God van Kinderverwaarlosing Beskuldig

David Wilkerson

Een manier waarop God met sy kinders praat, is om vir hulle vrae te vra. Ons sien dat Hy dit regdeur beide Testamente van die Bybel doen. En die manier waarop Hy hierdie vrae vra, openbaar die gedagtes van die hart. Byvoorbeeld:

  • Toe Elia in die grot weggekruip het, het die Here gevra, “Elia, wat doen jy hier?”
  • Toe Petrus begin het om op die water na Christus te loop, het sy twyfel veroorsaak dat hy in die golwe weggesink het. Jesus het die dissipel gevra, “Waarom het jy nie geglo nie?”
  • Toe Saulus, wat spoedig Paulus sou word, op pad na Damaskus was, het Christus vir hom gevra, “Waarom vervolg jy my?”

Hierdie vrae was deurdringend. Dit was ontwerp om die hoorders te laat dink en in diep in hulle eie harte te laat kyk.

Vandag gebruik God steeds vrae aan sy kinders om tot die hart van sake deur te dring. Soms praat die Here met my deur ‘n vraag. Eendag, terwyl ek Hom in gebed gesoek het, het ‘n vraag in my hart opgekom. Ek het die Gees gehoor vra, “David, beskuldig my van kinderverwaarlosing?”

Ek was verbaas oor die gedagte. Toe het die Heilige Gees vir my siel gefluister, “Jy is my kind. Ek is jou Vader. Twyfel jy egter in My? Beskuldig jy My in jou gedagtes van kinderverwaarlosing? Dink jy soms dat Ek nie jou opregte smekinge hoor nie?” Ek moes my hart ondersoek voor ek kon antwoord.

Ons as Christene verwoord in werklikheid selde ons twyfel en ongeloof. Ons erken nooit aan ander dat die Here ons verwaarloos nie. Ons erken nooit dat Hy stil vir ons smekinge is nie, dat Hy nie ons hulpgeroep of gebede verhoor het nie en dat Hy nie vir ons dinge gedoen het nie.

Maar die feit bly staan dat ons wel sulke gedagtes het. Hierdie vrae en ander vertwyfelinge bestaan diep binne-in ons. Dit is gevoelens wat ons kry wanneer dit lyk of God stil is en ons gebede ontbeantwoord bly.

Ek glo God het vir my hierdie boodskap gegee, omdat die Gees met elkeen van ons daaroor wil praat om ons Vader ten volle te vertrou. Ons aanbidding in die kerk, ons hartlike lof en ons daaglikse wandel — is alles pure verniet as ons dink God verwaarloos ons in ‘n sekere area van ons lewens.

Laat my toe om met jou sommige van die vrae te deel wat die Here aan my gestel het insake hierdie kwessie. Ek glo dit is vir ons belangrik om duidelikheid in ons harte te kry oor drie spesifieke vrae. As ons dit kan doen, sal ons geloof en vertroue in die Here versterk word.

1. “Het God die antwoord op elke vraag en behoefte in my lewe?”

Enige gelowige wat God graag in sy gebedslewe wil behaag, moet eers die volgende vraag uitklaar: “Het God alles wat ek nodig het? Of het ek nodig om elders vir ‘n antwoord te gaan soek?”

Dit blyk ‘n eenvoudige vraag te wees — miskien een wat nie eers hoef gevra te word nie. Die meeste Christene sal antwoord, “Ja, natuurlik glo ek dat God alles het wat ek nodig het.” Maar in werklikheid is baie van ons nie oortuig nie! Ons sê dat ons dit glo. Ons sing gesange en preek daaroor. Maar wanneer ‘n krisis toeslaan, lyk dit of God nie antwoord nie. Tydens sulke tye glo ons dikwels nie dat Hy het wat ons benodig nie.

Paulus het ons vermaan. “En my God sal elke behoefte van julle vervul na sy rykdom in heerlikheid deur Christus Jesus" (Filippense 4:19). Die Here het ‘n stoorkamer van oorvloed waarmee elke behoefte aangespreek kan word. En die dienaars van geloof weet dit. Waarom het die geteisterde vrou in Jesus se gelykenis aangehou om die onregverdige regter lastig te val? Sy het aangehou pleit en selfs afgeëis, “Doen reg aan my!” Dit was omdat sy geweet het dat hy alleen die mag en gesag gehad het om haar probleem op te los.

God het veertig jaar lank probeer om Israel te oortuig dat hulle nooit gebrek sou ly nie. Hy het belowe dat Hy hulle konstante bron en voorsiening sou wees. “Want die Here jou God het jou geseën in al die werk van jou hand; Hy ken jou trek deur hierdie groot woestyn; nou veertig jaar lank was die Here jou God met jou; geen ding het jou ontbreek nie" (Deuteronómium 2:7).

God het gesê, “Daar is geen skaarste by My nie. Ek het alles wat jy nodig het. En ek gee dit vir jou.” “Want die Here jou God bring jou in goeie land...’n land waarin...niks jou sal ontbreek nie...en jy sal eet en versadig word" (Deuteronómium 8:7, 9–10).

Vandag het die Here ons in die Beloofde Land ingebring: Christus! Jesus is vir ons ‘n woning waar daar nooit enige gebrek is nie. Hy verteenwoordig die volheid van die Godheid liggaamlik. In die Ou Testament, het gelowiges die shekinah heerlikheid van God gehad. Maar God sê dat Hy iets beters vir ons voorberei het. En dit is die teenwoordigheid van Jesus self. Hy is voortdurend teenwoordig in ons.

Die Skrif sê van Moses se tyd: “En veertig jaar lank het U hulle onderhou in die woestyn; hulle het nie gebrek gehad nie; hulle klere het nie verslyt en hulle voete nie geswel nie...en hulle het...weelderig gelewe deur u grote goedheid" (Nehemia 9:21, 25).

Ek vra jou, verheug jy jou in die Here se goedheid vir jou? Of is jy meer geneig om in jou hart te fluister, “God was nie goed vir my nie. My gebede word nie verhoor nie. So baie dinge in my lewe is nie afgehandel nie.”

As God 3 miljoen Israeliete deur die woestyn kon lei, twyfel jy dat Hy vir jou kan sorg? Jy mag verwonderd wees oor hoe Hy vir Israel gesorg het. Maar as jy na jou eie lewe kyk, sê jy, “Arme ek”? Dit is om God van kinderverwaarlosing te beskuldig.

Israel was nooit oortuig dat al hulle behoeftes voorsien sou word deur volkome op God te vertrou nie. In daardie opsig, was hulle nie ‘n heilige volk nie. Inteendeel, hulle was ongehoorsaam, astrant en afgodies. Eenkeer het Moses selfs vir hulle gesê, “Sedert ek julle ken, is julle geneig om afvallig te word.”

Tog, wanneer dieselfde Israeliete tot God uitgeroep het, het Hy hulle geantwoord. Hy was hulle genadig. Sê vir my, sal die Here nie des te meer die uitroepe van hulle wat Hom vandag liefhet, hoor nie? Sal Hy ons, wat ons afgodery verlaat het en Hom passievol najaag, nie antwoord nie?

Miskien is dit vir jou moeilik om te glo. Diep binne-in is jy nie oortuig dat God alles het wat jy nodig het en dit sal voorsien nie. In daardie geval, beskuldig jy Hom van ‘n ongeskikte Vader. Jy sê Hy het geen reg om ‘n kind groot te maak nie. Jy beskuldig Hom dat Hy al die mag en gesag het om vir jou te voorsien, maar dat Hy dit vir jou wegsteek.

Dit maak nie saak hoe groot jou probleem is, of hoe verwarrend die doolhof is waardeur jy moet navigeer nie. As jy getrou op Jesus wag, sal Hy vir jou genoeg gee van al die wysheid, kennis en genade, wat jy nodig het vir jou beproewing. Hy het nog altyd ‘n weg gemaak vir hulle wat volkome op Hom vertrou. En Hy sal dit vir jou ook doen.

2. “Sien my Vader waardeur ek gaan en gee Hy om?”

God vra ons nog ‘n eenvoudige vraag. En ek glo hierdie vraag word nie baie eerlik deur baie Christene beantwoord nie. Die Here vra vir ons, “Glo jy werklik Ek sien wat jy op hierdie oomblik verduur?”

Terwyl jy hierdie boodskap lees, gaan jy miskien deur iets waarin jy nodig het dat Hy namens jou optree. Die aard van jou probleem het ‘n antwoord nodig.

Laat my jou iets vra. Glo jy dat God met blydskap en vreugde al jou bewegings dophou, net soos ‘n pa sy kleuter dophou? Glo jy dat Hy elke gedagte wat jy dink interpreteer, net soos ‘n pa met sy onbeholpe kind? Glo jy dat Hy aan die werk is as jou liefdevolle Vader wat omgee — wat elke traan opvang, elke sug hoor en oor jou waak?

Dit is presies hoe die Bybel Hom beskryf:

  • Die oë van die Here is op die regverdiges, en sy ore tot hulle hulpgeroep...Hulle roep, en die Here hoor, en Hy red hulle uit al hulle benoudhede" (Psalm 34:18, 18).
  • ‘Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle" (1 Petrus 5:7).
  • Soos ‘n vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die Here Hom oor die wat Hom vrees" (Psalm 103:13).

Die Hebreeuse woord vir “ontferm” beteken “om te liefkoos, omhels, lief te hê en om deernisvol te wees.” Die Skrif sê dat God hulle wat Hom vrees (glo) in sy arms omhels. Hy plaas sy arms rondom jou, streel jou wange en hou jou teen sy bors. En Hy sê vir jou, “Ek ken al jou gedagtes en al jou bekommernisse. Ek ken elke stryd wat jy moet stry. En Ek gee om oor dit alles.”

Dawid het ‘n beroemde gedeelte oor hierdie onderwerp geskryf. Hy het gesê, “Here, U deurgrond en ken my. U ken my sit en my opstaan; U verstaan van ver af my gedagte. U deurvors my gaan en my lê, en U is met al my weë goed bekend. Want daar is nog geen woord op my tong nie — of U, Here, U ken dit geheel en al. U sluit my in van agter en van voor...

“Hoe kosbaar is dan vir my u gedagtes, o God! Hoe geweldig is hulle volle som nie! Wil ek hulle tel, hulle is meer as die sand; word ek wakker, dan is ek nog by U" (Psalm 139:1–5, 17–18). Dawid sê eintlik, “God weet alles van my af. Hy sien al my bewegings en ken selfs my gedagtes. Oral waar ek gaan, daar is Hy.”

Dink daaraan. Dit maak nie saak waardeur jy gaan nie, of hoe jy voel nie, die Here sien alles — en Hy gee om. Hy weet nie net van jou swakhede en krankhede nie. Die Bybel sê Hy voel dit. Hy weet van elke beweging wat jy maak en alles wat jy sê en doen.  En die hele tyd dink hy kosbare gedagtes oor jou! In wese sê Hy, “My gedagtes oor jou is so magtig en so baie, hulle is meer as die sand van die see.”

Baie Christene gaan deur die lewe met die gedagte dat God vir hulle kwaad is. Hulle dink hulle kan Hom nooit behaag nie. Hoe verkeerd is hulle tog nie. Dawid was nie ‘n volmaakte man nie. Hy het groter sonde gepleeg as wat die meeste Christene ooit sal doen. Tog was Dawid in staat om te getuig, “Hoe kosbaar is dan vir my u gedagtes, o God!”

God is nie op hierdie oomblik vir jou kwaad nie. Hy dink kosbare, liefdevolle gedagtes oor jou. Hy omhels jou selfs op hierdie oomblik in sy arms. Hy weet hoe jy voel. En Hy gee om. Hy wil vir jou sê, “Ja, jy gaan deur ‘n groot beproewing. Jy word versoek en geteister. Maar jy is my kind — en Ek sal nooit toelaat dat die vyand jou verstrik nie. Ek sal jou deurdra.”

Laastens, is daar ‘n derde vraag wat ons moet antwoord:

3. “Is God gewillig om my te help?”

Glo jy dat God bereid is om jou probleem gou op te los? Dit is wat baie Christene nie besef nie. Hulle weet God het alles wat hulle nodig het; hulle erken dat Hy omgee. Maar hulle is nie oortuig dat Hy gewillig is om hulle te help nie.

Wanneer God nie hulle hulpgeroep dadelik verhoor nie, dan verbeel hulle dat daar hindernisse en innerlike blokkasies in hulleself is. Hulle dink aan allerhande redes waarom die Here nie tot hulle hulp kom nie. Nee! Dit beskuldig God dat Hy sy kind verwaarloos.

Op die berg Karmel, Het Elia vrymoedig van sy God gepraat. En hy het die profete van Baäl geterg deur hulle god van kinderverwaarlosing te beskuldig: “En hulle...het die naam van Baäl van die môre tot die aand aangeroep en gesê: o, Baäl, gee ons antwoord. Maar daar was geen stem en niemand wat antwoord nie...En toe dit middag was, het Elia met hulle gespot en gesê: Roep hard; hy is mos ‘n god! Hy is seker in gepeins, of hy het hom seker afgesonder, of hy is seker op reis; miskien slaap hy of moet hy wakker word.

“En hulle het hard geroep en hulleself...stukkend gekerwe tot die bloed op hulle uitgespuit het...maar daar was geen stem en niemand wat antwoord nie. En geen opmerksaamheid nie" (1 Konings 18:26–29).

Wat Elia beskryf, is presies hoe ons God van kinderverwaarlosing beskuldig. Ons bid en roep hardop tot God, maar dan gaan ons op ons eie pad sonder om te glo dat Hy ons gehoor het. Ons het die Here se teenwoordigheid verlaat – ons het die kerk en ons binnekamer verlaat — terwyl ons wonder of Hy aan ons smekinge aandag gegee het.

Die Here is altyd gereed om ons hulpgeroep te hoor en te verhoor. Ek hou van wat Dawid van Hom sê: “Want U, o Here, is goed en vergewensgesind en groot van goedertierenheid vir almal wat U aanroep...In die dag van benoudheid roep ek U aan, want U verhoor my" (Psalm 86:5, 7).

Dawid getuig, “My God is gereed en gewillig om my op die oomblik wat ek tot Hom roep, te help. Ek hou nie aan om aan my moeilikheid te dink nie. Ek probeer nie daaroor treur of dit uit te pluis nie. Ek gaan na my Here en roep, ‘Help!’”

Dit is al waarvoor God wag: jou hartverskeurende hulpgeroep wat in kinderlike geloof uitgespreek word.

Ons moet in geloof vra en glo dat Hy sal antwoord.

“Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel, is soos ‘n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word. Want dié mens moenie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie" (Jakobus 1:6–7). Hierdie vers maak dit duidelik waarom ons in geloof moet vra.

Die Skrif sê, “En die kinders van Israel het gesug en geweeklaag vanweë die slawerny. En hulle geroep om hulp oor hulle slawerny het opgeklim tot God...En God het hulle gekerm gehoor, en God het gedink aan sy verbond...En God het die kinders van Israel aangesien, en God het hulle geken" (Exodus 2:23–25).

God het nie vir Israel verhoor omdat hulle waardig was nie. Inteendeel, die Here het baie gehad om hulle te leer. Hy het hulle verhoor omdat hulle ernstig geroep het. Ons word vertel dat Hy hulle “aangesien” het en hulle geroep gehoor het.

Net voor Moses gesterf het, het hy die volk herinner aan God se getrouheid om op hulle hulpgeroep ag te gee: “Maar die Egiptenaars het ons mishandel en verdruk en ‘n harde diens op ons gelê. Toe het ons die Here, die God van ons vaders, aangeroep; en die Here het ons stem gehoor en ons ellende en ons moeite en ons verdrukking aangesien; en die Here het ons uit Egipte uitgelei deur ‘n sterke hand en ‘n uitgestrekte hand en ‘n uitgestrekte arm en deur groot skrikwekkende dade en deur tekens en wonders" (Deuteronómium 26:6–8).

Die Israeliete, so afvallig en afgodies wat hulle was, het eenvoudig na die Here uitgeroep. Net so sê God aan sy geliefde kinders vandag, “Jy kan My aanroep en na My uitroep en Ek sal verhoor.” Is jy geteister, versllaaf of ontsteld? Het jy verlossing nodig? Roep hard, met geloof. God is gereed om jou met wonders en tekens deur sy magtige arm te verlos.

Israel se geskiedenis kan opgesom word in ‘n paar verse: “En die kinders van Israel het gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here en die Here hulle God vergeet...Maar toe die kinders van Israel die Here aanroep, het die Here ‘n verlosser vir die kinders van Israel verwek" (Rigters 3:7, 9). God se volk het Hom herhaaldelik vergeet. Maar toe hulle geroep het, het Hy gekom.

Die profeet Samuel het Israel berispe deur hulle te herinner aan hoe hulle vaders tot die Here geroep het: “Toe het hulle die Here aangeroep en gesê: Ons het gesondig, want ons het die Here verlaat…maar red ons nou uit die hand van ons vyande...En die Here het Jerúbaäl en Bedan en Jefta en Samuel gestuur en julle uit die hand van jul vyande rondom gered, sodat julle veilig gewoon het" (1 Samuel 12:10–11).

God het altyd verlossing gestuur. Dit maak nie saak hoe erg die mense teenoor Hom gesondig het nie en hoe vreeslik hulle Hom versaak het nie. Op dieselfde oomblik wat hulle na Hom geroep het, het Hy begin optree om hulle te red en te verlos.

Geliefde, glo jy dat God ‘n dowe oor het vir al jou smekinge? Glo jy Hy was gewillig om die hulpgeroep van ‘n hardnekkige volk, wat geneig was om teen Hom te sondig en Hom selde of nooit volkome vertrou het nie, te verhoor — maar dat Hy Hom sal doof hou vir die opregte pleidooi van ‘n getroue, gelowige kind soos jy? Nooit!

Dit maak nie saak wat jy beleef nie, Hy sal nie toelaat dat Satan jou oorwin nie. Hy het ‘n muur van vuur rondom jou gevorm. En Hy is gereed om jou op kort kennisgewing te hulp te kom.