Bewaar Jouself in die Liefde van God

David Wilkerson

“Maar julle, geliefdes, moet julleself opbou in jul allerheiligste geloof en in die Heilige Gees bid, en julleself in die liefde van God bewaar, terwyl julle die barmhartigheid van onse Here Jesus Christus tot die ewige lewe verwag" (Judas 20–21).

Terwyl ek hierdie verse in Judas gelees het, het ek gehoor hoe die Gees saggies aan my gefluister het: “David, ek wil hê dat jy die volheid en vreugde van my liefde sal ervaar. Jy het die teologie reg. Maar jy het nog nooit die ware rus in jou siel ervaar wanneer jy jouself in my liefde bewaar nie. Tot nou toe was jy nog net tot by jou enkels in my liefde, maar daar is ‘n hele oseaan van my liefde waarin jy kan swem.”

Die Bybel is vol van waarhede oor God se liefde. Somtyds veroorloof ek my om te wonder hoe God my ooit kan liefhê? Dit is nie dat ek aan sy liefde twyfel nie, dit is meer ‘n mislukking van my kant af om myself in die wete en versekering van sy liefde vir my te bewaar.

Dit is die rede waarom ek hierdie boodskap skryf. Ek ervaar dat God wil hê alle Christene moet weet hoe om in sy liefde bewaar te bly. En die eerste ding wat ek wil sê is: Die liefde van God moet deur die Heilige Gees aan ons geopenbaar word.

Die openbaring van God se liefde kom gedeeltelik wanneer ons weergebore word. As jy vir die meeste Christene sou vra wat hulle weet van God se liefde vir hulle, sou hulle sê, “Ek weet God is lief vir my, omdat Hy sy Seun gestuur het om vir my te sterf en vir my sonde te betaal. Hulle sal Johannes 3:16 aanhaal: “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” Dit is ‘n wonderlike oomblik wanneer jy hierdie waarheid verstaan. Skielik besef jy, “God het my liefgehad toe ek ‘n verlore sondaar en ‘n vreemdeling was.”

Hy het sy liefde vir my bewys deur sy eie Seun vir my op te offer. Min Christene weet egter hoe om in God se liefde bewaar te bly. Ons weet iets van ons liefde teenoor God, maar ons soek selde die openbaring van God se liefde vir ons. Inteendeel as jy vir die meeste Christene sou vra om ‘n Bybelversie te soek oor God se liefde vir ons, sou hulle net ‘n paar kon opnoem.

Tog, om die liefde van God te verstaan, is die geheim van ‘n oorvloedige lewe. Menigte word geestelik koud en lui omdat hulle oningelig is oor die Vader se liefde vir hulle. Hulle weet nie dat hulle grootste wapen teen Satan se aanvalle juis is, om ten volle bewus te wees van God se liefde vir hulle deur die openbaring van die Heilige Gees.

God het sy mense lief met dieselfde liefde wat Hy het vir Jesus, wat aan sy regterhand sit.

In sy laaste gebed op aarde, het Jesus gesê, “Vader...omdat U My liefgehad het voor die grondlegging van die wêreld" (Johannes 17:24). Wat ‘n wonderlike gedagte: Christus se Vader het Hom al van voor die skepping af liefgehad! Voordat enigiets in die heelal geskep was — voor enige planeet gevorm was, voor die son, maan of sterre verskyn het, voor die aarde gemaak is, voor die skepping van die mens — toe al was die Vader lief vir Jesus.

Toe het Jesus hierdie merkwaardige gebed gebid: “U, Vader...het hulle liefgehad, soos U My liefgehad het" (Johannes 17:21, 23). Hy het ook gebid, “...Sodat die liefde waarmee U My liefgehad het, in hulle kan wees, en Ek in hulle" (Johannes 17:26). Christus het gesê, “Vader, Ek weet U gaan diegene wat Ek in die liggaam inbring, net so lief hê soos wat U My lief het.”

Volgens Jesus, is Christus en sy kerk een in die Vader se oë. Paulus illustreer dit met die gelykvormigheid van ‘n menslike liggaam. Hy sê Christus is die hoof en ons is sy liggaam — been van sy been en vlees van sy vlees: “(God) het alle dinge onder sy voete onderwerp en Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee, wat sy liggaam is, die volheid van Hom wat alles in almal vervul" (Efesiërs 1:22–23). "Want ons is lede van sy liggaam, van sy vlees en van sy bene" (Efesiërs 5:30).

Sien jy die implikasies? Toe die Vader Jesus liefgehad het in die ewigheid, het Hy ons ook liefgehad. Inderdaad, toe die mens nog net ‘n gedagte in God se ewige gemoed was, het Hy alreeds al ons liggaamsdele genommer en ons verlossing beplan.

“Soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees" (Efesiërs 1:4).

“Ja, U is dit wat my uit die moederskoot uitgetrek het, wat my veilig laat rus het aan my moeder se bors. Aan U is ek oorgegee van die geboorte af; van die skoot van my moeder af is U my God" (Psalm 22:10-11).

“U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae wat almal bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie" (Psalm 139:16).

In die laaste gedeelte bedoel Dawid, “Nog Voordat ek gevorm was, het U my geken, O God. U het my liggaamsdele al lank van tevore beplan.”

God het nog altyd beide sy Seun en ons liefgehad, want sy liefde is net so ewigdurend soos Hy. “Ek het jou liefgehad met ‘n ewige liefde" (Jeremia 31:3). "Onse God en Vader, wat ons liefgehad het en ‘n ewige troos gegee het" (2 Thessalonicense 2:16).

Niemand kan God se liefde wen, deur enige goddelike ding wat hy of sy doen nie. Jesus het nie sy Vader se liefde verdien deur na die kruis te gaan, of deur sy gehoorsaamheid of deur sy Vader lief te hê nie. Net so het God nie begin om jou lief te hê die dag toe jy berou gehad het en Christus as jou Here aangeneem het nie. Hy het jou nie skielik begin liefkry toe jy Hom begin gehoorsaam het en in die Gees begin wandel het nie. Jy was alreeds van die ewigheid af liefgehad.

Hoe lank het God jou al lief? Hy het jou lief sedert sy bestaan, want God is liefde. Dit is sy hele natuur. Het jou as ‘n sondaar liefgehad. Hy het jou liefgehad in die moederskoot. Hy het jou liefgehad voordat die wêreld ontstaan het. Daar was geen begin van sy liefde vir jou nie, en daar is geen einde nie.

Wanneer sal God ophou om jou lief te hê? Hy sal slegs ophou wanneer Hy ophou om sy Seun lief te hê, wat onmoontlik is! Christus sê: “...Die Vader, en omdat Hy sy eie mense in die wêreld liefgehad het, hulle liefgehad tot die einde toe" (Johannes 13:1). Nou kan ons beter verstaan wat Judas bedoel het toe hy gesê het, “Bewaar julleself in die liefde van God.” Hy sê vir ons, “Bewaar hierdie waarheid, hou dit vas, en moenie dit ooit verloor nie. Kennis van God se liefde is vir jou vertroosting en krag bedoel. Dit sal jou vrymaak en jou vry hou."

Die apostel Johannes het bygevoeg: “Hierin is die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as ‘n versoening vir ons sondes. Ons het Hom lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het" (1 Johannes 4:10, 19).

Om jouself in God se liefde te bewaar is om te weet, te glo en aan te hou glo en vertrou in sy liefde, selfs in jou beproewings.

Enigeen kan sy blydskap behou wanneer hy vreugde in die Heilige Gees ervaar, maar God wil hê ons moet te alle tye in Sy liefde bly — veral tydens beproewings en versoekings. Johannes vertel ons hoe om onself in God se liefde te bewaar: “En ons het die liefde wat God tot ons het, leer ken en geglo. God is liefde; en hy wat in die liefde bly, bly in God, en God in hom" (1 Johannes 4:16). Kortliks, as ons “in God se liefde wandel,” dan bewaar ons onsself in sy liefde.

Die woord “bly” beteken hier “om in ‘n toestand van afwagting te wees.” Met ander woorde, God wil hê ons moet verwag dat sy liefde vir ons nuut sal wees elke dag. Ons moet elke dag leef in die wete dat God ons nog altyd liefgehad het en ons ook vir altyd sal liefhê. In werklikheid beweeg die meeste van ons in en uit God se liefde na gelang van ons emosionele op-en-af buie. Ons voel alleen veilig in sy liefde as ons “goed gedoen het” in ons wandel met Hom. Ons is egter onseker van sy liefde wanneer ons versoek en beproef word of wanneer ons Hom teleurgestel het.

Geliefde, dit is veral in sulke tye wanneer ons op sy liefde moet vertrou. Hy sê aan ons in hierdie gedeelte, “Dit maak nie saak watter beproewing jy ondervind nie, moet nooit twyfel aan My liefde vir jou nie. As jy aktief vertrou op my liefde, leef jy die lewe wat Ek wil hê jy moet lewe.” Verduur jy ‘n groot versoeking? Word jy oorweldig deur ‘n ou wellus wat jy haat? Is jou huwelik in onrus, jou familie in chaos? Dit is die tye waarin jy jouself in God se liefde moet bewaar. Weet dat deur dit alles heen, die ewige Vader jou nog altyd liefhet.

Jy mag wonder, “Bedoel jy, dat deur my lief te hê, God al my mislukkings oorsien? Maak Hy of Hy my sonde nie raaksien nie?” Natuurlik nie. Hy sal jou tugtig met sy roede, maar Hy help sy kinders altyd reg in groot liefde. “Want die Here tugtig hom wat Hy liefhet" (Hebreërs 12:6).

Een rede waarom God sy liefde vir ons wys in ons swak en sondige tye, is om ons na Hom toe terug te trek.

Jeremia 31 bied ons ‘n wonderlike illustrasie van God se liefde. Israel was afvallig. Die mense het vet en voorspoedig geword, en hulle was gewikkel in allerhande soorte boosheid. Hulle het afgode aanbid en het hoerery bedryf en owerspel gepleeg. Hulle het heeltemal vergeet van die liefdevolle genade wat God aan hulle bewys het.

Toe skielik, het hulle welluste begin suur word. Skielik het hulle al hulle plesier in sensuele dinge verloor. Toe het hulle uitgeroep, “Here, ons is verlore. U moet ons asseblief help om ons te bekeer.” God het hulle hulpgeroep gehoor en sy liefdevolle hart het na hulle toe uitgegaan. Hy het hulle met sy lat van teregwysing gekasty en Israel het uitgeroep, “U het my getugtig...bekeer my dan, dan sal ek my bekeer... Want nadat ek tot inkeer gekom het, het ek berou gehad" (Jeremia 31:18–19).

Luister na God se woord op hierdie tydstip: “Want so dikwels as Ek teen hom spreek, dink Ek nog altyd aan hom; daarom is my ingewande oor hom in beroering; Ek sal My sekerlik oor hom ontferm" (Jeremia 31:20). "Daarom het Ek jou getrek met goedertierenheid" (Jeremia 31:3).

Dit is wat jy omtrent God se liefde moet leer. God het aan sy mense gesê: “Ek moes julle tugtig en met harde woorde die waarheid tot julle spreek. Tog, selfs tóé het julle teen My gesondig en my genade moedswillig geïgnoreer. Julle het teen my liefde gedraai en my verwerp. Nogtans was my medelye met julle baie diep. Ek het onthou van julle worsteling en sal julle sekerlik genadig wees. Ek sal julle vrylik vergewe en herstel.”

In Hoséa 3 vergelyk God die agteruitgang van Israel met ‘n owerspelige vrou. Hy sê vir Hoséa, “Gaan nog ‘n keer, bemin ‘n vrou wat bemin word deur haar vriend, maar wat owerspel bedrywe, net soos die Here die kinders van Israel bemin, terwyl hulle hul tot ander gode wend" (Hoséa 3:1).

God het Hoséa beveel om Israel ‘n illustrasie te gee van sy liefde vir hulle, al het hulle hom bedrieg.

Die Here het aan sy volk gesê: “Julle het blatant teen My gesondig, soos ‘n prostituut op straat, maar julle is steeds met My getroud en Ek het julle lief. Ek is daar vir julle, maar nou moet julle daar wees vir My.”

Ons sien hierdie soort onvoorwaardelike, herstellende liefde in ‘n brief wat ‘n liewe suster onlangs vir ons gestuur het. Sy skryf: ‘n Jaar gelede toe ek betrokke was in ‘n owerspelige verhouding, het ek vir julle ‘n “anonieme” brief gestuur en gevra dat julle vir my moet bid. Ek was gefolter deur die bedrog in my lewe. Ek is waarlik weergebore en die Heilige Gees was besig met my.

“Ek is nou versoen met my eggenoot en met my wonderlike Here. Ons het werklik genesing nodig gehad in baie areas van ons lewe na drie-en-veertig jaar saam. Jou boodskappe het my so oortuig en aangemoedig om aan te hou met glo in God se liefde. Ek het nou eers regtig besef hoe lief God my het.”

God se liefde het ‘n kragtige uitwerking op hierdie vrou gehad, maar onkunde oor God se liefde kan net die teenoorgestelde effek hê. Let op die brief wat ‘n ander vrou geskryf het: “Ek het dikwels gevoel dat God daarop uit was om my te straf vir alles wat ek gedoen. Daarom was ek hard en ongevoelig teenoor ander mense en wou ek hulle onder die sweep laat deurloop, sodat hulle kan regkom. Nou wil ek egter net na sy genade troon hardloop om sy liefde aan ander te wys. Ek is moeg daarvan om so veroordelend te wees.” Dank God, hierdie vrou verlang om in die Vader se liefde te bly!

Geliefde, God se liefde word net aan ons oorgedra deur Jesus Christus. Volgens Johannes, bly al God se liefde in Jesus. Hy skryf: “Uit sy volheid het ons almal ontvang" (Johannes 1:16). Jy mag vra, “Waarom is dit so belangrik om te weet dat God se liefde net deur Christus aan ons oorgedra word? Hoe raak dit ons alledaagse lewens?

Hierdie kennis is meer as net ‘n Bybelse begrip. Inteendeel om te weet dat God se liefde aan ons oorgedra word deur Jesus, het alles te doen met hoe ons onsself in sy liefde bewaar. Jy sien, dit is nie genoeg vir my om te weet dat God my altyd sal liefhê en nooit sal ophou om my lief te hê deur al my worstelinge nie. Hy wil ook hê dat sy liefde ‘n sekere effek op my sal hê.

Hoe presies beïnvloed God se liefde ons lewens? Ons kan nie na mense as voorbeeld kyk nie. Baie Christene reageer op die openbaring van God se liefde deur dit te sien as ‘n lisensie om te sondig. Hulle oortuig hulleself: “God het my onvoorwaardelik lief. Hy moet aanhou om my lief te hê ten spyte van my drinkery, owerspel en plesier-soekery. Sy Genade is groter as my sonde.” Sulke mense doen God se liefde oneer aan.

Ons moet na Christus as ons voorbeeld kyk. Jesus het alreeds gesê dat die Vader ons net so liefhet soos Hy sy Seun liefhet. So, watter invloed het die Vader se liefde op Jesus gehad?

Die vrug van die Vader se liefde was daarin dat Jesus sy liggaam as ‘n lewende offer vir ander gegee het.

Johannes skryf, “Hieraan het ons die liefde leer ken, dat Hy sy lewe vir ons afgelê het" (1 Johannes 3:16). Dit was die vrug van God se liefde vir Jesus. Hy het homself as ‘n offer vir ander gegee. Die tweede helfte van hierdie versie vertel ons oor die doel van God se liefde in ons eie lewens. Dit lees, “... en ons behoort ons lewe vir die broeders af te lê" (1 Johannes 3:16). God se liefde lei ons ook om ons liggame as lewende offers aan te bied.

Het jy al ooit gedink wat dit beteken om jou lewe vir jou broers en susters af te lê? Paulus praat nie van martelare op vreemde bodem word nie. Hy verwys nie na ‘n orgaan-skenker nie. Hy bedoel ook nie dat ons die plek moet inneem van een of ander veroordeelde wat op die doodvonnis wag nie! Christus alleen het daardie offer gebring.

Nee, die enigste soort Christen wat lewe en hoop aan sy broers en susters kan gee is ‘n “dooie” een. So ‘n dienaar het gesterf vir die wêreld — vir alle selfsug, trots en ambisie en hy het homself oorgegee aan die heilige wil van God.

Die “dooie” Christen het die Heilige Gees toegelaat om ‘n geestelike opname van sy siel te maak. Hy sien die korrupsie en ongoddelike toestand van sy hart. Hy gaan gewillig na God se altaar en roep uit, “Here, gebruik my, neem alles!” Hy weet, dat alleen deur gewas te wees in Christus se bloed, kan hy sy lewe vir sy broers en susters gee.

Dit is die enkele, belangrikste waarheid wat my in staat stel om voort te gaan met geestelike oorlogvoering. As ek ten volle oortuig is dat God getrou is om my te vergewe en te herstel, sal ek die krag hê om alle versoeking te weerstaan. Ek sal weet Hy is altyd by my, al gebeur wat ookal, en dat Hy my deur dit alles sal liefhê.

Al mag ek soms misluk, weet ek Hy wag vir my aan die einde van my stryd en dat ek deur sy liefde omring, daardeur sal kom. Geliefde, sal jy in sy liefde vir jou glo? Word in sy liefde bewaar deur in sy liefde vir jou te glo. Amen!