Babilon is Besig om te Val

David Wilkerson

“En hy het met ’n groot stem kragtig uitgeroep en gesê: Geval, geval het die groot Babilon, en dit het geword ’n woonplek van duiwels en ’n versamelplek van allerhande onreine geeste en ’n versamelplek van allerhande onreine en haatlike voëls...” (Openbaring 18:2).

Martin Luther en ander Reformasie predikers het onderrig dat Babilon die Katolieke kerk was en die Pous, die dier. Talle gelowiges van daardie tyd was gemartel omdat hulle die kerk verlaat het – menigtes is vermoor op bevel van die Pous. Enigeen wat die kerkgeskiedenis ken, kan bevestig dat die Katolieke kerk in die verlede bevlek is met die bloed van talle goddelike siele. Maar Protestante het ook Katolieke doodgemaak – soos in Ierland vandag. Hulle maak mekaar dood soos mal mense.

Maar die Babilon waarvan Johannes praat, is iets meer as die Katolieke kerk. Die dier is iets magtiger as die Pous. Babilon is steeds ‘n groot wêreldmag wat voor ons oë sigbaar is vandag. Sy krag en invloed het ongelooflik toegeneem in die laaste dekade – tot vandag toe roem dit van geweldige mag. Babilon is nie ‘n fisiese stad nie; dit is ‘n geestelike toestand – net soos Sion nie net ‘n stad in Israel is nie, maar ook die ware kerk van Jesus Christus verteenwoordig. Babilon is die hoerkerk! Dit is ‘n kerk binne die kerk – ‘n sigbare liggaam wat binne-in die onsigbare liggaam van Christus bestaan!

‘n Professor Milligon het in 1885 geskryf:

“Babilon is nie die kerk van Rome in die besonder nie. Daar is geen twyfel dat daardie kerk ernstig gesondig het nie...maar dit is nie die geestelike hoer nie. Babilon is alle belydende Christene wat die wêreld se guns liefhet eerder as sy bestraffing. Dit is diegene wat die eer van die wêreld soek eerder as sy skande. Dit is diegene wat gemak liefhet eerder as opoffering; grypend, gierig – maar geen deernis vir die armes het nie.

Babilon is almal wat op enige plek bely dat hulle Christus se “Klein Kuddetjie” is, maar nie is nie, omdat hulle Hom verloën deur hulle dade.”

Babilon, so ver as wat dit my aangaan, is enige kerk – enige bediening – enige bedienaar – enige Christen, in dieselfde liga as die wêreld! Dit bestaan uit sekere herders, evangeliste en menigte Christene – almal wat verlei word deur gierigheid en wêreldsgesindheid. Dit is godsdiens wat besmet is met sy goddelose metodes – en ‘n heiligdom verdorwe met goddelose verbintenisse.

Babilon val!

Johannes se profesie word voor ons oë vervul – nou al. God gaan binnekort elke ongeestelike kerk, elke ongeestelike bediening, elke afvallige bedienaar en elke louwarm, wêreldse Christen in duie laat stort.

Johannes het in sy visioen ‘n hoer gesien wat ondersteun was deur ‘n dier:

“En een van die sewe engele met die sewe skale het gekom en met my gespreek en vir my gesê: Kom hierheen, ek sal jou toon die oordeel van die groot hoer wat op die baie waters (lande) sit... En hy het my in die gees weggevoer na ’n woestyn, en ek het ’n vrou sien sit op ’n skarlakenrooi dier, vol godslasterlike name, met sewe koppe en tien horings...En die vrou was bekleed met purper en skarlaken en versierd met goud en kosbare stene en pêrels, en sy het in haar hand ’n goue beker gehad, vol gruwels en die onreinheid van haar hoerery; en op haar voorhoof was ’n naam geskrywe: Verborgenheid, die groot Babilon, die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde” (Openbaring 17:1-5).

Dit is regtig nie ingewikkeld nie. Vergeet van die sewe koppe en tien horings – dit is slegs simbole wat die wêreldwye invloed van die hoer aandui. Wat ons het, is ‘n duidelike prentjie van die afvallige, sensuele, ryk kerk van vandag! ‘n Bekende, invloedryke hoer, wat in besit is van groot rykdom en aansien – maar besoedel is met naaktheid, hoerery en vuilheid! Dit is die presiese beskrywing van die Laodicensiese kerk wat genoem word in Openbaring 3 – wat “...ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie...”

Babilon is nie die afvallige kerk net omdat ek so sê nie! Die Ou Testament profete het geweet wie die hoer was! Hulle het haar geïdentifiseer as die afvallige volk van God wat besoedel was deur die heidene rondom hulle. Jeremia het gesê, “Het jy gesien wat die afkerige, Israel, gedoen het? Sy het op elke hoë berg en tot onder elke groen boom gegaan en daar gehoereer...Maar jy het ’n hoerevoorhoof gehad, jy het geweier om jou te skaam...” (Jeremia 3:6,3). Eségiël het uitgeroep, “Hoe smagtend is jou hart, spreek die Here HERE, dat jy al hierdie dinge gedoen het, die werk van ’n onbeskaamde hoer..” (Eségiël 16:30). En Jesaja was beangs, “Ag, hoe het die getroue vesting ’n hoer geword! Dit was vol reg, geregtigheid het daarin vernag — en nou moordenaars!” (Jesaja 1:21). Dieselfde boodskap word verkondig deur die profete Joël, Amos, Miga en Nahum. Hulle het almal uitgeroep – “My volk Israel het verander in ‘n ontaarde plant – ‘n onbeskaamde hoer!”

God se eens getroue, uitverkore volk het gaan hoereer agter heidense weë aan! Hulle het genotliefhebbende kompromiemakers met sonde geword. Hulle het God se heilige plekke ontheilig deur vreemdelinge – onrein sondaars – in te bring! Eségiël het hierdie boodskap uitgebulder:

“En sê aan die wederstrewiges, aan die huis van Israel...Omdat julle uitlanders ingebring het, onbesnedenes van hart en onbesnedenes van vlees, om in my heiligdom te wees, om dit, my huis, te ontheilig...En julle het die diens van my heilige gawes nie waargeneem nie, maar het hulle aangestel om my diens in my heiligdom vir julle waar te neem. So sê die Here HERE: Geen uitlander, onbesnede van hart ...mag in my heiligdom ingaan... nie” (Eségiël 44:6-9).

In die tabernakel van die wildernis – en in die tempel van Salomo – was sondaars slegs in die voorpotaal toegelaat en nooit in die heilige plek nie. Slegs die geheiligdes was toegelaat om die Here te bedien – slegs diegene wat afgesonder en gesalf was. Nou is die kerk die voorportaal – waar alle sondaars welkom en gesog is! Maar wanneer dit kom by die hantering van die heilige dinge van God – word slegs die reines van hart, slegs die geheiligdes van God toegelaat!

Toe Johannes sien dat ‘n hoer ondersteun word deur ‘n dier, het hy in ons dag ingesien – ‘n vleeslike kerk geïnfiltreer deur die wêreld! Die dier is die gees van hierdie wêreld! Dit is sy mag gegee deur die ou draak, Satan! Jy en ek weet dit is waar. Die wêreld het in die kerk ingesluip! Dit verlei die kinders van God – en probeer God se kinders verlei tot geestelike hoerery! Om God se werk te doen met wêreldse metodes! Die gebruik van goddelose sangers! Onheilige vermaaklikheidspersoonlikhede! Dit het mode geword om die wêreld na te boots – sy musiek, sy styl – selfs sy choreografie! Almal behalwe ‘n paar godsdienstige platemaatskappye word nou besit deur groot Joodse korporasies. Sommige godsdienstige televisie programme word geredigeer en geproduseer deur mense wie glad niks te doen het met Christus nie! Dit is ‘n feit!

Kan jy jou indink dat ‘n onbesnede Filistyn in die heiligdom ingeroep word deur ‘n priester van Israel om die bediening te choreografeer voor die ark van die verbond? Daardie priester sou doodgeslaan word deur God – op die plek!

Jeremia was geskok dat die mense van sy tyd gewillig weggelei was deur soveel misleiding. Hy het gekla, “...en my volk wil dit graag so hê...” (Jeremia 5:31). Vandag, hou menigtes Christene daarvan om vermaak te word met ‘n halfgebakte evangelie. Hulle hou daarvan om die halfhartige Jesus-advertensies van bekendes te hoor. Te veel Christene hou van ‘n vermaaklikheidsevangelie!

God het besluit dit stort alles in duie! Babilon val!

“Jy wat by die groot waters woon, wat skatryk is, jou einde het gekom, die maat waarop jy afgesny word...” (Jeremia 51:13).

God het beveel, “Genoeg! Ek gaan ‘n skielike einde maak aan alle geestelike dwaasheid!” Wat beteken dit vir ons – op hierdie oomblik, in ons dag? Soveel dat God in werklikheid sê dit sal die ore laat tuit en en die hele wêreld verstom! Ons gaan die val van sommige hooggeagte bedienings sien! Multimiljoen-dollar projekte gaan in duie stort! Dit sal hoofnuus wees! Sommige kerke wat hulleself met monsteragtige skuld belas het, sal bankrot gaan! Liberale denominasis sal selfs groter verliese aan inkomste ly! God gaan elke TV program stopsit wat goddelose mense en metodes gebruik. Daar kom ‘n groot reiniging! Slegs die geestelike bedienings sal oorbly! Diegene wat die roepstem van die Gees hoor en hulle bediening reinig, sal God seën en laat groei. Diegene wat in dieselfde liga is as die wêreld, sal slegs meer ongeestelik en wêrelds word. Die geestelike mens van God sal die bres toemaak!

God maak gereed om ‘n nuwe ding te doen! Hy gaan die hoogmoediges, die bekendes, die ambisieuses laat val – en die nederige, onbekende profete ophef om die kerk terug te bring tot bekering en heiligheid!

Vriende, die dae van superster-evangeliste is verby! Geen eenmanvertonings meer nie! Geen steel van God se eer meer nie! Geen glans meer nie! Geen windmakerigheid meer nie! Geen wêreldgeredigeerde choreografie in God se heiligdom meer nie! Geen suksesgodsdiens meer nie! Die Heilige Gees gaan korporatiewe godsdiens stopsit! God het gesê Hy sal nie die ego van ‘n prediker van die Evangelie finansier nie!

Die Heilige Gees bearbei reeds die kinders van die Here om weg te beweeg van grootsheid, glans en sensasionalisme. Selfs sondaars is moeg vir al die jammerlike gesmeek vir geld! ‘n Opgewekte, geheiligde volk sal onderskei tussen reines en onreines! Diegene wat besig is om hulle klein koninkrykies te bou, sal ween en wanhopig word – terwyl God dit alles in duie laat stort! Hy gaan “Íkabod” oor hulle deure skryf! Sy heerlikheid sal hulle verlaat! God gaan die geskarrel en bedrywigheid – die besige tempo – van almal wat soveel tyd op bouery spandeer, in plaas van die aangesig van God soek – uitput en laat uitbrand.

Jeremia het God se oordeel vooruitgesien – “Kyk, Ek het dit teen jou... En Ek sal my hand teen jou uitstrek en jou van die rotse afrol en sal jou maak ’n afgebrande berg...want jy sal ewige wildernisse wees...” (Jeremia 51:25,26).

God waarsku elke opregte kind van God om uit Babilon uit te kom!

Die Skrif beveel – “Vlug uit Babel uit, en red elkeen sy lewe; kom nie om in sy ongeregtigheid nie; want dit is die tyd van wraak vir die HERE: Hy gee hom sy verdiende loon...” (Jeremia 51:6).

God roep herders om die weë van Babilon te laat staan!

Hy beveel bedienaars om hulle tekenborde weg te sit en terug te keer na vas, bid en God se Woord bestudeer. Gaan voort en bou – brei uit en beplan – maar wanneer daar oor die planne besluit is, laat die ouderlinge die kerk bou – stel die herder vry om te vas en te bid! Omdat God alles wat ligsinning en oppervlakkig is uit Sy mond sal spuug!

Jeremia het die priesters van sy dag bestraf en gesê: “En hulle genees die verbreking van die dogter van my volk op die maklikste manier deur te sê: Vrede, vrede! — terwyl daar geen vrede is nie...” (Jeremia 6:14). Die maklikste manier beteken “ligsinnig, dwaas, gebrek aan betekenis.” God se reiniging sal wegdoen met alle dwase, oppervlakkige evangelies wat geen betekenis het nie! God bring ‘n tweesnydende swaard terug! Hy bring manne terug wat Sy bevel gehoor het en uitroep, “So sê die Here...” Die dae van sonde oorsien is verby! God vereis nou heiligheid.

God gaan “om te bloos” terugsit in die Evangelie

“Hulle kom in die skande, omdat hulle gruwel bedryf het; tog skaam hulle hul nie in die minste nie, tog weet hulle nie om te bloos nie...” (Jeremia 6:15).

Bloos is “rooi wange veroorsaak deur ‘n gevoel van skaamte en skuld oor verkeerd doen.” God gaan vir Sy kerk ware herders gee wat Sy kinders hulle sonde sal uitwys. Hy sal goddelike smart en skaamte vir sonde en kompromie terugbring. Geen pleisters meer oor sonde plak nie! Geen vertroosting van die goddelose in hulle ongeregtigheid nie!

God gaan elke bedienaar verneder wat valse waardes het – wat “agter die wind aanjaag.” Jeremia het gesê, “...Die vorste (herders) het teen My oortree...en agter dinge aan geloop wat geen voordeel bring nie...” (Jeremia 2:8). Hy het geween oor ‘n bediening wat vleeslik, sensueel en aards geword het: “Want die herders het dom geword en die HERE nie gesoek nie; daarom was hulle nie voorspoedig nie, en hulle hele kudde is verstrooi...” (Jeremia 10:21).

Moenie my verkeerd verstaan nie – ek is nie negatief oor die bediening nie. En ek beoordeel my eie hart ook! Maar daar is so baie in die kansel vandag wat nie meer die aangesig van God soek nie. Hulle het vleeslik en sensueel geword – oorgegee aan professionalisme! Hulle het doods en wêrelds geword.

God maak gereed om dit alles te verander! Hy het gesê, “En Ek sal herders oor hulle verwek wat hulle sal oppas; en hulle sal nie meer bevrees of verskrik wees of vermis word nie...” (Jeremia 23:4). Hierdie ware herders sal nie langer die mense se hartseer genees met oulike klein gebedjies van bevryding nie! Geen “vertrou God net en alles sal vol vrede wees en goed gaan” meer nie. Geen onskadelike clichés meer nie! NEE! Hulle gaan die hartseer genees deur by die wortel daarvan uit te kom – SONDE in die hart! Hulle sal die byl teen die wortel lê en genesing bring deur volkome bekering en die laat staan van sonde en die wêreld.

God roep Sy gemeente uit Babilon uit.

“Want so sê die HERE van die leërskare, die God van Israel: Die dogter van Babel is soos ’n dorsvloer in die tyd as dit vasgetrap word; nog ’n kort rukkie, dan kom die oestyd vir hom” (Jeremia 51:33).

“Vlug uit Babel, en gaan uit die land van die Chaldeërs...uit!” (Jeremia 50:8).

Babilon was die wêreldmag wat God se kinders in Israel gevange gehou het. Dit is ‘n tipe van die hedendaagse verslaafdheid aan die gees van hierdie eeu. Oor en oor sê die Skrif, “En Babilon het gekom en die volk van God in ballingskap geneem, in boeie...” Paulus herinner ons, “hulle wat ’n afbeeldsel en skaduwee van die hemelse dinge bedien...” (Hebreërs 8:5). Babilon is steeds die gees van hierdie wêreld – Dit is die geheimenis van ongeregtigheid, die moeder van alle geestelike owerspel.

Toe die Israeliete in ballingskap was in Babilon, het Jesaja aan hulle hierdie waarskuwing gestuur – “Jy het hierdie dinge nie ter harte geneem nie...wellustige wat so veilig sit...” (Jesaja 47:4-8).

Met ander woorde, julle gee nie genoeg aandag aan die dinge van God nie! Julle is behep met pret en plesier! Julle gee nie aandag aan die tye nie, en julle ignoreer gebed en God se Woord.

Kyk rond! Christus is op die punt om te kom – en waar is die heiliges van God? Behep met ‘n warrelwind van sosiale geleenthede, stokperdjies, films, TV! Dit is sondig slegs omdat dit ons beroof van al ons tyd! Die gebedskamer is leeg! Die trane is weg – die ywer vir God se huis verdwyn! Dit is die werk van Babilon – wat God se kinders verlei weg van die altare af – om met hulle speelgoed te speel. Dit maak God se kinders behep met gemak, voorspoed en plesier. God se roeping op almal van ons, is om hierdie vleeslike, sensuele, sorgelose manier van lewe te laat staan – en terug te keer daarna om die Here met jou hele hart te soek

Jeremia kon sien dat Babilon God se kinders beroof het van hulle geloof en vertroue in die Here. Hy het geskryf, “’n Kudde verlore skape was my volk...hulle het hul lêplek vergeet...” (Jeremia 50:6). Hulle het ophou sing en juig in die hart – omdat hulle gedink het God het hulle verlaat:

“By die riviere van Babel, daar het ons gesit, ook geween... Aan die wilgerbome wat daarin is, het ons ons siters opgehang... Want daar het hulle wat ons as gevangenes weggevoer het, van ons die woorde van ’n lied gevra... Hoe sou ons die lied van die HERE kan sing in ’n vreemde land?” (Psalm 137:1-4).

Babilon het hulle moed gebreek! Hulle het hulle vreugde en blydskap verloor! Hulle het gesê, “Ons sal nooit weer sing nie!” Alles lyk so hopeloos. Dae het voortgesleep. “Sion,” het hulle getreur, “is deur God verlaat.” Hulle het na hulle hopelose toestand gekyk en gekla, “Ons God hoor nie – ons is verlaat soos weeskinders.”

O, heiliges van God! Verlaat die smart van Babilon! God het jou nie verlaat nie! Hy word bedroef deur diegene wat Hom beskuldig dat Hy hulle verlaat het! Moenie ophou sing nie! Jou grootste openbaring van God kan kom tydens ballingskap! Dit was by die Kebarrivier met al die harpe wat aan die wilgerbome gehang het en God se volk in ‘n toestand van verwarring en vrees was, dat God die vensters oopgemaak het met ‘n nuwe visioen. Eségiël het dit op die volgende manier opgeteken: “In die dertigste jaar, in die vierde maand, op die vyfde van die maand, toe ek onder die ballinge by die Kebarrivier was, is die hemele geopen en het ek gesigte van God gesien...” (Eségiël 1:1).

Dit is wat God gaan doen vir menigtes van sy kinders – hulle ballingskap verander in blydskap – en die vensters van die hemel oopmaak met ‘n heerlike nuwe visioen van God se heerlikheid!

God laat Babilon val – sodat Hy Sion kan oprig!

“Ú sal opstaan, U oor Sion ontferm; want dit is tyd om hom genadig te wees, want die bestemde tyd het gekom” (Psalm 102:14).

Sion is die ware kerk – heilig, vlekkeloos, sonder blaam, onberispelik in Sy oë! God het soewerein ‘n tyd bestem wanneer Hy Sion sal herstel. Daardie tyd het aangebreek!

“...omdat die HERE Sion opgebou het, in sy heerlikheid verskyn het...” (Psalm 102:16).

God breek af – net sodat Hy kan opbou! Op die as van uitgebrande ego’s – die as van valse drome en bankrot bedienings – sal Hy ‘n heerlike nuwe werk van die Gees oprig! Hy sal die oue afbreek om die nuwe op te bou. God gaan Sy heerlikheid openbaar – en die kinders van God gaan ‘n nuwe visioen van Sy heiligheid en reinheid ontvang!

‘n Herlewing van geregtigheid is aan die kom! “In dié dag sal Ek die vervalle hut van Dawid weer oprig, en Ek sal sy skeure toebou en sy puinhope herstel, en Ek sal dit opbou...” (Amos 9:11).

Die profeet Joël het hierdie dag van vergoeding sien kom! Hy het gesê, “Blaas die basuin op Sion, heilig ’n vasdag, roep ’n vergadering saam!” (Joël 2:15).

Ek kan vir jou vertel dat dwarsdeur die wêreld, hoor manne en vroue van God nou daardie basuingeskal. Hulle heilig hulleself voor God – en hulle ween tussen die voorportaal en die altaar. Hulle weet God is op die punt om Sy kerk te reinig – alles wat vals en vlees is neer te werp – en ‘n nuwe groot werk te doen. En hulle wil nie uitgelaat word nie!

God gaan Sion terugbring na die altaar!

Dawid impliseer dat daar so min aktiwiteit rondom God se altaar was dat die voëls hulle nes daar gemaak het – onverstoord: “Selfs vind...die swaweltjie ’n nes vir haar... naamlik u altare..” (Psalm 84:3).

Joël het uitgeroep, “Huil, dienaars van die altaar!” (Joël 1:13). Tussen die portaal waar die gemeente sit – en die altaar – is daar veronderstel om ‘n wenende man van God te wees! Hy moet “tussen die voorportaal en die altaar ween...” Hy moet ween oor die onvrugbaarheid van die altaar – omdat God sy seën weerhou het (Joël 2:17).

Wat ‘n asemrowende, heerlike profesie wat Johannes van die altaar gesien het! Hy voorspel vuur sal daarop val en die aarde laat bewe!

“En ’n ander engel het gekom en met ’n goue wierookbak by die altaar gaan staan, en baie reukwerk is aan hom gegee, om dit met die gebede van al die heiliges op die goue altaar voor die troon te lê en die rook van die reukwerk het met die gebede van die heiliges uit die hand van die engel opgegaan voor God. En die engel het die wierookbak geneem en dit met vuur van die altaar volgemaak en dit op die aarde gegooi; en daar het stemme gekom en donderslae en weerligte en aardbewing...” (Openbaring 8:1-5).

God neem tans die mates van Sy heilige altaar! Hy weet wie daar ween! Hy weet wie daar na God se teenwoordigheid smag!

“En ’n riet soos ’n stok is aan my gegee, en die engel het gestaan en gesê: Staan op en meet die tempel van God en die altaar en die wat daarin aanbid...” (Openbaring 11:1).

Ek praat nie van die houtreëling voor in die kerk nie! Dit is nie die altaar nie – glad nie! Die altaar is enige binnekamer – enige plek waar jy voor die Here neerval en Hom aanbid en vereer! Talle Christene verlaat nooit die kerk tensy hulle voor een of ander hout, opgestopte kniebankie met ‘n reëling gekniel het nie! Hulle gaan huistoe en sê, “Ek was by die altaar.” Vir talle, is dit net ‘n lewelose ritueel!

God gee ‘n vars openbaring van wat en waar die altaar is. Dit is in jou hart! Dit is ‘n altaar wat nie met hande gemaak is nie! Dit is ‘n geestelike plek – ‘n plek slegs bekend aan God en jy, waar die hart waarlik die Here aanbid en verheerlik! Dit is die Heilige Gees wat ‘n magtige altaar oprig in die harte van honger heiliges – wêreldwyd. Herbou jou altaar! Keer terug na daardie daaglikse, afgesonderde gemeenskap! Die Gees bearbei al God se kinders terug na Sy altaar toe!

Laastens, God gaan alle “blinkende dinge” wegneem – en dit vervang met ware rykdom van heiligheid. “En die vrugte wat jou siel begeer, het van jou gewyk, en al die blinkende en die skitterende dinge het van jou gewyk, en jy sal dit nooit weer kry nie...” (Openbaring 18:14).

Van watter ‘n “blinkende” evangelie hoor ons deesdae! ‘n Evangelie van goeters! Blinkend beteken “elegante dinge.” Johannes sê Babilon val – en al sy blinkende dinge daarmee saam! “Omdat in een uur soveel rykdom verwoes is..” (Openbaring 18:16).

Die heilige apostels word beveel om te juig omdat daar ‘n einde kom aan die begeerte na die dinge van hierdie wêreld – “Verbly jou oor haar, o hemel, en o heilige apostels en profete...Wee, wee....almal wat...deur haar kostelike skatte ryk geword het; want dit is in een uur verwoes!” Openbaring 18:19,20).

God lei nie Sy kerk in armoede in nie! Hy gaan die ware rykdom van Sy Evangelie openbaar – en uit sy mond hierdie heidense konsep van materialisme uitbraak!

Ou Broer “Praying Payson” het dit die beste gesê – “Dit is my gebed, dat as God enige wêreldse seën vir my in gedagte het, sou Hy bly wees om vir my Sy genade in plaas daarvan te gee, of dit in geestelike seën te verander.”

Babilon is besig om te val!

“Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie...” (Openbaring 18:4).