeer en ‘n aanhoudende intimiteit met Hom te bou. Die Here belowe dat as jy meer intimiteit met Hom soek, sal sy teenwoordigheid in jou lewe deurbreek en goddelike orde rondom hou skep. Daar is egter selfs iets groters wat sal gebeur: Die voortdurende strewe na God se teenwoordigheid, sal jou lei na ‘n openbaring van God se heerlikheid.

Moses het God gesoek vir ‘n voortdurende openbaring van die Here se teenwoordigheid “dat ek U kan ken” (Exodus 33:13). God het sy dienaar as volg geantwoord: “Moet Ek self meegaan om die rusplek te verskaf” (Exodus 33:14).

Moses se versoek sou genoeg wees vir die meeste Christene. Wie onder ons wil nie God se beloofde rus en vrede hê nie? Wat meer sou enigiemand begeer? Tog, om die versekering van God se teenwoordigheid te hê, was nie vir Moses genoeg nie. Hy het geweet dat daar meer was en hy het uitgeroep, “Laat my tog U heerlikheid sien” (Exodus 33:18).

God het aan Moses sy heerlikheid getoon.

Die Here se heerlikheid het nie in een of ander helder wolk of aardskuddende demonstrasie van krag verskyn nie. In plaas daarvan, het God sy heerlikheid in ‘n eenvoudige openbaring van sy natuur uitgedruk: “En toe die HERE by hom verbygaan, het Hy geroep: HERE, HERE, barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou; wat die goedertierenheid bewaar vir duisende, wat ongeregtigheid en sonde vergewe” (Exodus 34:6–7). Sien jy? God se heerlikheid was ‘n openbaring van sy goedheid, genade, liefde en deernis.

Sommige mag stry, “Maar wat van die dissiples se fenominale ervaring op die berg waar Jesus verheerlik is? Was dit nie ‘n openbaring van God se heerlikheid nie? Daar was ‘n oorweldigende lig en die wonderbaarlike verskyning van Moses en Elía.”

Op daardie oomblik, was God se heerlikheid nie in Moses of Elía of selfs in die skouspelagtige lig nie. Liewer, sy stralende heerlikheid, was in Jesus: “Sy aangesig het geblink soos die son, en sy klere het wit geword soos die lig...daar sê ‘n stem uit die wolk, Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het. Luister na Hom!” (Matthéüs 17:2,5-6, kursief myne).

Hier word God se heerlikheid verpersoonlik in Christus. Jesus is die openbaring van alles wat God aan Moses gesê het Hy was: barmhartig, genadig, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou, wat die goedertierenheid bewaar vir duisende, wat ongeregtigheid en sonde vergewe. Op die berg waar Jesus verheerlik was, het God ‘n lewende beeld van sy eie heerlikheid geopenbaar. “Dit is nou alles beliggaam in my Seun.”

Ek het sommige Christene gehoor sê, “As die Here my tog net ‘n visioen van die gruwels van die hel sal gee, sal ek Hom nooit verlaat nie. Ek sal dan elke dag vir Jesus lewe.” So ‘n visioen bewaar egter niemand nie. Slegs ‘n visioen van Jesus — van sy heerlikheid, genade en barmhartigheid — sal ons heilig hou. Ek ken ‘n man wat ‘n naby die dood was en hierdie soort helse visioen gesien het. Daarna het hy belowe dat hy sy lewe aan Christus sou toewy. Maar binne weke, het daardie vreesaanjaende visioen verdwyn en hy het teruggegaan na sy sondige weë.

Geliefde, God wil jou oë oopmaak vir die “rykdom van die heerlikheid van sy erfdeel onder die heiliges” (Efésiërs 1:18). Dit beteken eenvoudig, dat die heerlikheid wat aan Moses geopenbaar is, beliggaam is in God se Seun. En nou is Christus aan ons gegee as ons erfdeel. “Want in Hom, Christus Jesus, ons Here, woon al die volheid van God liggaamlik” (Kolossense 2:9, my parafrase).

Jy mag wonder waarom Moses so desperaat na ‘n visioen van God se heerlikheid gesoek het.

Ek glo dat ons die rede in hierdie vers kry: “En daar sal Ek met die kinders van Israel saamkom en die tent sal deur my heerlikheid geheilig word” (Exodus 29:43, kursief myne). Die woord “geheilig” beteken “skoongemaak.” God het gesê, “Terwyl jy My aanbid, sal Ek jou ontmoet en jou my teenwoordigheid gee. En wanneer jy in my teenwoordigheid is, sal Ek my heerlikheid aan jou openbaar. Dit sal jou uitlig bo jou omstandighede.”

So, waar kan ons hierdie openbaring van Christus kry? Ons vind dit slegs as ons na Hom in gebed gaan, terwyl ons op God se Woord vertrou. Paulus sê, soos ons toelaat dat die Skrif ‘n ewig-toenemende openbaring van Jesus se heerlikheid op ons skyn, sal ons verander word van heerlikheid tot heerlikheid: “En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ‘n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is” (2 Korinthiërs 3:18).

Hierdie openbaring van Christus se heerlikheid sal ‘n bewarende krag vir ons lewens voorsien: “Want oor alles wat heerlik is sal daar ‘n beskutting wees” (Jesaja 4:5, kursief myne). Met ander woorde, sy heerlikheid sal ons die hemelse dinge laat bedink selfs in ons moeilikste uur.

Wat God hier aan ons vertel, is dat ons tyd moet neem om sy Seun te leer ken. Ons moet daagliks die Woord ondersoek en ons na gebed wend. Dan, soos ons in sy teenwoordigheid bly, sal ons oë begin oopgaan vir sy heerlikheid. Dit is alles geopenbaar in Christus. Jesus is die volle openbaring van sy liefde, genade, barmhartigheid en liefdevolle goedertierenheid.

Soos jy voortdurend aan sy openbaring dink en met Hom kommunikeer, sal jy meer en meer soos Jesus word. En as jy sien hoe liefdevol en genadig Hy teenoor jou is, hoe meer en meer sal jy op Hom vertrou om jou deur alle beproewings te dra. Sy Woord maak dit duidelik: “Want die HERE – sy oë deurloop die hele aarde om diegene kragtig te steun wie se hart onverdeeld op Hom gerig is” (2 Kronieke 16:9). Soek Hom met jou hele hart en begeer sy teenwoordigheid in jou daaglikse lewe. Dan sal jy sy wonderlike heerlikheid ken en ervaar.

Hier is ‘n laaste woord.

Ek kan myself nie indink hoe ongelowiges enige vrede hoegenaamd kan ken in hierdie onseker tye sonder die teenwoordigheid en vrede van Jesus nie. Vrees en angs hang nou oor die mensdom soos ‘n swart wolk. By ‘n onlangse byeenkoms van die rykste mense op aarde, het een spreker op ‘n pynlike noot gesê: “Ons is almal in die ergste moontlike gemors. Ons het dit op onsself gebring en ons weet nie hoe om daaruit te kom nie.”

Ek dank God vir die nabyheid van Jesus in hierdie verskriklike uur. Ek neem al my angsvolle vrese en sorge na ‘n rustige plek van gebed, waar ek eenvoudig Jesus liefhet. Ek aanbid Hom daar in stilte, dank Hom en dra al my pyne, bekommernisse en familie sake aan Hom op. Ek sing daagliks daardie ou evangelie liedjie: “Shut in with God in a secret place, There in his presence beholding his face, Gaining new power to run in the race…I long to be shut in with God.”

Geliefde, Jesus sal saam met jou deur jou probleme stap. Hy verheug Hom oor jou. Jy gaan dit maak, liewe oorwinnaar. God het jou lief en bewaar jou in sy teenwoordigheid.