God Kan Jou Gebruik Ten Spyte Van Jou Swakheid

David Wilkerson

God het besluit om Sy doelwitte hier op aarde te volbring deur mense met swakhede.

Jesaja, die groot gebedskryger, was ‘n mens met soortgelyke passies – wat beteken, net soos die res van ons – swak en beseer. Dawid, die man na God se eie hart, was ‘n moorddadige egbreker wat geen sedelike reg gehad het tot enige van God se seëninge nie. Petrus het die einste Here God van die Hemel verloën – en die Een gevloek wat hom die liefste gehad het. Abraham, die vader van nasies, het ‘n leuen geleef – en sy vrou gebruik as ‘n pion om sy eie bas te red. Jakob was ‘n bedrieër. Paulus was ongeduldig en hard met bekeerlinge en genote wat nie aan sy asketiese leefstyl voldoen het nie. Adam en Eva het ‘n volmaakte huwelik in ‘n nagmerrie verander. Salomo, die wysste man op aarde, het een van die domste dinge gedoen wat ooit in die geskiedenis opgeteken is. Samuel het Koning Agag vermoor in ‘n woedebui en oordrewe vertoon van geregtigheid. Josef het sy verlore broers geterg met amper seunsagtige vermakerigheid – totdat die speletjies amper op hom geboemerang het. Jona wou sien hoe ‘n hele stad afbrand net om sy profesieë daarteen geregverdig te sien – hy het die genade van God teenoor ‘n berouvolle volk verag. Lot het sy twee maagdelike dogters vir ‘n bende seksmal Sodomiete aangebied.

Die lys gaan aan en aan – manne wat God liefgehad het, manne wat magtig deur God gebruik is – amper tot in die grond gedryf deur hulle swakhede. Maar, God was altyd daar om te sê, “Ek het jou geroep; Ek sal met jou wees! Ek sal die kwaad uit jou hart haal! Ek sal my wil uitvoer, ongeag wat!”

God se skat is in erdekruike

Een van die mees bemoedigende Skrifte in die Bybel is 2 Korinthiërs 4:7: “Maar ons het hierdie skat in erdekruike, sodat die voortreflikheid van die krag van God mag wees en nie uit ons nie.” Dan gaan Paulus verder en beskryf die erdekruike – sterwende manne, van alle kante af verdruk, verleë, vervolg, terneergedruk. En al was hulle nooit verlaat of wanhopig nie; het daardie manne, wat deur God gebruik was, voortdurend gekreun onder die las van hulle liggame, en het gretig gewag om met nuwes beklee te word.

God spot met die mens se krag. Hy lag oor ons egoïstiese pogings om goed te wees. Hy gebruik nooit die edeles en magtiges nie – maar, in plaas daarvan, gebruik Hy die swak dinge van hierdie wêreld om die wyse te beskaam.

“Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie” (1 Korinthiërs 1:26-31).

Sjoe! Wat ‘n beskrywing van my! Swak – dwaas – verag – onedel – niks – nie baie slim nie – nie baie magtig nie. Watter malligheid om te dink God kan so ‘n skepsel gebruik! Maar tog is dit Sy volmaakte plan – die grootste verborgenheid op aarde. God roep ons in ons swakhede, selfs wanneer Hy weet ons sal alles verkeerd doen. Hy plaas Sy kosbare skat in hierdie erdekruike van ons omdat Hy ‘n behae het om die onmoontlike te doen met niks.

God verheug Hom daarin om mislukkings te gebruik – mans en vroue wat hulleself ag as skaars in staat om iets reg te doen. ‘n Vrou het onlangs vir my geskryf en gesê, “Ek is die wêreld se #1 mislukking. My huwelik is op die rotse. Dit lyk of ek alles verkeerd doen met kinders grootmaak. Ek is nie baie goed met iets nie. Ek is nie eens in staat om die Bybel baie goed te verstaan nie. Die meeste daarvan is bo my vuurmaakplek. Ek voel asof ek nie iets werd vir enige iemand nie. Ek is nie ‘n baie goeie vrou, moeder of Christen nie. Ek is sekerlik die wêreld se grootste mislukking.”

Sy is presies die soort mens waarna die Here soek – mense wat weet dat as enigiets goeds deur hulle gebeur, dit die Here moet wees. Al die belangrike en knap Christene wat rondgaan en mense verstom met hulle wonderlike vermoëns, beïndruk God glad nie. God het afgekyk na ‘n konkelende, veragtelike, swakkeling van ‘n man genaamd Jakob en het gesê, “Wees nie bevrees nie, wurmpie Jakob, volkie Israel! Ék help jou... Kyk, Ek maak jou tot ’n skerp, nuwe dorsslee wat baie tande het ... maar jy sal juig in die HERE...” (Jesaja 41:14-16).

Mense gebruik God dikwels om hul fortuin, roem, eer en respek te verkry. Talent, persoonlikheid en skranderheid word alles gebruik in God se koninkryk. Maar God is nie beïndruk nie. Sy krag word volbring in diegene wat swak is.

Wanneer ek sê swakheid, bedoel ek nie senualiteit nie

God gebruik nie mense swak in geregtigheid nie. ‘n Mens se swakheid kan hom lei tot owerspel, dobbelary, drinkery en allerhande sondige genietinge. God verwys nie na daardie soort swakheid nie. Wanneer Hy die basis noem, verwys Hy nie na die goddeloses nie.

Die swakheid waarvan God praat behels ons menslike onvermoë om Sy gebooie in ons eie krag te gehoorsaam. God roep ons tot ‘n lewe van heiligheid en afsondering. Hy sê vir ons ons kan vry wees van die slawerny van sonde. Sy Woord beloof vryheid van sonde se mag, sowel as vergifnis. God se Woord kom na ons met ‘n paar onmoontlike uitdagings – “Weerstaan die duiwel. Wandel in die Gees. Kom onder hulle uit. Moenie owerspel pleeg nie. Wees lief vir jou vyande. Gaan rus binne. Los al jou vrese. Lê jou wellustige begeertes neer. Laat geen sonde oor jou heers nie. Soos Hy was in hierdie wêreld – wees julle so. Oorwin self, trots en afguns. Moenie sondig nie!”

Weet jy hoe om te antwoord op daardie oproep? Dink eerlik oor hoe min jy kan doen op jou eie om hierdie uitdagings te volbring – dan besef jy hoe swak jy is. Jou hart begin uitroep, “Here, hoe kan ek sulke groot, heilige dinge doen? Hoe is al hierdie dinge moontlik?” Daar is geen manier waarop jy al hierdie gebooie en uitdagings kan volbring met jou eie krag en kennis nie. Die oproep tot heiligheid is skrikwekkend en ontstellend. Jy weet wat God van jou vra, maar dit lyk nie of jy weet hoe om dit te volbring nie.

Sommige dink hulle kan dit op hulle eie doen! So hulle probeer krampagtig al hulle innerlike bronne konsentreer. Hulle kners op hulle tande en skraap al hulle menslike kragte bymekaar. Hulle begin met baie energie en vasberadenheid – met alles wat hulle het, neem hulle sake in eie hande. Hulle gaan voort om “te gehoorsaam of te sterf terwyl hulle probeer!” Dit werk vir ‘n kort rukkie, totdat God hulle keer. Hy tree in en verydel al die mens se planne en selbepalende pogings van die vlees. Dan tref mislukking, net op die oomblik wat dit lyk dat alles so goed gaan. Hierdie doen-dit-self Christene raak op die ou end gefrustreerd, kwesbaar en swak.

Dit is wanneer ons Here oorneem! Hy kom dan met so ‘n vertroostende boodskap: “Lê jou wapens neer. Hou op om so selfgenoegsaam en sterk te wees. Ek is jou wapen – jou enigste wapen. Ek is jou sterkte. Laat My doen wat jy nooit kan doen nie. Jy is nie veronderstel om dit op jou eie te doen nie. Ek moet dit doen sodat dit net vir My sal verheerlik. Ek gee jou My geregtigheid – My heiligheid – My rus – My krag. Jy kan jouself nie red nie; jy kan jouself nie help nie; jy kan My nie op enige manier behaag nie – anders as om die seën van die Kruis deur geloof te ontvang nie. Laat My in beheer wees van jou groei in heiligheid.”

As dit te goed gaan met jou – kan God nie werk nie

Gideon is ‘n voorbeeld van ‘n geroepe man met wie alles te goed gegaan het. Hy was geroep om God se kinders van slawerny te verlos. Wat het hy gedoen? Hy het die basuin geblaas en ‘n magtige leër byeengeroep. Duisende dapper krygers het onder sy banier bymekaargekom. Maar God het vir Gideon gesê, “Jou leër is te groot – te veel manne – te veel krag. Stuur hulle terug! As jy die oorwinning met al hierdie vertoon van krag wen, sal jy en jou mense dalk dink julle het deur julle eie vermoë gewen. Alles gaan net te goed vir jou – en jy wil nie die eer steel nie. Maak jou leër kleiner!”

Een vir een, het daardie manskappe Gideon se leër verlaat. Hy moes gestaan en kyk en gedink het, “Watter gekheid! Wen deur onsself swak te maak? God roep my om oorlog te voer en vra my dan om te ontwapen! Malligheid! Dit is die gekste ding wat God my nog ooit gevra het om te doen. Daar gaan my plan om ‘n legende in my eie tyd te word.”

Daardie krygers moes bewend van verstomming die slagveld verlaat het. Wie het al ooit gehoor van ‘n stryd wat gewen is deur die wapens en mannekrag neer te lê.

Vanuit ‘n menslike oogpunt, is dit malligheid. Groot oorwinnings deur klein oorblyfsels. Mure tuimel sonder dat ‘n skoot geskiet is. Leërs wat op die vlug slaan deur ‘n mengelmoesorkes basuinblasers. Met die krag van geloof alleen, het swak manne die wêreld verstom.

Die pad na heiligheid is nederigheid

Dit maak nie saak hoe magtig en eerbaar ‘n mens mag wees nie, God kan hom nie gebruik totdat hy in die stof val en al sy afgode oorgee nie. Menslike trots moet verpletter word. Al ons geroem moet stilgemaak word. Al ons gedagtes en planne moet laat vaar word. Alle menslike prestasies moet erken word vir wat dit is – ‘n besoedelde kleed en ‘n stank in God se neus.

Die mens moet kragteloos word – weerloos – en hopeloos in homself. Hy moet met vrees en bewing na die Kruis kom en uitroep, “Wees U die Here van my lewe.”

Daar is ook ‘n “swakheid van die vlees”

Daar is Christene wat die Here teleurstel. Hulle het Hom baie lief – hulle wil Hom nie bedroef nie. Maar, ten spyte van hulle liefde en goeie bedoelings, verval hulle in sonde. Selfs bedienaars pleeg owerspel. Menigtes Christene veg innerlike oorloë teen wellus. Hulle passies beheer hulle, en hulle word slagoffers van oorweldigende begeertes. Daar is moderne Batséba’s en Delilla’s – sowel as manne van God wat versoek en mislei word deur hulle.

Sommige van daardie swak kinders van die Here is skuldig aan die sonde van Petrus – hulle verloën die Here wat hulle geroep het. Ander word neergedruk deur die skuld en veroordeling van boesemsondes. Slegs God ken die stryd wat gestry word deur manne en vroue wat onder hulle wat die hoogste geag word in die kerk. Diegene met die mees akute oorloë bring baie van hulle tyd deur om teen die sondes van ander uit te vaar – meestal om die aandag af te trek van hulle eie stryd met die vlees.

Gee God ooit moed op met enige kind van Hom wat ‘n stryd voer teen een of ander witwarm passie? Lig God Sy Gees voor die oorwinning gewen is? Staan die Here daar naby en kyk, asof Hy sê, “Jy weet wat Ek van jou verwag. Jy ken My wette en My gebooie. Wanneer jy dit regkry – wanneer jy jou loswikkel van jou begeerte – dan sal Ek jou stroom van seën laat begin beweeg. Tot dan, is jy op jou eie.” Nooit! Nooit! In plaas daarvan, kom ons Here na ons toe in ons swakste oomblik – met sondevlekke oral op ons klere – en Hy fluister, “My krag is vir jou – hierin, in jou uur van swakheid. Moenie opgee nie. Moenie paniekerig word nie. Moenie wegdraai nie – moenie My uitsluit nie. Is daar enige goddelike droefheid in jou? Verag jy wat jy gedoen het? Wil jy oorwinning hê? Hou aan om saam met My te beweeg – na My toe. My arms is steeds uitgestrek soos ‘n moederhen wat haar vlerke sprei. Kom, Ek sal jou teen die vyand beskerm.”

Mense gee op omdat hulle so swak voel teen die krag van die vyand. Hulle sê vir hulleself, “Waarom kom God nie af en haal hierdie lelike ding uit my uit nie? Ek het Hom gesmeek; Ek het gebid; ek het gehuil. Weet die Here nie hoe graag ek Hom wil behaag nie? Waarom moet ek voortgaan om vir so lank getoets te word? Moet ek een maand na ‘n ander voortgaan en toegee aan hierdie ding? Waar is my vryheid van sonde se mag? Waarom werk die beloftes nie vir my nie?”

Maar dit lyk of ons vergeet dat God ons dikwels die lang pad om lei – ons word selde toegelaat om reguit in die beloofde land in te stap. Daar is lesse van geloof wat geleer moet word. Die versoekings in die woestyn gee God ‘n manier om Sy krag om te verlos te wys. Slegs Christene wat deur hartseer, deur vure van versoeking, deur die pyn van nederlaag kom – net hulle kan regtig ander help wat ly.

Ek het gesien hoe Israel Narvaez, ‘n Mau Mau bendeleier kniel en Christus as Here aanvaar. Dit was nie net ‘n emosionele oppervlakkige ervaring nie – Hy het dit regtig bedoel. Maar Israel het teruggegaan na die bende toe en in die tronk beland, aandadig aan moord. Het God opgegee op hom? Nie vir een oomblik nie! Vandag, is Israel ‘n bedienaar van die Evangelie, nadat hy die liefde en vergifnis van ‘n lydsame Saligmaker aanvaar het.

Het jy misluk? Is daar ‘n sonde wat jou so maklik verstrik? Voel jy soos ‘n swak lafaard – nie in staat om die oorwinning oor boesemsonde te kry nie? Maar met daardie swakheid binne-in jou, is daar ook ‘n verterende honger na God? Smag jy na Hom – het jy Hom lief – reik jy uit na Hom? Daardie honger en dors is die sleutel tot oorwinning. Dit maak jou anders as al die ander wat daaraan skuldig is om God teleur te stel. Dit maak jou ‘n uitsondering. Jy moet daardie honger lewendig hou. Hou aan dors na geregtigheid. Moet nooit jou swakheid regverdig nie – moet nooit toegee daaraan nie – moet dit nooit aanvaar as deel van jou lewe nie.

Daar is net een ding wat werk

Geloof is jou oorwinning. Abraham het swakhede gehad – hy het gelieg – hy het amper sy vrou in ‘n egbreekster verander. Maar Abraham het “God geglo en dit was hom tot geregtigheid gereken.” God het geweier om sy sonde teen hom te hou – omdat hy geglo het!

Sekerlik, jy het gefaal. Miskien gister – of vandag! Gruwelik! Skandelik! Maar jy glo Jesus het die mag om jou uiteindelik vry te maak van sonde se mag? Glo jy die Kruis van Jesus beteken sonde se slawerny is gebreek? Aanvaar jy die feit dat Hy belowe het om jou te verlos uit die strik van Satan?

Laat my jou vertel presies waar ek glo die oorwinning lê! Laat jou geloof opstaan! Laat jou hart al die beloftes van oorwinning in Jesus aanvaar! Laat jou geloof dan vir jou hart sê, “Ek is dalk nog nie wat ek wil wees nie – maar God werk aan my en Hy het die mag om sonde se houvas op my te breek. Ek gaan my momentum na die Here behou totdat ek uiteindelik vry is. Dit mag bietjie vir bietjie wees, maar die dag sal kom wanneer geloof sal oorwin! Ek sal nie altyd ‘n slaaf wees nie! Ek is nie die duiwel se marionet nie! Ek is ‘n swak kind van God, wat die krag van Jesus wil hê. Ek gaan nie nóg ‘n slagoffer van die duiwel wees nie. Ek gaan uitkom soos suiwer goud – gelouter in die vuur! God is vir my! Ek gee dit alles oor aan Hom wat magtig is om my vir struikeling te bewaar en my sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel – met gejuig.”