Restourasie

David Wilkerson

Die dae van die heidene is amper verby. God het vir ons genoeg waarskuwings gegee dat die Gees nie vir altyd teen die afvalliges sal stry nie. Maar voor hierdie geslag mee afgereken word deur almagtige God – word daar ‘n groot restourasie geprofeteer.

Die profete het voorspel dat die einde nie kan aanbreek totdat daar “’n Groot dag van die Here” gekom het nie. Joël het uitgeroep, “Die dag van die Here kom, want hy is naby” (Joël 2:1). Die hemele sal bewe voor die geluid van Sy stem, wanneer ons Here ontwaak om sataniese vestings neer te werp. “Nog een maal,” sê die Skrifte, “laat Hy nie alleen die aarde nie, maar ook die hemele bewe.” Dit is geen wonder dat die profete die luide basuine wou blaas en ‘n plegtige byeenkoms wou byeenroep.

Die profeet Joël is die boodskapper van hierdie groot belofte van die wederoprigting in die laaste dae. Hy het vooruitgesien, “Dan sal die dorsvloere vol koring wees en die parskuipe van mos en olie oorloop” (Joël 2:24). Hy het in sy profetiese gedagtes gesien hoe God se honger mense weereens “oorvloedig eet en versadig wees en die Naam van die HERE julle God prys wat wonderbaar met julle gehandel het.” Die skande oor God se huis was op die punt om opgehef te word (Joël 2:26).

Voor Joël beskryf het wat God op die punt was om te doen, het hy die kerk herinner: “Geweldig groot is sy leër, ja, magtig die uitvoerder van sy woord” (Joël 2:11). God is op die punt om Sy “groot en verskriklike dag” te laat plaasvind en niemand sal daarteen weerstand kan bied nie.

Hier is die belofte

“En Ek sal julle vergoed die jare wat die treksprinkaan, die voetganger, die kaalvreter en die afknyper verslind het — my groot leërmag wat Ek teen julle gestuur het...” (Joël 2:25).

Die psalmdigter, Dawid, het gesê die regverdiges sal “wees soos ’n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee...waarvan die blare nie verwelk nie...voorspoedig...” (Psalm 1:1-3). Maar daardie belofte is slegs vir diegene wat hulleself heeltemal afgeskei het van goddelose mense, en wat weier om te wandel in die weë van sondaars. Dit is slegs vir diegene wat toegewyde studente van God se Woord is, wat dit dag en nag oordink.

“Die goddelose is nie so nie,” het Dawid gesê. Hulle word swak en verwese, weggeblaas deur elke wind van lering. Die kompromiemakers is soos verlepte bome, siek en bederf deur elke denkbare soort wurm.

Dit is ‘n beeld van talle uitgesproke Christene in God se huis vandag. Hulle verwaarloos die lees van hulle Bybels; hulle word te besig om te bid en hulleself in die geloof op te bou; hulle skakel knus in by goddelose mense en neem hulle sitplek onder die spotters in.

Joël het uitgeroep, “Al die bome van die veld het verdor...” (Joël 1:12). Hierdie wenende profeet se hart was gebroke oor die jammerlike toestand van so baie in God se uitverkore volk. Die vyand was besig om die wingerd te vernietig. Die oes was besig om te vergaan. Die seën en blydskap van die Here was van Israel af weggestroop. Die vyand het baie dapper geword:

“...sy tande is leeutande, en dit kan byt soos ’n leeuin. Dit het my wingerdstok verwoes en my vyeboom versplinter; dit het ál sy bas afgeskil en weggegooi; die lote daarvan het wit geword...” (Joël 1:6-7).

Dink daaraan – ‘n bos waarvan die bas afgeskil was, wit gebleik van die pes. Watter beskrywende taal gebruik Joël – “verdwyn...weggedroog...verdor...verwelk...weg...voorraadkamers is verwoes...koring het verdor...’n vlam het die bome van die veld aan die brand gesteek.” Hy beskryf die geestelike toestand van die Laodicensiese kerk van die laaste dae.

Die sprinkane versprei

‘n Leër sprinkane is besig om aan die lewens van menigtes afvallige Christene te vreet. Uiterlik lyk hulle soos bome wat geplant is by lewende water – maar innerlik is hulle verdorwe, swak en siek. Hulle dra nie langer vrug nie! Hulle droog geestelik op.

Egskeiding is ‘n sprinkaan. So ook owerspel. So ook drank en dwelms. So ook wêreldgesindheid. So ook vuil televisie en vulgêre films. So ook biddeloosheid. So ook verwaarlosing van die Bybel. So ook skinder en rebellie en vrees en twyfel en wrokke dra. En die sprinkaan is besig om verwoesting te saai in God se huis, en dit laat so baie Christene gestroop en geestelik siek agter.

Die sprinkaan het sy verwoestende werk binne-in die bas van die boom gedoen. So gaan dit met sonde. Dit vreet dit binne-in diegene wat die teenwoordigheid van die Here verlaat het. Die sprinkaan val slegs die bome wat swak en ongesond is aan. Satan het ‘n bloeitydperk omdat hy weet hy kan Christene bykom wat geestelik swak en kwesbaar is. Dit verduidelik waarom daar soveel depressie en wanhoop is onder Christene vandag. Biddelose, halfhartige Christene het so swak geword, dat sonde hulle oorweldig het.

Joël was verontwaardig dat die vyand die opperhand sou kry. “o HERE, spaar u volk, en gee u erfdeel nie oor aan smaadheid, dat die nasies met hulle spot nie; waarom sou hulle onder die volke sê: Waar is hulle God? (Joël 2:17).

Dit het ook die gebed van my hart geword. Dit behoort die gebed te wees van al die heilige kinders van God. Ons behoort te ween, voor die Here neer te val en uit te roep, “Hoe lank, o Here, sal U toelaat dat die bedrog, die wêreldsheid, die egskeiding, die owerspel, die skynheiligheid – voortgaan in die heiligdom? Wanneer sal U optree om die hele gemeente wakker te maak en hulle tot bekering en heiligheid terug te bring? Waarom moet die vyand oor so baie van God se kinders loop? Doen nou iets, Here.”

Restourasiekrag kom

God gaan iets doen aan die geestelike agteruitgang. Hy gaan weer die huis van Dawid wat geval het, opbou. Hy gaan die treksprinkane en die voetgangers vernietig – en vergoed vir die skade wat gedoen was deur sonde. Watter heerlike beloftes is gegee aan elke kind van God! Op sy eie, deur Sy eie dekreet, het die Here belowe om restourasiekrag oor die kerk uit te stort.

“En Ek sal julle vergoed die jare wat die treksprinkaan, die voetganger, die kaalvreter en die afknyper verslind het...” (Joël 2:25).

God kan nie al die skade uitwis wat deur ons hedendaagse afvalligheid en goddeloosheid gedoen is nie, maar Hy kan – en sal – ‘n nuwe begin maak. Ek sê vir jou, in die Gees – ons is nou reeds besig om hierdie voorspelde Nuwe Begin te beleef. Laat die bedienaars van die Here vas en ween – hulle bekeer van hul sondes – en hard uitroep dat ons Here weer na Sy tempel sal terugkeer om dit te reinig en te suiwer – en te herstel!

Ek het nog nooit geglo dat ons Here niks sal doen en toelaat dat ‘n stortvloed van owerspel, alkohol, dwelms en goddeloosheid ons huise opbreek en ‘n hele geslag jongmense eis nie. Verstaan julle nie, heiliges – sonder hierdie soewereine daad van God van herstel en genesing, is hierdie geslag verlore! Ek en jy beter dit glo! Julle kinders het te doen met ‘n woedende duiwel wat hulle wil verdrink in ‘n stroom van promisku seks, alkohol, dwelms, en rebellie. Dit is ‘n bonatuurlike, demoniese, laaste-loopgraaf, voorbereide Satan omdat hy weet dat sy tyd kort is. Ek sê vir jou, God sal nie toelaat dat Satan ons jeug vernietig nie. God is op die punt om ‘n nuwe ding te doen.

God is op die punt om iets te doen aan die pandemiese egskeidingstempo, selfs onder bedienaars. God gaan iets doen omtrent die vrees, depressie en eensaamheid wat toeneem dwarsdeur Sy koninkryk. Ons almagtige God skud Homself soos een wat wakker word en Hy begin teen die vyand te brul. Dit is asof Hy Satan, die wêreld en die hele mensdom kennis gegee het – “Ek sal opstaan – Ek sal Sion seën – Ek sal alles skud – Ek sal herstel!”

Restourasie deur Bybelse waarheid

God het vir ons gesê hoe Hy hierdie groot restourasie gaan bewerkstellig. Eerstens, sal Hy sy Heilige Gees uitstort op so ‘n oorvloedige manier, dat dit gesondheid en sterkte sal terugbring na al die bome in Sy bos. Die sprinkaan van sonde sal sy krag begin verloor soos God se kinders terugkeer daarna om Bybel te lees. ‘n Kragtige openbaring van die Here se Nuwe Verbond sal God se kinders so dapper soos leeus maak. Ja – glo dit – ‘n herlewing van geestelike krag en goddelike gesondheid gaan uitgestort word uit die hoogte. ‘n Nuwe klem op in diepte Bybelstudie is reeds in werking in die land. Hierdie hernude dors na God se Woord is deur God bestem om die stroom van krag en sterkte te wees wat ‘n herstel van geloof en geestelike krag sal meebring.

God het gesê dat Hy weereens Sy Swaard in die hande van Sy geliefdes sal plaas. Die kerk gaan heelhartig terugkeer na die Woord van God – terug na eerlike Bybelprediking en God se kinders gaan weereens die krag ontdek wat beskikbaar is om elke sataniese vesting neer te werp. Weg nou met die ligsinninge, oppervlakkige prediking van God se Woord! Weg met die cliche’s, die stories, die hoofopskrifte – en terug na die verkondiging van slegs die Heilige Woord.

Heiliges – leer die Woord ken! Restourasiekrag is aan jou belowe! Jou huis kan genees word. God kan blydskap, vrede en heerlike oorwinning aan jou teruggee – deur die krag van Sy Woord.

Die Gees en krag van Elia

Daar is nog nog ‘n groot en kosbare belofte aan ons gegee waardeur God ons sal herstel. Die profeet Maleági het die goeie nuus gebring. Die Ou Testament sluit af met hierdie heerlike profesie -

“Kyk, Ek stuur julle die profeet Elía voordat die groot en vreeslike dag van die HERE aanbreek. En hy sal die hart van die vaders terugbring tot die kinders, en die hart van die kinders tot hulle vaders, sodat Ek nie hoef te kom en die land met die banvloek tref nie...” (Maleági 4:5-6).

Is dit waar wat Jesus vir Johannes gesê het, “En as julle dit wil aanneem: hy is Elia wat sou kom...” (Matthéüs 11:14). Wat Christus in wese gesê is dit: “Johannes die Doper het die gees van Elia op hom – as julle dit net kon sien.” Ons word vertel dat die engel van die Here vir Sagaría geprofeteer het sy seun Johannes sou “voor Hom uit gaan in die gees en die krag van Elía, om die harte van die vaders terug te bring tot die kinders en die ongehoorsames tot die gesindheid van die regverdiges, om vir die Here ’n toegeruste volk te berei...” (Lukas 1:17).

Ek glo Maleági se profesie is ook vir ons vandag. Ek glo dat God weereens op baie van Sy uitverkore dienaars die gees en krag van Elia gaan uitstort. En hierdie manne en vroue van God gaan magtig gebruik word om ‘n herstel in families te bewerkstellig. Egskeiding sal gekanselleer word! Kinders sal oortuig word van hulle rebellie en tot liefde vir hulle ouers herstel word. Genesing vir ons families word duidelik voorspel.

Hierdie profesie word voor ons oë vervul – op hierdie oomblik. Onlangs, in ‘n Texas dorp, het ‘n beskeie jong herder begin bid vir die redding van die jeug in die plaaslike skole. God het daardie dinamiese gees en krag van Elia op hom geplaas. Nie net het honderde in sy plaaslike skool gered geraak nie – die restourasie versprei ook na al skole waarheen hy gaan. Nie honderde nie – maar duisende hoërskoolleerlinge word oortuig van die sonde van dwelms, alkohol, seks en rebellie. In my eie byeenkomste, is dit iets om te aanskou. Jongmense haas hulle van ons uitreike af huistoe om “op te maak” met hulle ouers. Hulle het diepe haat bely. Maar nou huil hulle! Hulle bekeer hulle! En dit sal versprei dwarsdeur die land! Omdat God beloof het om ouers en kinders te versoen. Dwelmsmouses – pasop! Daggarokers en drinkers – pasop! Die Heilige Gees neem oor – en ‘n leër van Elia-tipe tieners gaan hulle skole vir God opeis.

Ek is so opgewonde dat ek skaars hierdie woorde kan skryf – oor wat ek sien kom! Onbekende, beskeie, nederige jong manne en vroue van God word bonatuurlik aangeraak, gesalf – en hulle is ‘n bonatuurlike sending gegee. Hulle word beveel – “Gaan uit – en gaan herstel! Want die dag van die Here het aangebreek. Die sprinkane van dwelms en alkohol word nie langer toegelaat om te vreet aan die lewens van die jeug nie. God sal die sprinkane vernietig.”

Die laaste uitstorting

Die uitstorting van Heilige Gees volg op restourasie, volgens Joël. God moet Sy kinders herstel en genees om hulle voor te berei vir die wonderwerke en wonders wat gereed is om plaas te vind.

Ek weet baie sal nie aanvaar wat ek nou gaan sê nie – maar baie sal wel. Ek glo nie ons het al die uitstorting van die Heilige Gees in al sy heerlikheid en volheid beleef soos deur Joël geprofeteer is nie. Wat ons beleef het, is net ‘n paar druppels! Ons is net ‘n voorsmakie gegee. Ons het ‘n wêreldwye charismatiese vernuwing gehad. Protestante en Katolieke getuig beide nou dat hulle deur die Heilige Gees gedoop is. Liefde het baie bymekaar uitgebring. Dit is ‘n belewenis wat wêreldwyd gedeel word. Tog is dit net ‘n voorsmakie.

God sal nie toelaat dat enigiets dit, wat Hy beplan om te doen, keer nie! Die vyand is in vir ‘n verrassing. Net as dit lyk of die kerk oorstroom gaan word deur ‘n sataniese vloed – sal die Gees ‘n standaard oplig, en jy sal verstaan wat God op die punt is om te doen! Die standaad is ‘n heilige volk, rein, onbesmet, verlos van die verdorwenheid wat in die wêreld is. Daardie standaard is ‘n nuwe geslag van geheiligde Christene, wat sal skyn soos ligte te midde van ‘n goddelose en verdraaide geslag. Dit sal nie net ‘n vernuwing van liefde en lofprysing wees nie. Dit sal ‘n restourasie wees van heiligheid aan die Here!

Die charismatiese vernuwing moet nou begin vloei in die restourasie stroom van heiligheid en reinheid – of uitgelaat word van dit wat God gaan doen.

Daar sal steeds ‘n gejubel en lofprysing wees – maar dit sal die geroep van oorwinning oor sonde en kompromie wees. Dit vervul tot die letter die doel van die laaste uitstorting – “En elkeen wat die Naam van die HERE aanroep, sal gered word...” (Joël 2:32). Gered van wat? Van sonde! Van die gees van die wêreld!

Ons het nog nie die volheid van die Gees se uitstorting gehad totdat ons sien dat gedoopte mense hulleself volkome afsonder van die wêreld nie. Daar moet ‘n klem kom op afsondering en reinheid van hart. Die doel van die Gees se koms is om ‘n volk vir die Here se wederkoms te reinig en gereed te maak. Hy kom vir diegene wat sonder smet of rimpel is.

Watter soort doping laat soveel knusheid met die wêreld toe – soos wat ons sien by diegene wat aanspraak maak dat hulle met die Gees vervul is? Waar is die hart wat soek, wat ween, wat vas, die las vir verlore siele, die hartverskeurende geroep vir heiligheid en reinheid?

Wanneer die volheid van die Gees se uitstorting op alle vlees kom – sal ons oortuiging van sonde oral sien. “Hy sal die wêreld oortuig van sonde...oordeel en geregtigheid” – dit is die uitstorting van die Heilige Gees.

Dit is tragies dat te veel mense in tale praat en dan leef soos die duiwel. Sonde was nooit ontwortel nie. Al wat hulle ontvang het, was ‘n belewenis van ekstase. God het hulle geseën met net genoeg om hulle tot ‘n dieper lewe van oorgawe en heiligheid te roep. Maar hulle het gestop en rondgegaan en gesê – “Ek het die Heilige Gees gekry.”

O – daar is soveel meer. Ek dank God vir die voorreg om te bid in ‘n onbekende taal – dit is my manier om al die opgekropte lofsange tot God te laat uitkom in ‘n kommunikasie bokant my begrip. Maar jy kan in tale van mense en selfs engele praat – en steeds niks ontvang sonder liefde nie. Maar ek sê dit gaan selfs dieper. Jy is nie waarlik gedoop met die Heilige Gees totdat elke verborge deel van jou siel geopenbaar is nie – en elke sonde bely en laat staan is nie.

Ek luister nie na mense wat rondgaan en mense vertel hoe om die Heilige Gees te ontvang – terwyl hulle hul vroue verlaat en dan aangaan met iemand anders nie. Ander spreek in tale en doop hulleself dan in bier, wyn en selfs whiskey. Dit gaan nie meer gebeur nie, mense!

God gaan Sy kerk skoonmaak. Hy gaan ‘n gees van oortuiging van sonde uitstort soos nog niks wat die wêreld al ooit gesien het nie. Dit sal nie net ons kerke aanraak nie, maar hoërskole, kolleges en oral waar mense byeenkom. Die gees uitgestort op alle vlees beteken – oortuiging van sonde en ‘n honger na geregtigheid – op almal.

Bring net een volle dag in gebed en vas deur – afgesonder met God en jou Bybel – en jy sal hierdie boodskap verstaan. Jy sal ook begin om die restourasie van jou siel, gees, huwelik en familie te beleef.

Vra Hom om al jou sprinkane te vernietig.