Woorde van Troos en Hoop

Jesus het ‘n groot menigte bedien toe die mense begin honger raak het. Hy het sy dissipel, Filippus, eenkant geneem en vir hom ‘n belangrike vraag gevra. “Toe...sê Hy vir Filippus: Waarvandaan sal ons brood koop, sodat hierdie mense kan eet? Maar Hy het dit gesê om hom op die proef te stel, want Hy het self geweet wat Hy wou doen” (Johannes 6:5–6).

Jesus het in wese gesê, “Filippus, hierdie duisende mense is honger. Sê vir my, hoe gaan ons hulle kosgee? Wat dink jy moet ons doen?” Hoe ongelooflik liefdevol van Christus. Hy het die heeltyd geweet wat Hy wou doen; die verse maak dit duidelik. Hy was egter besig om vir Filippus iets belangriks te leer. En die les wat Hy wou oordra, is van groot belang vir ons vandag.

Huidiglik wankel die wêreld op ‘n afgrond soos nog nooit voorheen in die geskiedenis nie. Die huidige onrus kom op ‘n tyd waarin Christene oral beproewings beleef soos nog nooit tevore nie. Menigtes sit die helfte van die nag op om hulle probleme te probeer uitsorteer: “Miskien sal dit werk — nee, nee. Miskien sal hierdie ding dit oplos — nee, dit sal ooit nie werk nie. Wat gaan ek doen?”

Toe Jesus hierdie vraag aan Filippus gevra het, het die dissipels nie net ‘n brood probleem gehad nie. Hulle het ‘n bakkery probleem gehad, ‘n verspreidingsprobleem, ‘n vervoer probleem en ‘n tyd probleem. Tel dit alles bymekaar en hulle het meer probleme gehad as waaraan hulle kon dink. Die situasie was totaal onmoontlik.

Geliefde, dink hieraan: Te midde van jou onmoontlike situasie, kom Jesus na jou toe en vra, “Wat gaan ons hieromtrent doen?” Hy weet presies wat Hy gaan doen. Hy het ‘n plan. Tog, wil Hy by jou, sy dienaar, weet hoe jy jou probleme gaan oplos.

Die regte antwoord van Filippus sou gewees het, “Jesus, U is God. Niks is vir U onmoonlik nie. Daarom gee ek hierdie probleem nou vir U. Dit is nie langer myne nie, maar U s’n.”

Meer as enigiets anders, wou Jesus hê dat Filippus die woorde, wat Hy reeds aan hom genoem het oor God se getrouheid, onthou. Ek glo Christus wil dieselfde hê vir sy mense vandag. Hy het ons kragtige woorde van troos en hoop gegee vir net so ‘n krisistyd. En ons moet onsself herinner aan hierdie waarhede wanneer ons ‘n tydperk van nood beleef.

1. God herinner ons, “Ek is krag, maar Ek is ook deernis.”

“Ek voel innig jammer vir die skare, omdat hulle al drie dae my My bly en niks het om te eet nie; en Ek wil hulle nie graag honger wegstuur nie, sodat hulle nie miskien op die pad beswyk nie” (Matthéüs 15:32). Jesus maak hier ‘n verklaring aan die gelowiges van elke geslag. Hy vertel vir ons, “Ek sal meer vir my mense doen as om hulle gesond te maak. Ek gaan seker maak dat hulle genoeg brood het om te eet. Ek is begaan oor alles wat in hulle lewens aangaan."

“Ek wil hê dat jy moet besef dat Ek meer as net krag is. Ek is ook deernis. As jy My slegs as ‘n geneesheer of ‘n wonderwerker sien, sal jy My net vrees. Maar as jy My ook sien as deernisvol en ‘n skenker van goeie gawes, dan sal jy My liefhê en my Woord vertrou.”

Ek skryf hierdie boodskap aan elke Christen wat op die randjie van uitputting is, as jy op die punt is om tou op te gooi en oorweldig is deur jou huidige situasie. Jy is ‘n getroue dienaar, het ander gevoed en is vol vertroue dat God die onmoontlike vir sy mense kan doen. Jy het egter steeds voortslepende twyfel oor God se gewilligheid om in jou huidige stryd in te gryp.

Dink aan diegene in die liggaam van Christus aan wie jy woorde van geloof en hoop gegee het, mense wat skynbaar hopelose situasies beleef het. Jy het hulle aangemoedig, “Byt vas! God is ‘n wonderwerker en sy beloftes is waar. Moenie hoop verloor nie, want Hy sal op jou hulpgeroep antwoord.”

Ek het talle kere sulke bemoediging verskaf. Onlangs het die Heilige Gees my egter gevra, “David, glo jy regtig in wonderwerke?” My antwoord was, “Ja, Here, natuurlik glo ek. Ek glo in elke wonderwerk wat ek in die Skrif gelees het.” Tog, was hierdie antwoord nie goed genoeg nie. God se vraag aan al sy mense is nou, “Glo jy Ek kan vir jou?” ‘n wonderwerk doen?” En nie net een wonderwerk nie, maar ‘n wonderwerk vir elke krisis en vir elke situasie wat ons beleef.

Ons het meer nodig as net vervloë wonderwerke waarvan ons in die geskiedenis lees. Ons benodig huidige, persoonlike wonderwerke wat ontwerp is vir ons huidige situasie, ‘n omstandigheid wat ons nog nooit tevore beleef het nie. Sê vir my, terwyl jy jou huidige probleem beleef, glo jy werklik dat die Here dit sal oplos? Vertrou jy dat Hy vir jou ‘n wonderwerk sal doen op ‘n manier wat jy nie self kan doen nie?

Dit is die vraag wat Jesus aan Filippus gevra het. Dit was ‘n vraag wat ware geloof vereis het — die soort geloof wat die hart stil maak en “oorloë laat ophou.” Net daardie soort geloof kan ons verseker dat ons in die Vader se sorg kan rus en Hom kan vertrou om vir ons deur te breek op sy eie manier en tyd.

2. Ons geloof in moeilike tye verkry vir ons  “‘n goeie getuienis.”

“[Deur hulle geloof] het die mense van die ou tyd getuienis ontvang” (Hebreërs 11:2). Die Griekse woord hier vir “ontvang” beteken “om getuienis te dra, om ‘n getuienis te word.” Ons voorouers in die Here het ‘n standvastige, geankerde geloof gehad. En hulle onwrikbare geloof het vir die wêreld ‘n getuienis van God se getrouheid te midde van swaar tye geword.

Dink aan wat ons voorouers verduur het: vloede, spottery, boeie, gevangenskap, vuur, marteling, oorloë en leeukuile. Deur dit alles heen, het hulle geloof in die Here nooit gewankel nie. Hoe? Hulle het ‘n innerlike getuienis gehad dat hulle die Here behaag het. Ons voorvaders het geweet dat God oor hulle geglimlag en gesê het, “Mooi so! Jy het in My geglo en vertrou.”

“En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek” (Hebreërs 11:6). Wanneer ons ookal ons geloofsposisie tydens ons moeilike tye behou, dan ontvang ons dieselfde bevestiging van die Heilige Gees: “Mooi so. Jy is God se geliefde getuienis.”

Terwyl jy in Hom rus deur die storms heen en jou geloofsposisie behou, dan verkry jy ‘n “goeie getuienis.” En jy dien as ‘n baken van hoop vir hulle rondom jou. Diegene wat jou lewe dophou — by die huis, by die werk en in jou straatblok — leer dat hoop vir hulle beskikbaar is. Terwyl hulle jou in jou uur van nood dophou, besef hulle, “Daar staan iemand wat nie sy geloof in God verloor het nie. Hy het glad nie enige vrese nie. Wat stel hom in staat om deur so ‘n onrus te bly vertrou?”

Ons God het alles vir ons voorsien om ons geloof in stand te hou, selfs as teenspoed toeneem. Aan ons is die getuienis van die Heilige Gees, wat in ons bly, gegee en God het sy Woord ten volle in die Skrif geopenbaar. Hierdie dinge sal ons in stand hou en vir ons ‘n goeie getuienis verskaf, selfs as die wêreld bewe.

3. ‘n Groot wapen teen vrees is aan ons gegee.

Wanneer vrees oorweldigend word, moet ons onsself daaraan herinner hoe groot ons God is. Ons moet al sy groot verlossings vir diegene wat op Hom vertrou het, onthou en dieselfde majestieuse krag vir ons huidige beproewing opeis. Vrees kan nie ‘n wurggreep kry op enige dienaar, wat ‘n visioen van God se grootheid en majesteit het nie.

Nehemía het dit goed verstaan. Hy het heen en weer gestap toe Jerusalem omring was deur ‘n wrede koalise van nasies wat gereed was om aan te val. ‘n Uitgeputte oorblyfsel was heeltyd aan die werk om Jerusalem se mure te herstel teen hulle vyande. Hierdie moeë arbeiders moes met ‘n hamer in die een hand en ‘n swaard in die ander hand werk. Soos die ure verbygegaan het, het vrees begin posvat.

Hoe was hulle in staat om vrees te weerstaan? Nehemía het hulle herinner aan hoe groot en magtig hulle God is: “En ek het dit gesien en my opgerig en aan die edeles en die leiers en die ander mense gesê: Julle moet nie bang wees vir hulle nie; dink aan die grote en gedugte Here, en veg” (Nehemia 4:14).

Dit is presies hoe Moses met vrees in Israel afgereken het. Hy het die mense beveel: “As jy in jou hart dink: Hierdie nasies is meer as ek, hoe sou ek hulle kan verdrywe? – wees dan nie bevrees vir hulle nie; dink gedurig aan wat die HERE jou God aan Farao en die hele Egipte gedoen het...Skrik nie vir hulle nie, want die HERE jou God is by jou, ‘n groot en gedugte God” (Deuteronómium 7:17–18, 21).

Moses het gesê, “Julle gaan te staan kom teen baie groot vyande wat magtiger is as julle. Julle sal wonder hoe julle ooit ‘n kans op oorwinning sal hê. Maar julle moet die ontsagwekkende mag van julle God onthou. Herinner jouself aan wat Hy in die verlede aan jou vyande gedoen het en hoe getrou Hy was om jou te verlos.” “Hy is jou lof, en Hy is jou God wat hierdie groot en vreeslike dinge wat jou oë gesien het, aan jou gedoen het” (Deuteronómium 10:21).

As jou geloof geskud word, herinner jouself aan hoe magtig jou God is. Herinner jouself aan die vele kere in jou lewe wat Hy jou gered het. Jy sal vind dat enige houvas wat vrees op jou wil hê, deur ‘n visioen van sy majesteit vernietig sal word.

4. Ons het ‘n wapen teen elke knaende stem van wanhoop.

Te midde van die huidige onrus, word talle mense beroof van hulle geloof deur persoonlike beproewings wat lyk of dit nooit wil ophou nie. ‘n Eens lewendige geloof verander in gevoelens van hulpeloosheid en wanhoop. Tydens die pyn wonder talle, “Waarom antwoord God nie my gebede nie? Het ek iets verkeerd gedoen? Ek verstaan nie waarom my beproewing nie einde kry nie. Is die Here kwaad vir my?”

Sommige het ons bediening gekontak en gesê, “Ek het niemand om mee te praat nie, niemand om my las te help dra nie. Ek het iemand nodig om my hart uit te stort.” Dit is in ons aard om ‘n ander mens te wil hê, met ‘n gesig, oë en ore, om na ons te luister en ons raad te gee.

Toe Job oorweldig was deur sy beproewinge, het hy in sy droefheid uitgeroep, “Ag, as iemand my maar wou aanhoor!” (Job 31:35). Hy het dit gesê terwyl hy omring was deur sy sogenaamde vriende, mense wat geen simpatie met sy probleme gehad het nie. In werklikheid was hierdie mense boodskappers van wanhoop. Daarom het Job na die Here alleen gegaan: “Selfs nou, kyk, in die hemel is my Getuie. En Hy wat saam met my getuig, is in die hoogtes...uit my oog drup trane tot God” (Job 16:19–20).

Koning Dawid was heeltyd met mense omring. Hy het ‘n groot familie gehad en baie bondgenote aan sy sy. Tog, hoor ons ‘n soortgelyk uitroep van hom: “Na wie sal ek gaan?” Dawid het God se mense aangemoedig om soos Job te maak: “Vertrou op Hom altyd, o volk! Stort julle hart uit voor sy aangesig! God is ‘n toevlug vir ons” (Psalm 62:8).

Geliefde, hierdie voorbeelde is ‘n uitnodiging van die Here aan jou. Hy moedig jou aan om ‘n privaat plek te kry waar jy die probleme van jou siel kan uitstort. Beide Job en Dawid het hulle klagtes voor die Here uitgestort te midde van hulle beproewings en jy kan ook. Jy kan met Jesus oor jou huidige beproewing praat en Hom vertel hoe oorweldig en selfs hoe moedeloos jy is.

Vir eeue lank het God die hulpgeroep van almal wat op sy beloftes vertrou het, geantwoord. Hy sal jou hulpgeroep ook hoor, met liefde en deernis, terwyl Hy nooit jou hulpgeroep jou sal verag nie. En Hy sal jou nuwe krag gee vir elke stryd.

5. Ons moet onsself oorgee aan God se sorg in alles.

Jesus het gewaarsku oor sulke onseker tye soos die huidige een: “En op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid...en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom. Want die kragte van die hemel sal geskud word” (Lukas 21:25–26). Christus het vir ons vertel, “Sonder hoop in My, sal talle sterf van vrees.”

Vir diegene wat egter op God se beloftes vertrou om sy mense te bewaar, is daar heerlike vryheid van alle vrees. Hoe gebeur dit? Ware vryheid bestaan uit totale oorgawe van jou lewe in die hande van die Here.

Oorgawe aan God se sorg is ‘n daad van geloof. Dit beteken om onsself totaal onder sy mag, wysheid en genade te plaas. En dit beteken om volgens sy wil gelei te word. As ons hierdie dinge doen, belowe God om totaal vir ons verantwoordelik te wees — om ons te voed, te klee en skuiling te gee en ons harte van die bose te bewaar.

Jesus voorsien die beste voorbeeld van heilige oorgawe toe Hy na die kruis gegaan het. Net voor Hy sy gees oorgegee het, het Hy uitgeroep, “Vader, in u hande gee Ek my gees oor!” (Lukas 23:46). Christus het letterlik die bewaring van sy lewe en sy ewige toekoms aan sy Vader se toesig toevertrou. Deur dit te doen, het Hy die siele van al sy skape in sy Vader se hande geplaas.

As ons gevra word om ons lewens aan iemand toe te vertrou, sal ons moet weet dat daardie Persoon die krag het om ons van alle gevaar, dreigemente en geweld te bewaar. Paulus getuig, “Want ek weet in wie ek geglo het, en ek is oortuig dat Hy mag het om my pand te bewaar tot dié dag toe” (2 Timótheüs 1:12).

6. Ons moet voortdurend in die vrees en ontsag van die Here lewe.

Die profete het gewaarsku, dat wanneer God die nasies laat bewe, sal ons versoek word om vreesbevange te word.

  • Esegiël het gevra, “Sal jou hart standhou of jou hande sterk wees in die dae as Ek met jou handel?” (Esegiël 22:14).
  • Toe God Noag gewaarsku het oor sy komende oordeel en hom opdrag gegee het om ‘n ark te bou, was Noag vol “eerbiedige vrees” (Hebreërs 11:7).
  • Selfs dapper Dawid het erken, “My vlees sidder van skrik vir U, en ek vrees vir u oordele” (Psalm 119:120).
  • Toe Hábakuk ramspoedige dae in die toekoms gesien het, het hy uitgeroep, “Toe ek dit hoor, het my ingewande gebewe; my lippe het getril by die geluid, bederf het gekom in my gebeente, ja, ek het gebewe waar ek staan, omdat ek rustig moes wag op die dag van benoudheid” (Hábakuk 3:16).

Let op dat die vrees in elkeen van hierdie goddelike manne nie ‘n vleeslike vrees was nie, maar ‘n eerbiedige ontsag vir die Here. Hierdie heiliges was nie bang vir die vyand van hulle siele nie, maar hulle het God se regverdige oordele gevrees. Dit is omdat hulle die ontsagwekkende krag agter die naderende teenpoed verstaan het. Hulle het nie die gevolge van die storm gevrees nie, maar liewer God se heiligheid.

Elkeen van ons sal ‘n oorweldigende vrees in die komende tye van onrus beleef. Maar ons vrees moet kom van ‘n heilige eerbied vir die Here, nooit van ‘n vleeslike angs oor ons lot nie. Oral oor die wêreld, is mense vol vleeslike vrees soos hulle hulle nasies se ekonomieë sien agteruitgaan. Hulle is bang dat ‘n ekonomiese riviervloed alles waarvoor hulle gewerk het, sal wegvoer. Dit is die uitroep van ongelowiges wat geen hoop het nie. Dit behoort nie die uitroep van gelowiges te wees nie.

As jy ‘n kind van God is, sal jou hemelse Vader nie sulke ongeloof in jou toelaat nie. Jesaja het gewaarsku: “Wie is jy, dat jy bevrees is vir die mens wat moet sterwe, en die mensekind wat oorgegee word soos gras? – Ek is dit wat julle troos! Dat jy vergeet die HERE wat jou gemaak het...dat jy gedurigdeur die hele dag bewe vir die grimmigheid van die verdrukker” (Jesaja 51:12-13).

Ons moet toelaat dat God ons vrees en ontsag is. Daardie soort vrees lei nie tot dood nie, maar tot lewe.

7. Ons moet onsself in die Here verlustig.

Ons blywende vrede sal altyd afhang van ons oorgawe in God se hande, maak nie saak wat ons omstandighede is nie. Die Psalmis beveel, “En verlustig jou in die HERE; dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart” (Psalm 37:4).

As jy jou ten volle in God se hande oorgegee het, sal Hy jou krag gee om enige swaarkry te kan verdra. Sy begeerte is dat jy met jou daaglikse besigheid aangaan sonder vrees of angs, terwyl jy op sy sorg vertrou. En jou oorgawe aan Hom sal ‘n baie praktiese effek in jou lewe hê: Hoe meer jy aan God se sorg oorgegee is, hoe minder bekommerd sal jy wees oor die omstandighede rondom jou.

As jy oorgegee is aan sy bewarende krag, sal jy nie bang wees vir vreesaanjaende nuus nie. Jy sal nie heeltyd probeer uitwerk wat die volgende stap is nie. Dit is omdat jy jou lewe, familie en toekoms veilig in sy liefdevolle hande geplaas het. Ons groot Herder weet presies hoe om sy skape te beskerm en te bewaar, omdat Hy ons in liefde lei.

Ten slotte, keer ek terug na die vraag wat Jesus vir Filippus gevra het: “Wat dink jy moet ons doen?” Mag jou reaksie as volg wees: “Here, U is die wonderwerker. Ek gee al my twyfel en vrese aan U oor. Ek vertrou hierdie hele situasie en my hele lewe aan U sorg toe. Ek weet U sal nie toelaat dat ek tou opgooi nie. Inderdaad, ek besef dat U alreeds weet wat U aan my probleem gaan doen. Ek vertrou op U krag.” Amen!