Die Gevaar Van ‘n Stap in die Regte Rigting

Die belangrikheid Daarvan om die Hele Pad Saam met God te Stap
David Wilkerson

Ek wil graag met jou praat oor ‘n algemene geneigheid wat ‘n subtiele gevaar is onder baie Christene. Bolangs lyk hierdie geneigdheid skadeloos, maar in werklikheid kan dit ons laat skipbreuk lei. Ek noem hierdie gevaarlike geneigdheid die praktyk van “’n stap in die regte rigting neem.”

Dit is altyd goed om ‘n stap van geloof te neem wanneer ons ons vertroue in Christus gestel het. As ‘n prediker van die Here, loof ek hierdie tipe stap. Tog wys die Bybel vir ons dat daar groot gevaar is as ons nie daardie eerste stap opvolg met groter geloof nie.

Lot is een van die Bybel se beste voorbeelde. In Genesis 19 lees ons van Lot se bonatuurlike redding uit Sodom en Gomorra. Die engel van God se wraak het op die toneel verskyn en Lot gewaarsku, “Ons gaan hierdie plek verwoes, omdat die geroep oor hulle groot is voor die aangesig van van die Here, en die Here het ons gestuur om dit te verwoes” (Genesis 19:13).

Toe Lot dit hoor, het hy dadelik met geloof gereageer. “Toe gaan Lot uit en praat met sy skoonseuns wat met sy dogters sou trou en sê, Maak julle klaar, gaan uit hierdie plek uit” (Genesis 19:14). Lot het die engel se waarskuwing geglo en het dit ernstig genoeg opgeneem om sy familie daarvan te vertel.

Dan lees ons dat Lot die volgende dag “getalm het”: “En toe die dag begin breek, het die engele by Lot aangedring en gesê: Maak jou klaar, neem jou vrou en jou twee dogters wat by jou is, dat jy weens die ongeregtigheid van die stad nie omkom nie. Maar hy het nog getalm. Toe gryp die manne hom en sy vrou en sy twee dogters aan die hand....

En toe hulle hom na buite gelei het, sê Hy: Vlug vir jou lewe! Moenie omkyk nie, en moenie êrens in die Jordaanstreek bly staan nie. Vlug na die gebergte, dat jy nie omkom nie! Daarop antwoord Lot hulle: Ag nee, my Here! Kyk tog, u kneg het genade in u oë gevind, en U het u guns groot gemaak deur my in die lewe te behou” (Genesis 19:15-19). 

Lot het geweet dat hy geseën was met die reddende genade van God. Hy was genadiglik uit Sodom, wat God wou oordeel, verlos. Die Here het selfs vir Lot ‘n spesifieke rigting aangedui en hom beveel om na die nabygeleë berg te vlug.

Weereens het Lot gehuiwer en ‘n selfsugtige versoek aan God gerig: “Kyk tog, u kneg het genade in u oë gevind, en U het u guns groot gemaak wat U aan my bewys het deur my in die lewe te behou. Maar ek is nie in staat om na die gebergte te vlug sonder dat die onheil my inhaal en ek sterwe nie. Kyk tog, hierdie stad is naby om daarheen te vlug, en dit is klein” (Genesis 19:19-20).

In der waarheid wou Lot nie na die berg gaan nie. Hy wou liewer op die vlaktes bly in ‘n stad met die naam van Soar, waarvan die naam “klein” beteken. Volgens Lot  was dit ‘n “klein ou versoekie” om aan God te rig.

Dit is ‘n voorbeeld van ‘n man wat ‘n stap in die regte rigting geneem het, ‘n stap van geloof. As Lot daar eerste stap opgevolg het met verdere geloof, sou hy op pad gewees het na ‘n plek van seën, binne in die perfekte wil van God.

Na my mening, is Lot soos baie Christene van vandag. Dit is vir ons moontlik om verlos te word van ons eie tipe Sodom. Ons kan verlos wees van ‘n lewe van sonde, vrees en teleurstelling en in plaas daarvan die wonderlike genade van God ervaar. Dan begin ons hoor hoe die Here ons rigting aandui, “Gaan teen die berg op.”

Dit is die eerste les wat ons van Lot se verlossing leer: Ons moet gaan na waarheen die Here ons lei.

Die berg was bedoel om vir Lot ‘n plek van groter seën te wees. Tog het Lot ten spyte daarvan dat hy grootliks geseën was, nie ‘n druppel geloof gehad nie. Hy het God se verlossing ervaar, sy genade en redding, maar tog het my dit nie in geloof omgeskakel nie.

Die resultaat was dat Lot geensins op die Here vertrou het nie. Jy mag dink dat iemand wat so ‘n groot reddende genade ontvang het sou dink, “Ek is deur die engele van God gered. God het verseker sy hand op my. Ek kan op sy genadige liefde vertrou.”

Maar Lot het dit weerstaan, hy wou sy eie pad loop. En hy het geen idee gehad wat die nagevolge van sy self-gerigte besluit sou wees nie.

Dieselfde geld vir ons vandag. Soos Lot, is ons wat uit Christus se liggaam bestaan, uit Sodom verlos. Ons het genade gesmaak. Maar glo ons altyd dat ons op pad is na ‘n plek van seën wanneer ons die rigting wat God aanwys, volg?

Die werklikheid is dat sommige plekke waarna God ons stuur, moeilik gaan wees.

As ‘n prediker van die Here, het ek ‘n deurslaggewende ding geleer oor die jare. Dit is om nooit in die pad van ‘n goddelike man of vrou te staan wat op pad is na die plek waarna God hulle gelei het nie.

Wanneer hierdie diensknegte by die plek kom waarna God hulle gestuur het, mag hulle van die moeilikste periodes van hulle lewens beleef. Nieteenstaande is dit wat hulle ervaar, God se pad vir hulle. Ek het selfs die vernietigende gevolge gesien wanneer goed bedoelende, “logiese” Christene in die pad van hierdie diensknegte staan en hulle verhinder om ‘n plek, wat riskant of gevaarlik lyk, binne te gaan.

Lot, wat geen geloof gehad nie, was deur Soar aangetrek omdat dit maklik en gemaklik was. Vir hom was dit ‘n stap in die regte rigting -  en hy het gegaan. Tog kon Lot nie die reddende voordele van God se spesifieke leiding ervaar nie.

In werklikheid het die swaweldampe Sodom verswelg en dit was vinnig op pad om die hele omgewing te verswelg. Dink aan die vulkaniese wolk wat onlangs vanuit Ysland gekom het en die hele wêreld geaffekteer het. Dit moes baie soos die oordeel van God oor Sodom gelyk het. Dit is waarom God Lot aangesê het om so gou moontlik na die berge te gaan eerder as na die vlaktes.

Wanneer ons die stem van God verontagsaam, het ons geen idee wat die vreeslike dinge is waarvan Hy ons wil spaar nie. Eindelik is Lot deur die vurige vernietiging teen die berg opgejaag. En omdat hy nie geloof gehad het nie, het hy in moedeloosheid beland. Sy gebrek aan geloof het tot gevolg gehad dat dat sy dogters met hom geslagsgemeenskap gehad het en ander vreeslike gevolge. Dit is nooit God se pad vir ons nie; Hy wil nie enige van sy kinders op daardie pad neem nie.

Miskien stry jy nou teen ‘n sekere ding wat jou pla. Soos Lot, wil jy voor God uitbeweeg en iets uit jou eie gaan doen. Ek kan slegs een ding vir jou sê: Wees presies daar waar God jou gesê het om te wees. As jy nou daar is, het jy vrede. As jy nie vrede het nie -  as jy God nie vertrou op die plek waar Hy jou geplaas het nie – verseker ek jou, jy sal Hom nêrens anders vertrou nie.

Miskien lyk die dinge wat jy nou doen vir jou nietig en klein. Volgens jou, mag hulle nie dalk nie op die standaard van jou hoë roeping wees nie. Maar wanneer jy vrede met God gemaak het oor waarheen Hy jou gestuur het, sal jy geseënd wees. Die Here wat jou raamwerk ken, sal jou bewaar, jou lei en jou seën op maniere ver bokant wat jy kan dink. Die punt is altyd om te gaan of te bly waar Hy jou leiding gee in sy onmeetlike wysheid.

Jakob het twintig jaar buite God se plan en seën vir hom by Laban gebly.

Gedurende die twee dekades wat Jakob vir sy skoonvader gewerk het, was hy nie onder God se volle seën nie. In teendeel, hy was in die plek van misleiding. Die Here was vasbeslote om dit vir sy dienskneg te verander. Een dag het Hy aan Jakob gesê, “Ek wil hê jy moet jou penne optrek en teruggaan huistoe. Gaan na jou familie in Bet-el.”

Jakob het die eerste stap in die rigting van sy seën geneem. Hy het gedoen soos God hom gelei het, sy familie bymekaargemaak en die pad na Bet-el gevat. Ek kan my indink dat Jakob bly was om te gaan. Hy het hard vir Laban gewerk in Sirië vir twintig jaar. En die hele tyd het hy in teleurstelling geleef, want hy het min gehad om te wys vir al sy harde werk.

Jy sien, jare voor dit het Jakob ‘n ooreenkoms met God gemaak insake materiële dinge. Soos baie verantwoordelike gelowiges het Jakob geredeneer, “Ek moet vir my familie voorsien.” Maar as jy die roete van God se grootste seën wil volg, moet jy die rigting wat Hy aandui al die pad volg, maak nie saak wat die koste is nie.

Toe Jakob en sy gevolg by die grens van Kanaän gekom het, was hy moeg en uitgeput. Hy het die druk van die versorging van sy twee vrouens en al hulle kinders, asook hulle dienaars en kuddes op sy skouers gehad. Die man het verantwoordelikhede gehad wat bokant sy vuurmaakplek gestrek het. Verder was hy bang omdat hy spoedig sy broer, Esau, van wie hy jare tevore die familie erfenis gesteel het, sou ontmoet.

So, toe Jakob by die klein dorpie met die naam van Sukkot gekom het, was hy in die versoeking om daar te bly. Inderdaad, hy het ‘n stuk grond daar gekoop en selfs ‘n huis daar gebou. Tot op daardie punt het Jakob ‘n stap in die regte rigting gegee. Maar nou het hy te staan gekom teen die gevaar wat elkeen wat daardie eerste stap neem in die gesig staar.

Die naam “Sukkot” beteken “hutte” en dui op ‘n veilige plek.

“Sukkot” dui op groen gras, ‘n mooi huis, goeie dinge. Kortliks, die vredevolle klein plekkie van Sukkot het ‘n groot aantrekkingskrag vir die beleërde Jakob gehad. Dit moes hom seker op dieselfde manier getrek het as wat Soar vir Lot getrek het. Daarna het hy na Sigem getrek waar hy ‘n stuk grond gekoop en ‘n altaar vir die Here gebou het.

Maar God se leiding vir Jakob was om ‘n altaar vir Hom by Bet-el te bou. Die naam “Bet-el” beteken “huis van God.” Die Here het inderwaarheid vir Jakob gesê: “Jakob, jy het twintig jaar vir jouself en vir jou familie geleef. Nou wil ek jou hele hart hê. Ek wil hê dat my visie ‘n deel van jou hele wese word, Daarom wil ek volle beheer oor jou lewe hê. Van nou af moet jy jou leiding net van My af kry.”

Vir Jakob was vorentoe beweeg riskant en het gevaarlik gelyk. Maar God wou hom seën. En Jakob kon nie daardie seën ontvang tensy hy sy eie selfgemaakte planne prysgee  nie. Van daardie punt af, sou daar geen bedrog meer wees nie, geen onderduimse transaksies nie. God het aan hierdie geliefde man gesê, “Ek wil aan jou iets bied ver bo wat jy kan dink. In hierdie proses gaan ek van jou die dienskneg maak wat jy veronderstel is om te wees.”

Geliefde, dit is die wonderlike ding van genade. Jesus het nie net genade aan ons geskenk deur ons sondes in die see te werp nie, Hy lei ons ook deur sy genade.

Eenkeer, terwyl ek in gebed was, het ek die Here aan my hoor sê: “David, as Ek jou die kans gee om jou eie lewe te rig, sodat jy alles in jou menslike vermoëns kan doen, dan sal jy nie naby my seën vir jou kom nie. Ek het jou treë vir jou uiteengesit.”

As ons Hom gaan volg, moet ons Hom die hele pad volg met geen kortpaaie nie. Dit is die enigste pad na sy doel en seën.

In die Ou Testament het baie van God se dienaars die eerste stap van gehoorsaamheid geneem, maar begin kla toe dinge moeilik geraak het.

Ek praat nie van die normale menslike reaksie wat ons almal het as ons in so ‘n geveg is nie. Wanneer ons in ‘n diepe stryd is, kan dinge soms vinnig en woes na ons toe aankom. Op sulke tye mag ons dink, “Here, ek weet nie of ek dit kan hanteer nie, ek kan nie sien hoe ek gaan deurkom nie.” In sulke tye probeer die vyand die oorhand oor ons kry met sy owerhede en magte en hy probeer ons van ons geloof besteel deur dit te laat skipbreuk lei.

Liewe heilige, dit gebeur met elke ware dienskneg van God. Petrus waarsku ons liefdevol dat dit kan gebeur en sê, “Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie; maar namate julle gemeenskap het aan die lyde van Christus, moet julle bly wees, sodat julle ook by die openbaring van sy heerlikheid met blydskap kan jubel” (1 Petrus 4:12-13).

Waarvan ek praat is ‘n hart wat verhard geword het. Hierdie tipe murmurerende, klaende gees is aansteeklik en God tugtig dit. Regdeur die Ou Testament sien ons wat in elke geval gebeur het wanneer daar teen God gekla word: God duld dit nie. Wanneer Hy vir sy dienaars sê om Hom te vertrou, moet ons doen wat Hy sê sonder om te kla, met die wete dat Hy ons beste in gedagte het.

Israel onder Moses is die duidelikste voorbeeld. Vir ‘n jaar lank het die mense by die berg Sinai uitgekamp en hulle het bietjie gemaklik daar geword. Die woord van die Here het gekom dat hulle na die woestyn moes trek en die mense het gehoorsaam.

Wanneer jy ‘n miljoen of meer mense so in beweging bring, kan jy jouself die skaal van so ‘n onderneming indink. En wat ‘n heerlike gesig moes dit nie gewees het nie. Trompette het geskal en vlae het gewaai terwyl elke stam en familie bymekaargekom het. Elkeen het volgens God se goddelike bevel gekom.

Dit was ‘n stap in die regte rigting. Maar ‘n kort tydjie daarna, het ‘n groep wat ‘n mens “die gespuis” kan noem, begin kla. Hierdie mense se harte het hard geword deur hulle beproewings, en op daardie stadium was hulle nie meer opreg nie. Gou sou hulle gekla die hele volk infekteer en amper almal het begin kla. Dit het God kwaad gemaak.

Dink daaraan: Hier was God se mense, hulle wat wonderbaarlik gered is. Hulle is verlos van die hand van hulle vyande deur ‘n bonatuurlike krag by die Rooi See. Maar nou het die gespuis nie volgens God se woord gewandel nie. En as gevolg van hulle murmerering en gekla, het God hulle gestraf.

Vreeslike dinge het daarna met hulle gebeur. Dit was ‘n reeks gevolge wat hulle op hulleself gebring het. Omdat hulle God se leiding weerstaan het, het hulle gely totdat ‘n hele generasie murmereerders uiteindlik in die woestyn gesterf het.

Na dekades van diens aan die Here, leer ek steeds.

Ek kan eerlikwaar sê dat ek steeds besig is om te leer om sy duidelike leiding te volg, veral na moeilike plekke. Ek leer steeds om nie te sê, “Dit is dit, Here, ek het nou genoeg gehad.” Ek leer steeds om te nie sê, “Here, ek sien die die weg oop vorentoe nie. Ek weet nie waar ek die genade gaan vind om deur hierdie ding te kom nie. Maar U het belowe om te voorsien. U het gesê dat U my sal versterk.”

Dit is die plek van ware geloof. Dit is ook waar ons ons rus vind: deur ten volle op die Here se liefde vir ons te vertrou. Soos Paulus verklaar het, wat anders het ons om voor Hom te bring as ons geloof? Nie werke nie. Nie prestasies nie. Ons het net ons geloof in Hom en ons vertroue op Hom om in alles vir ons te voorsien.

Aan die einde van elke dag, buig ek en my vrou, Gwen, ons hoofde en sê, “Here, U het dit weer gedoen. U het ons deurgedra.”

Geliefde, Hy gaan jou deurdra. Hy wil jou na ‘n plek van ongelooflike seën neem. Jy mag dalk gewillig moet wees om netelige takies te verrig. Jy sal toetse en beproewings wat moelik is en wat lyk of dit bo jou kragte is, moet deurgaan. Tog is dit die oefengrond wat God vir baie van sy mees geliefde mense opsy sit. Dit is waar ons Hom leer ken, sy eienskappe, sy karakter, sy seën en sy goedheid.

Dit is moeilik om te verstaan dat ten spyte van ons mislukkings, word ons deur ‘n heilige God gekoester. God het ons lief met dieselfde liefde waarmee Hy sy Seun liefhet. En Hy het ‘n heilige doel vir ons, net soos Hy vir sy eie Seun gehad het. Daarom het ons die vrede wat alle verstand te bowe gaan. En ons rus in die wete dat sy seën voor ons lê. Dankie Here – Amen!