As die Fondamente Omgegooi Word, Wat Kan die Regverdige Doen?

David Wilkerson

Die Skrif sê dat daar ‘n dag sal kom waarin God alles sal skud wat geskud kan word. Die enigste dink wat na hierdie groot skudding sal oorbly, is dit wat nie geskud kan word nie. Wat is dit wat nie deur God se oordeel geskud kan word nie? Dit is die kerk van die Here Jesus Christus.

Ek sê dat ek glo dat die huidige skudding in Amerika en deur die wêreld ‘n manifestasie van God se toorn is. Die Here lê die fondamente van die dinge waarop mense vertrou, bloot. Die Psalms praat hiervan:

“As die fondamente omgegooi word, wat kan die regverdige doen?” (Psalm 11:3).

Dink daaraan: Niemand — geen politikus, ekonoom of finasiële kenner — is in staat om die skielike verdwyning van welvaart te verklaar nie. Dit is ‘n skudding wat vinnig dwarsdeur die aarde versprei het, met geen nasie wat immuun is daarteen nie. Hierdie sisteme was beskou om te groot te wees om in duie te stort. En nou wonder almal wat agter hierdie wydverspreide ineenstorting van die mensdom se grootste instellings skuil.

Te midde van so ‘n tyd, wat moet die regverdige doen? Wat kan ons verwag in tye van onstuimigheid en onrus? En hoe moet ons daarop reageer?

Laat my verskeie dinge, wat die Skrif sê God se mense kan doen in tye soos hierdie, onder jou aandag bring.

1. As jy Jesus as jou Here en Verlosser bely het, hoef jy nooit die toorn van God te vrees nie.

Diegene wat in Christus is, is vir ewig beskerm deur die bloed, wat Jesus vir hulle gestort het. Hierdie waarheid moet die hoeksteen van ons geloof wees. Dit sal alles, wat ons dink en doen in tye van tugtiging, bepaal.

Die feit van die saak is dat God sy toorn vir die goddelose reserveer. Die Here se genade duur vir ewig. En hierdie genade word daagliks nuut. Maar die onregverdiges verwerp en verhard hulself teen al die aanbiedinge van God se deernisvolle genade. Volgens Paulus, verag hulle sy genade en onderdruk hulle sy waarheid. “Want die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk” (Romeine 1:18).

Die konsep van God se toorn oor verharde harte word duidelik verklaar dwarsdeur die Nuwe Testament. Die apostel Johannes maak dit duidelik in sy Evangelie: “Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom” (Johannes 3:36).

Net so het Paulus vir die Christene in Éfese vertel: “Want dit moet julle weet dat geen hoereerder of onreine of gierigaard, wat ‘n afgodsdienaar is, ‘n erfdeel het in die koninkryk van Christus en van God nie. Laat niemand julle met ydel woorde verlei nie, want daardeur kom die toorn van God oor die kinders van die ongehoorsaamheid” (Efésiërs 5:5-6, kursief, myne).

Wat van die regverdige? Paulus het die Christene in Thessalonika verseker, “Jesus wat ons van die toekomstige toorn verlos...Want God het ons nie bestem tot toorn nie, maar om die saligheid te verkry deur onse Here Jesus Christus” (1 Thessalonicense 1:10–5:9).

Paulus het die gelowiges in Rome ‘n soortgelyke versekering gegee: “Maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. Veel meer dan sal ons, nou dat ons geregverdig is in sy bloed, deur Hom gered word van die toorn” (Romeine 5:8–9, kursief myne).

Tog, gedurende tydperke van waarskuwing — wanneer God se regverdige toorn op die aarde uitgegiet word — sal sy mense sekerlik geraak word vir ‘n tydperk. Wat sê sy Woord oor die regverdiges in hierdie tyd? Wat moet God se mense doen wanneer die wêreld gepeper word met slegte nuus? Wanneer groot korporasies bankrot gaan — wanneer markte chaoties styg en val en die wêreld verstar van vrees — hoe moet ons ons vrese hanteer?

2. Jesaja vertel vir ons dat God aan sy mense ‘n skuilplek gegee het gedurende so ‘n tyd.

Die Here gee sy woord aan Jesaja: “Kom, my volk, gaan in jou binnekamers en sluit jou deur agter jou toe, verberg jou vir ‘n klein oomblik, totdat die grimmigheid verbygaan” (Jesaja 26:20, kursief myne).

Toe God met sy mense gepraat het, was dit in ‘n onseker tyd in Israel se geskiedenis. Dit was gesê van hierdie periode, “Want kyk, die HERE sal uit sy plek uitgaan om die ongeregtigheid van die bewoners van die aarde oor hulle te besoek” (Jesaja 26:21).

Soos goddeloosheid toeneem, mag dit lyk of God Homself vir ‘n tyd buite sig hou. Maar ‘n dag kom waarin die Here uitkom om sy naam te verdedig. Toe Jesaja hierdie woord tot Israel gespreek het, was die mensdom se toestand baie soos vandag s’n.

Die oordeel wat God toe gestuur het, was wat die Puriteinse teoloë ‘n “tekenende oordeel” genoem het en dit het beteken “’n gebeurtenis wat dien om te waarsku.” (John Owen, die groot Puriteinse teoloog, het dit ‘n “handtekening oordeel” genoem). Jesaja het dit duidelik gemaak dat die Here se doel daarvan was: “Want as u oordele op die aarde is, leer die inwoners van die wêreld geregtigheid” (Jesaja 26:9). Met ander woorde, God bedoel dat dit ‘n verlossende oordeel sal wees.

Dit is egter jammer, want Jesaja verklaar, “HERE, is u hand opgehef, hulle sien dit nie” (Jesaja 26:9),  Met ander woorde: “God, U oordeel is duidelik en dit is voor die deur. Maar ten spyte daarvan gaan die wêreld voort met goddeloosheid.”

Dit is toe dat God vir Jesaja die boodskap vir sy mense gegee het: “Gaan in jou binnekamer in en maak die deur agter jou toe. Verberg jouself totdat die storm verbygaan.”

Miskien is jy verbaas oor hierdie boodskap. As ‘n Christen, wat sy vertroue in God se getrouheid plaas, mag jy wonder, “Wegkruip? Ek, ‘n volgeling van Jesus? Nooit! Mag dit nie waar wees van enigiemand wat op die Here vertrou nie.” Daar is egter ‘n baie spesiale betekenis agter hierdie gedeelte in die Skrif.

3. Die profeet sê dat dit moontlik is om ‘n plek van troos en kalmte te vind tydens onstuimige tye van sy toorn.

Wanneer jy in benoudheid is — wanneer jy oorweldig voel deur vrees, moedeloos is as gevolg van teenspoed en onsteld is van bekommernis oor jou toekoms — sê God dat daar ‘n geheime skuilplek is. Dit is ‘n plek van troos, waar ons kalmte vir ons siele kan kry.

Hierdie geheime skuilplek is ‘n kamer in jou gedagtes. Jesaja beskryf dit so: “U sal ‘n standvastige gesindheid in volle vrede bewaar, want hulle vertrou op U” (Jesaja 26:3, kursief myne).

Toe God hulle vertel het, “Sluit jou deur agter jou toe,” het hy die volgende bedoel. Hy wys ons die noodsaaklikheid om die talle bekommerde stemme in ons gedagtes uit te sluit. Ons moet die deur toemaak op al die gedagtes oor môre en oor wêreld aangeleenthede. Jesus het ons vertel, “Moet jou nie oor môre bekommer nie.” Die Here wat ons getrou tot so ver gebring het, sal ons ook nie faal in die dae vorentoe nie.

Beskou die hulpgeroep van die Psalmis:

“Wees my genadig, o God, wees my genadig, want by U het my siel geskuil, en in die skaduwee van u vleuels sal ek skuil totdat die onheil verbygegaan het. Ek roep God, die Allerhoogste, aan, God wat dit vir my voleindig. Hy sal uit die hemel stuur en my verlos terwyl hy wat my vertrap, my smaadheid aandoen. God sal sy goedertierenheid en sy trou stuur” (Psalm 57:2-4, kursief myne).

“Spreek in julle hart op julle bed, en wees stil” (Psalm 4:4).

“As ek aan U dink op my bed, in die nagwake oor U peins. Want U was ‘n hulp vir my, en in die skaduwee van u vleuels sal ek jubel. My siel is aan U verkleef; u regterhand ondersteun my” (Psalm 63:6–8).

Ek het persoonlik groot vrede gevind deur te doen wat Dawid hier voorskryf. In die nag op my bed, wanneer alles stil is rondom my, dan aanbid ek sonder om ‘n woord te spreek.

Dit is waar ek my geheime skuilplek van troos en kalmte vind: wanneer ek gaan lê en alle menslike stemme en slegte nuus uitsluit. Ek maak die deur toe vir elke ontstellende vrees en in plaas daarvan, kommunikeer ek met my genadige Here. In daardie tye, aanbid ek en rig al my gedagtes op die Here, terwyl ek aan Hom vashou. En my siel word gevul met sy vrede en rus.

4. Ons moet al die vurige pyle van Satan uitblus.

Paulus gee raad, “Behalwe dit alles neem die skild van die geloof op waarmee julle al die vurige pyle van die Bose sal kan uitblus” (Efésiërs 6:16).

Paulus brei uit oor hoe ons die stryd teen die vyand, wat teisterende gedagtes van vrees stuur, moet voer:

“Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug” (Efésiërs 6:11–12).

Geliefde, die konflik waarin ons is, is nie ‘n menslike stryd nie. Dit kan nie in die aardse sfeer gestry word nie. Hierdie stryd vind plaas in die bonatuurlike realm.

In der waarheid, as jy in Christus is, dan kom jy teen Satan te staan. Moenie sy demoniese toorn met die oordeel van God verwar nie. Die toorn waarteen jy te staan kom, is dié van ‘n duiwel wat woedend geword het, omdat hy weet dat hy min tyd het om teen God se mense te veg.

En Satan se aanvalle is spesifiek gerig op diegene wat hulself daaraan toewy om getrou aan die Here te wandel. Weer en weer roem die Psalmis, “Ek skuil in die Here.” Dit is ‘n beeld van ‘n regverdige heilige wat ten volle op God vertrou. Dit is egter hierdie getuienis van vertroue wat deur Satan geteiken word. Sy onwrikbare geloof is die rede vir die vurige pyle wat uit die hel teen hom gestuur word.

“Want kyk, die goddelose span die boog; hulle het hul pyl op die snaar reggesit om in die donker te skiet na die opregtes van hart” (Psalm 11:2).

So, wat is die vurige pyle uit die hel wat op jou en my gerig word? Hulle is vreesaanjaende, onstellende gedagtes oor ons toekoms en oor God se sorg vir ons. Die duiwel is ‘n leuenaar en ‘n aanklaer en elke aanval van hom word direk op ons geloof gemik.

5. Dit maak nie saak hoe lank jy reeds met Christus wandel nie, jy sal Satan se vurige pyle teëkom.

Op hierdie oomblik, lei talle gelowiges dwarsoor die wêreld voortdurende pyn en ander groot verdrukkinge. Hierdie mense weet waarna ek verwys wanneer ek praat van Satan se vurige pyle. Met elke dag wat hulle lyding voortduur, ervaar hulle die steekpyne van sy beskuldigings.

Waar is jou God nou? Jy het na hom uitgeroep vir weke, maande en jare. Waarom laat Hy toe dat jou lyding aanhou met geen antwoord nie?”

Hulle versorgers het ‘n soortelyke stryd. Hulle sukkel met hartseer terwyl hulle sien hoe hulle geliefdes daagliks pyn verduur en hulle weet van die beskuldigings wat die vyand teen hulle bring. Hulle weet hulle kan nie net eenvoudig die Skrif aanhaal of preek vir hulle wat te midde van ‘n stryd met verlammende, oneindige fisieke pyn, is nie. Tog moet hulle hulle aanhou bemoedig tydens die voortdurende stryd.

Ander is onder groot finansiële druk. Hulle weet ook hoe dit voel om met ‘n vurige pyle getref te word. Die leuens wat hulle hoor is, “Waar is jou God nou, wanneer jy Hom die meeste nodig het? En waar gaan jy môre wees?”

Hulle het al die duiwelse leuens gehoor, al die versoekings wat in hulle gedagtes ingeflits het: “Gee maar net moed op. Jy is op jou eie. God hou nie sy beloftes aan jou nie. Jou gebede kom nie deur nie. Hy het jou gelos om dit op jou eie te dra.”

Wanneer jy in die middel van die stryd is, sal Satan nog ‘n soort vurige beskuldiging aan jou stuur. Hy sal jou herinner aan al jou vorige sondes, elke donker oomblik en elke dwase ding wat jy ooit gedoen het. Dit is geen wonder dat Paulus sulke beskuldigings “vurige pyle” noem nie. Die vertaling is “vlammende woede.” Baie heiliges ken die pyn van gemene en kwetsende woorde wat na hulle toe kom van diegene rondom hulle. Sulke ondeurdagte beskuldigings is waarlik vurige pyle van vlammende woede.

Soms mag jy dink dat jy die enigste een onder sulke aanvalle is.

In sulke tye voel ons alleen en geïsoleerd in ons lyding. Selfs hulle wat die meeste vir ons omgee, kan nie blykbaar nie verstaan waardeur ons gaan nie.

Die apostel Petrus herinner ons: “Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie; maar namate julle gemeenskap het aan die lyde van Christus, moet julle bly wees, sodat julle ook by die openbaring van sy heerlikheid met blydskap kan jubel” (1 Petrus 4:12–13).

Paulus voeg daarby: “Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ‘n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra” (1 Korinthiërs 10:13).

Ten slotte, beveel Paulus: “Behalwe dit alles neem die skild van die geloof op waarmee julle al die vurige pyle van die Bose sal kan uitblus” (Efésiërs 6:16).

Wat presies is die skild van geloof? Dit is ‘n ondeurdringbare harnas wat opgebou word uit die beloftes van God en blink gepoets word met ons geloof. Hierdie skild is ons groot beskerming teen elke duiwelse, pynlike woord wat teen ons gespreek word. Om dit op te hou teen die vyand se aanslae is om elke stem van vrees en ongeloof te blus. Dit is ‘n verdediging wat met vertroue kan verklaar, “Duiwel, ek is nie onbekend met jou planne nie. Niks — nie ‘n verblindende pyn, nie wankelende finansies, nie ‘n chaotiese wêreld — kan my van die liefde van God skei nie.”

6. Wanneer die vyand kom soos ‘n riviervloed of ‘n gloed van vlammende woede, spreek dan vinnig die beloftes van God.

Spreek onverskrokke met die bose stemme wat uit die duisternis kom: “Ek sal nie vrees nie. En ek sal nie moed opgee nie. Ek staan op my Here se belofte om my van struikeling te bewaar en my onberispelik voor sy teenwoordigheid te stel. God belowe dat geen wapen teen my gesmee, iets sal uitrig nie” (sien Jesaja 54:17).

Ten slotte, moedig Paulus ons aan, “Word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte” (Efésiërs 6:10).

Dit is my laaste woord aan jou, uit Jakobus: “Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug” (Jakobus 4:7).

Prys God! Hy is ons skuilplek in krisistye. En sy getroue beloftes is ons skild van beskerming. Hou vas daaraan! Amen.